OM OUER TE WEES (3)

Dr Juanita Erasmus

Lees reeks by Om ouer te wees

As ouer speel ons 'n belangrike rol in die ontwikkeling van ons kinders se verhouding met die buitewêreld. Ons dien as't ware as skakel en as gids vir daardie wêreld. Hoe óns dit benader sal in 'n groot mate bepaal hoe ons kinders dit gaan benader.

Nou weet ons almal hoeveel gevare en boosheid daarbuite skuil en ons wil ons kinders daarteen beskerm en met die nodige waarskuwing daarop voorberei. Aan die ander kant is daar uitdagings wat wag en is daar soveel interessante moontlikhede wat ontgin kan word. Ons moet dus 'n balans handhaaf: aan die een kant moet ons kind versigtig wees, maar aan die ander kant moet hy kan uitbeweeg en vra en kyk en die buitewêreld verken sodat hy 'n ryk en vol lewe kan lei.

Hoe doen ons dit?
Eintlik hoef die ouer nie vreeslike opleiding en voorbereiding te ontvang om sy kind as't ware aan die wêreld voor te stel nie. Hy kan na sy kind kyk en sien wat die behoefte daar is. 'n Klein kindjie is geweldig entoesiasties oor die dinge rondkom hom. Hy kyk rond en hy vat en hy vra en daar is 'n wonderbaarlike hoeveelheid vreugde en entoesiasme en nuuskierigheid teenwoordig.

"Kom kyk hierdie goggatjie, Mamma!" "Wat is hierdie ding op die rak, Pappa?" Die handjies reik uit en die ogies blink. Die wêreld is 'n wonderlike bron van nuwe sensasies en gewaarwordinge.

Maar hoe reageer ons so dikwels op sy ontdekkingsdrang?
"Wag, los nou, ek is haastig."  "Móét jy aan alles vat wat jy sien?" "Ek het nie nou tyd nie, ek sal dit anderdag verduidelik."

Hiermee trek ons 'n gordyn voor die wêreld vir ons kind. Mettertyd verdwyn sy entoesiasme en later vra hy nie meer nie. Uiteindelik hoor ons opmerkings soos "Ek is verveeld" en "Daar is niks om te doen nie".

Hoe kan ons hierdie gordyn oophou?

  • Luister. Ons moet kan hoor hoeveel entoesiasme en vreugde daar in sy ontdekkings is. Ons moet tyd maak om te luister sodat ons ontspanne en werklik belangstellend kan luister. "Ja, is dit nie mooi nie, my kind! Tel 'n bietjie hoeveel pootjies het die goggatjie. Sal ons kyk of dit 'n vlieg-goggatjie is?" Die belangriker om te kan luister as om die huis aan die kant te maak of 'n koek te bak of die kar se radio reg te maak.
  • Terugvoer. Ons moet vir ons kind kan sê ons sien waaroor hy so opgewonde is; ons kan dit verstaan. Om net maar te bly "ja, ja" antwoord, gaan nie veel help nie; 'n mens kan nie 'n kind bluf nie. Kyk na die voorbeeld hierbo. Die antwoord toon duidelik die ouer se eie entoesiasme en betrokkenheid, wat 'n uitstekende terugvoering vir die kind is.
  • Beskikbaar wees. Ons as ouers moet ons prioriteite reg hê sodat ons weet wat die belangrikste is. As ons die beste vir ons kind wil hê – en wie van ons wil nie? – moet ons ons 'grootmensdinge' eenkant toe kan skuif om in ons kind se lewe te kan deel. Ons is die belangrikste mense in sy lewe terwyl hy so klein is en daarom is ons beskikbaarheid en betrokkenheid so belangrik. Dit is so dat ons in 'n baie gejaagde en vol lewe staan maar ons móét eenvoudig tyd maak vir die eenvoudige, klein dingetjies wat vir ons kind waarde het. Dit mag dalk vir die volwassene lyk na onbenullig en klein, maar om die kind se entoesiasme te behou, moet ons daaraan aandag gee.
  • Sommige ouers glo verkeerdelik dat hulle entoesiasme by 'n kind kan kweek deur hom te oorlaai met allerlei opvoedkundige speelgoed en speletjies met gesofistikeerde en duur masjientjies. Dis egter gewoonlik die volwassene se opvatting en as ons kyk na die kind, sien ons iets heel anders. Sy betrokkenheid en lewensvreugde begin met die natuur – die dinge daarbuite. Laat ons dit te alle tyde aanmoedig en ondersteun. Oplaas leer ons self iets groots van ons kinders!