Dr Juanita Erasmus
Lees reeks by Om ouer te wees
Vroeër het ouers eenvoudig kinders gehad sonder om ooit daaraan te dink of hulle hul regtig wou hê; of hulle goeie ouers sou wees en of daar moontlik 'n ander alternatief was. Vandag weet ons dat sommige ouers nie goeie ouers is nie. Die biologiese vermoë om voort te plant, lei nie outomaties tot effektiewe ouerskap nie.
Waarom al die klem op goeie ouerskap? Sommige mense glo dat 'n kind in elk geval op 'n bepaalde manier gaan ontwikkel, ongeag die behandeling wat hy kry. 'n Mens hoor dikwels die opmerking: "Ek het baie pak gekry toe ek klein was en daar is niks fout met my nie."
Die waarheid is egter dat ons vandag baie meer bewus is van die oorsaaklike verband tussen ouerskap en die wyse waarop ons as volwassenes oor onsself voel. Die persoon in die voorbeeld hierbo het dalk swak gesondheid of ly dalk aan stres, maar hy sien nie die verband tussen sy toestand en die wyse waarop hy as kind behandel is nie. 'n Kind wat met minagting behandel is mag eendag 'onverklaarbare' gevoelens van waardeloosheid, bitterheid, vervreemding of ondoeltreffendheid ervaar.
Beteken dit dat ons as ouers opgelei behoort te word?
Sal 'n graad in Sielkunde of die lees van 'n sekere aantal boeke oor kinderopvoeding ons in staat stel om goeie ouers te wees? Beslis nie. Hoewel 'n studie van die onderwerp sekerlik tot 'n mate van insig in kindergedrag en ontwikkelingstadia kan lei, kan 'n mens etlike grade op hierdie gebied verwerf en nog steeds jou kind benadeel deur nie 'n goeie ouer te wees nie.
Wat hét 'n mens dan nodig om 'n goeie ouer te wees?
Ten eerste moet die besluit om kinders te hê op die regte oorwegings berus. Dit is byvoorbeeld onvergeeflik om 'n kind te hê in die hoop dat sy koms 'n wankelende huwelik sal red. 'n Kind mag ook nie beplan word om jou manlikheid of vroulikheid te bewys of om die emosionele warmte wat 'n mens as kind self ontbeer het, te voorsien nie. Soos Janov sê: "How a child is going to be treated may already be predestined in the planning stage."
'n Verdere misplaaste oorweging is wanneer die klem op die ouer se behoefte val. Hy of sy wil 'n kind hê om hom of haar beter te laat voel. Wanneer die kind dan ontwikkel en geleidelik van die ouer begin wegbeweeg, kan die ouer onbewustelik bedreig voel. Hy probeer dan net harder om die kind op 'n sekere manier te laat optree ten einde sy eie behoefte te bevredig. Dink byvoorbeeld aan die koliekbaba wat aanhoudend huil. Omdat die baba beplan is om die ma te laat voel dat sy haar vroulike rol vervul, mag sy aanhoudende gehuil haar laat voel dat sy as moeder misluk het. Dit klink onregverdig maar sy sal die kind onbewustelik blameer vir sy gebrek aan samewerking!
Wat is dan die regte rede om 'n kind te wil hê?
Ons behoort 'n kind te wil hê ter wille van die kind. Hy gaan 'n unieke menslike wese wees en die ouers is daar om 'n liefdevolle en koesterende atmosfeer te skep waarin die kind kan ontluik en in sy eie rigting kan ontwikkel. Soos die bekende Kahlil Gibran gesê het:
You may give them your love but not your thoughts,
for they have their own thoughts. You may house
their bodies but not their souls.
For their souls dwell in the house
of tomorrow, which you cannot visit,
not even in your dreams.
"On children", The Prophet, 1923.
Wat van meer spesifieke riglyne?
Daar is geen resep vir goeie ouerskap nie. Wat belangrik is, is 'n mens se houding eerder as jou kennis. As jy jou kind as 'n waardevolle mensekind beskou en nie as 'n primitiewe wese wat voortdurend gestraf en tereggewys moet word ten einde aanvaarbaar te wees nie, doen jy die regte ding. Luister na jou diepste gevoelens, hulle sal jou lei.
Terwyl die moeder haar kind verwag is dit vanselfsprekend dat sy haar bes sal doen om haar ongebore kind se belangrike eerste omgewing so aangenaam en veilig moontlik te maak. Ons behoort vanself te weet dat genoeg rus, gesonde eetgewoontes, matige oefening, vermyding van rook, drank en dwelms, 'n positiewe invloed op beide ma en kind sal hê.
Dit maak ook sin om die geboorteproses so natuurlik moontlik te laat geskied. Die natuur is gewoonlik 'n beter leermeester as enige handboek. As binding so belangrik is by diere en dat sogenaamde primitiewe mense nooit hulle kinders net na geboorte van hulle laat wegneem nie, hoekom sal dit minder belangrik vir ons wees? Ek dink u begin die strekking van my woorde volg en u sal verder saamstem dat borsvoeding en nabyheid aan die moeder vanaf geboorte baie belangrik is.
Bevrediging van behoeftes
Dis nie nodig om te wanhoop as probleme wat buite 'n mens se beheer is (soos keisersnitte en die onvermoë om te borsvoed) opduik nie. Wat belangrik is, is om net jou bes te doen en sover moontlik na die kind se behoeftes om te sien. Daar word nog nie algemeen besef dat 'n mens se beskikbaarheid vir jou kinders terwyl hulle baie klein is, hul latere onafhanklikwording geweldig vergemaklik nie. En tog maak dit ook sin. As die baba nie telkens vir kos of aandag hoef te huil nie, sal hy reeds heel vroeg 'n gevoel van welbehae begin ontwikkel. Dit is die basis van goed voel oor jouself – wanneer jou behoeftes bevredig word.
Om te moet wag vir kos wanneer hy honger is, skep by die baba 'n gevoel van paniek. Hy het nog nie die vermoë om gebeure te kan voorsien, soos dat hy wel gevoed sal word nie. Om weg te wees van sy ma, om alleen te moet huil – dit alles registreer as pyn en verlatenheid en dit lê die basis vir latere wantroue en gevoelens van waardeloosheid.
Stimulasie
Namate die kind ouer word, is daar meer behoeftes om na om te sien soos byvoorbeeld dié aan stimulasie en beweging. Interaksie met sy gesin en die kleurvolle wêreld rondom hom sal hom help om 'n belangstellende en betrokke mensekind te word. Duur speelgoed is nie nodig nie, dit is belangriker vir hom om deel te hê aan die familie se lag en gesels en teenwoordigheid.
Dit is ook moontlik om 'n kind te oorstimuleer deur hom byvoorbeeld op en af te wip terwyl hy moeg is, of om hom te oorweldig met speelgoed en boeke wanneer hy ouer is. 'n Mens sal weet wanneer dit te veel raak deur in noue kontak met die kind te bly sodat jy jou eie behoeftes van syne kan skei. Hierdie 'sien' wat goed of sleg is vir hom en wat aan sy behoeftes voldoen, is uiters belangrik. Dit sal die ouer se gids wees op 'n wyse waarop boeke dit nooit kan wees nie. Dit impliseer 'n noue verbondenheid met die kind sodat ons die leidrade kan vind wat sy werklike behoeftes sal uitwys – in teenstelling met wat jy graag sal wil hê hy moet nodig hê.
Werklike en onwerklike behoeftes
Goeie ouerskap is sinoniem met ingestel wees op jou kind se behoeftes. Hoe weet ons egter wat die kind se behoeftes is? 'n Belangrike wegwyser is om te onderskei tussen werklike en onwerklike (substituut-) behoeftes. 'n Kind wat skree oor 'n duur speelding in die winkel het nie 'n werklike behoefte nie. Die kind wat huil as sy ma hom by die huis agterlaat openbaar 'n werklike behoefte.
In die eerste geval is die begeerte na die speelding waarskynlik simbolies van 'n soeke na aandag of 'n plaasvervanger daarvoor. Die kind het sy ouers se liefde en aandag nodig maar hulle is te besig om dit vir hom te gee. Of dalk besef hulle nie hoe nodig hy dit het nie. Hulle beloon hom egter met geskenke. In sy klein koppie word die geskenk of ander materiële beloning nou sinoniem met die liefde wat hy nodig het ('n werklike behoefte) en hy huil vir die speelding ('n onwerklike behoefte).
In die tweede voorbeeld wys die kind sy werklike behoefte om by sy ma te wil wees. Sy mag dalk nie daarvan hou nie want dit laat haar skuldig voel, maar dit maak haar kind se behoefte nie minder werklik nie.
Hoe onderskei ons tussen werklike en onwerklike behoeftes?
As ons ons eie vrese, wense en verwagtings skei van ons kind kan ons hom met helder oë en oop ore benader. Ons sal nou kan sien wat hy werklik nodig het en wat vir hom pynlik is. Gewoonlik wanneer 'n kind skree of kerm oor iets onwerkliks, word hy as irriterend, ontevrede en selfs bedorwe beskou. In kontras hiermee kan 'n mens die werklike pyn in 'n kind sien as 'n werklike behoefte nie bevredig word nie.
Dit is nie altyd maklik om te onderskei tussen werklike en onwerklike behoeftes nie omdat ons as ouers nie volmaak is nie. Ons het self onvervulde behoeftes en ons dra ook pynlike gevoelens in ons rond. Dit neig om ons 'n bietjie blind te maak as ons na ons kinders kyk. 'n Voorbeeld is die pa na wie daar nooit geluister is toe hy 'n kind was nie. Hy is geïgnoreer of deur sy ouers gekritiseer wanneer hy iets wou hê. Noudat hy self pa is vind hy dit moeilik om na sy eie seun te luister. Hy wil nou die praatwerk doen omdat hy rondloop met die onbevredigde behoefte om na geluister te word. Hy het dit so nodig om uiteindelik te kan belangrik voel dat hy blind is vir die kind se behoeftes.
Is daar iets wat 'n mens kan doen as jy met so 'n las uit jou verlede rondloop?
Gelukkig is daar. Deur eerlik en bewus te wees van jou eie onbevredigde behoeftes, kan jy verhoed dat dieselfde bose kringloop weer ontstaan. Veronderstel jou kind is bang in die middel van die nag en jy kan teenoor jouself erken dat dit jou irriteer. Toe jy 'n kind was, was daar niemand wat na jou gehuil geluister het nie. Nou kan jy egter vir jouself sê: ja, maar dit is my kind en ek kan sien hy is bang en ek gaan by hom bly. Jy gaan dit nie altyd regkry nie want as 'n mens baie moeg of gespanne is, gaan jy makliker reageer volgens jou eie behoeftes en die kind s'n ignoreer. Nietemin probeer 'n mens altyd weer en deur eerlik te wees, gee jy jou kind 'n beter kans as wat jy moontlik self gehad het.
In die opvolgende artikels sal ek verskillende kwessies bespreek soos sakgeld, vryetydsbesteding of die rol van kompetisie. Soms maak ek wel sekere voorstelle, maar die bedoeling is nooit om 'resepte' vir ouerwees te gee nie. In hierdie inleiding het ek probeer wys dat resepte nie werk nie. Dit is ons houding en die gevoelens wat ons aan die kind oordra wat belangrik is.
As ons basies ons kinders aanvaar en liefhet en respekteer as unieke menslike wesens, het ons nie resepte nodig nie. Ons sal weet wat die regte ding is om te doen. Ons sal dit kan doen omdat ons regtig na die kind sal kan kyk en sien dat 'n sekere handeling vir hom pynlik is of dat 'n bepaalde optrede te veel van hom verwag.
Ek sluit hierdie gedeelte af met die volgende aanhaling van Alice Miller:
"People whose integrity has not been damaged in childhood, who were protected, respedted, and treated with honesty by their parents, will be – both in their youth and adulthood – intelligent, responsive, empathic, and highly sensitive. They will take pleasure in life and will not feel any need to kill or even hurt orthers or themselves. They will use their power to defend themselves but not attack others. They will not be able to do otherwise than to respect and protect those weaher than themselves, including their children, because this is what they have learned from their own experience and because it is THIS knowledgde (and not the experience of cruelty) that has been stored up inside them from the beginning." (Miller, 1986.)
Opvoeding tot onafhanklikheid ... vervolg