DIE AFRIKANER IN 'N DOODLOOP- STRAAT

Koos Bester

Daar word sedert die tagtigerjare gepraat van 'n grafskrif vir die Afrikanervolk. Mense is bereid om die Afrikanervolk dood te verklaar, ook vele wat uit die Afrikanervolk self voortgekom het.  Dit is gelukkig geen mens of menslike instansie se taak om 'n volk lewend of dood te verklaar nie. Hierdie gewigtige saak is slegs die Allerhoogste beskore, Hy wat volkere en nasies in aansyn roep.

Ons is as Afrikaners nog lank voor 1994 betrokke by 'n verklaarde derde vryheidstryd. Hierdie stryd is op 20 Mei 1990 op Monumentkoppie in Pretoria by wyse van 'n plegtige onderneming en 'n gebed verklaar. 'n Beter aansporing tot omgording vir die stryd bestaan daar nie.

Was u daar?

Kan u u vandag met daardie onderneming vereenselwig?

Daardie plegtige onderneming, verwoord deur dr AP Treurnicht, het só gelui:

"Ons wat as verteenwoordigers van ons volk op 26 Mei 1990 hier op Monumentkoppie vergader is, in 'n gees van ootmoedige afhanklikheid van die Here, van toewyding aan Hom, met kinderlike geloof in sy almag en sy wyse voorsienigheid...

Ons wat die gees van samebinding en eendrag en geroepenheid van ons volk ervaar...

Ons glo dat ons 'n regverdige aanspraak op aparte, vrye voortbestaan het.

Ons eis erkenning van ons reg om onsself te regeer in ons eie vaderland. Ons onderneem dat ons nie sal berus in die dreigende vernietiging van ons volk se vryheid nie maar dat ons sal voortgaan om te veg om te herwin wat reeds onregmatig prysgegee is. Ons sal ons beywer vir goedgesindheid, vrede en regverdigheid teenoor alle volke. Ons sal daarna strewe om volgens die sedelike maatstawwe van die Bybel te lewe.

Ons onderneem plegtig teenoor die Here en teenoor mekaar: Ons sal 'n volk van die Here wees. Ons sal ons kinders en kindskinders opwek om hierin een met ons te wees ,as knegte van die Allerhoogste – teen die hele wêreld vry – 'n Christelike, vrye volk in ons eie vaderland.

As u dit met my eens is, as u bereid is om hierdie onderneming te gee, vra ek u om nou hardop saam met my te sê: 'Ek onderneem.'

En nou vra ek u, gaan en mobiliseer u volk op elke terrein, 'n omvattende volksaksie, om op elke terrein van die lewe 'n volwaardige vrye volk te wees. Ek gaan nou voort met 'n kort afsluitingsgebed:

Here, onse God, groot en onsagwekkend, genadig en barmhartig! Laat die genade van onse Here Jesus Christus met ons wees. Die genade wat 'n mens in sy verlorenheid raaksien en hom uitred; wat die skeiding en vervreemding van 'n sondaar oorbrug met die versoening van u kruis- en soendood. Die genade wat 'n nikswerdlewe omskep tot diensbaarheid en wat uit elke volk u uitverkorenes roep en versamel saam met die volk van God van oor die hele aarde. Die genade wat ons tot kinders van God bring en aan ons die ewige lewe gee. Laat dié genade met ons wees.

Laat die liefde van God ons Vader met ons wees. Die liefde wat deur niemand opgewek of verwerf word nie. Die liefde wat daar in u Oë was toe U ons soos die verlore seun van veraf met deernis raakgesien het. Die liefde van die Verbondsgod wat duur tot in ewigheid. Die liefde wat dag vir dag hand aan hand loop met die vergiffenis deur en deur, die liefde wat 'n berouvolle mens en 'n volk terug ontvang en omskep tot diensknegte van die Allerhoogste.

Laat die gemeenskap van die Heilige Gees met ons wees. Die Gees  wat werk en niemand kan dit keer of ongedaan maak nie. U Gees wat ons vernuwe en herskep na die beeld van ons Verlosser, wat ons genees van die ontaarding, wat ons terugbring uit ons verdwaling, wat in ons werk die vrug van die liefde, die blydskap, die vrede, lankmoedigheid en sagmoedigheid, goedheid, getrouheid, vriendelikheid en selfbeheersing.

O Here, onse Here. Laat nooit vaar die werke van u Hande nie! Verstoot en verwerp ons nie tot nutteloosheid, onbekeerlikheid en 'n aanstoot onder die volke nie. Maak ons 'n getuienisvolk in wie die werking van u genade, u liefde en gemeenskap gesien kan word.

Gaan nou met elkeen hier teenwoordig, in die Naam van die enigste Middelaar, Jesus Christus onse Here. Amen."

Is daar nog 'n volk wat in so 'n gesindheid 'n vryheidstryd mag stry?