Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volksverraad - die boek
STIGTING VAN DIE BURO VIR STAATSVEILIGHEID
Vorster het genl. van den Bergh op 23 Augustus 1968 versoek om 'n intelligensie-organisasie te stig. Van der Bergh word na die VSA (5-13 Julie 1969) toe gestuur om deur die CIA ingelig en opgelei te word en gehelp te word om 'n derglike organisasie vir die Republiek voor te berei. Sodoende is die Buro vir Staatsveiligheid op 1 Mei 1969 tot stand gebring om alle sake wat staatsveiligheid raak te ondersoek.
Met die totstandkoming van die Buro vir Staatsveiligheid was lede van die Republikeinse Inligtingsdiens in die Buro opgeneem en het die Republikeinse Inligtingsdiens opgehou funksioneer. Met die totstandkoming van die Buro vir Staatsveiligheid het Suid-Afrika nie net 'n uitgebreide spioenasiediens gekry nie, maar in werklikheid 'n regering binne 'n regering wat in die geheim en met ontsettende magte die gang van sake in Suid-Afrika onherkenbaar sou verander.
Die departement het direk onder die toesig van Vorster geval en Van den Bergh was Vorster se mentor. Sedertdien tot en met 1975/76 was Van den Bergh die invloedrykste persoon in Suid-Afrika. Sommige het hom beskryf as 'die man agterdie troon' . Derhalwe kon die CIA Vorster deur Van den Bergh manipuleer.
Persoonlikheidsprofiel van Hendrik van den Bergh
Hy was 'n uiters bekwame polisieman; baie ambisieus; 'n akteur uitgeknip vir die rol wat hy vir homself ingedagte gehad het. Hy was 'n man wat van die kalklig gehou het en, volgens amptenare van ander dienste het hy nie geskroom om dit van ander te steel nie. Hy was lief vir mag. Teenoor die pers was hy vriendelik, behalwe met diegene wat na sy organisasie as Boss verwys het.Wat die politiek betref, het Van den Bergh nooit die indruk van groot belesenheid en diepe denke gewek nie. Dit is te betwyfel of hy werklik die wese van die linkse aanslag verstaan het.
Begrotinggewys het Militere Inligting tweede gekom en het daar 'n vyandige gaping tussen die Buro vir Staatsveiligheid en Afdeling Militêre Inligting ontwikkel. Die interaksie tussen die CIA en die Buro vir Staatsveiligheid, wat van meet af ontstaan het, het bygedra dat instansies mekaar beïnvloed het om hulle inligtingsprent betreffende Suidelike Afrika tot dieselfde veronderstellings af te lei. Dit het in 1969 tot 'n groot mate in Henry Kissinger se National Security Study Memorandum 39 gereflekteer. Die geheime verslag het die volgende uitgangspunt geuiter: "the whites are (in Southern Africa) to stay and the only way about is through them. There is no hope for blacks to gain the political rights they seek through violence, which will only lead to chaos and increased opportunities for the Communists." Hierdie was vertrekpunt 16, die grondslag vir die strategie van "detente ". Hierdie verslag het dan ook in daardie stadium as riglyn vir die VSA se beleid jeens Suidelike Afrika gedien. Dit het op CIA verslae gesteun wat op hulle beurt weer op data wat deur die Buro vir Staatsveiligheid aan die CIA verskaf is, gesteun het. Dit bevat 'n spektrum van beleidsopsies teen Suid-Afrika, Rhodesië en die Portugese gebiede, Angola en Mosambiek.
Die Buro vir Staatsveiligheid is in 'n tydstip gestig toe verdeeldheid in Afrikanergeledere een van die knelpunte op die tafel was. By nadere ondersoek was dit duidelik dat die Buro as staatsinstrument misbruik is om regses te intimideer. Mnr. Jaap Marais het dit in die laat 1960's en die vroeg 1970's persoonlik ondervind toe hy sonder meer deur die Veiligheidspolisie op grond van meeluisteringsdokumente deursoek is.
VOORLOPER TOT DIE INLIGTINGSKANDAAL
Die 'liberale staatsgreep' op die Broederbond en die Nasionale Party was voltooi. Connie Mulder as 'n opkomende faktor in die Afrikanerpolitiek moes geïlimineer word. Wie die vuilwerk vir die Geldmag sou doen, is daar op Hendrik van den Bergh van die Buro vir Staatsveiligheid besluit. Hendrik van den Bergh het die detente beleid jeens Suidelike Afrika sterk bepleit. Genl. Van den Bergh het vir sy persoonlike opinies rakende buitelandse aangeleenthede in 'n groot mate gesteun op die Burolid, Pieter de Wit, wat 'n Vrymesselaar en ook 'n invloedryke lid in die South African Institute of International Affairs was. De Wit het Van den Bergh se opinies betreffende buitelandse verwikkelinge in 'n groot mate beïnvloed - 'n konsep wat deur die Council on Foreign Relations ontwerp is en gereed was om op die politieke gebied te bevorder. Al wat nodig was, was om die regte klimaat te skep vir hierdie soort van politiek. Die CIA het dit geweet.
Intussen het Nico Diederichs in Mei 1971'n uitnodiging van David Rockefeller ontvang na 'n Bilderberger-konferensie op Bermuda. Die internasionale Geldmag het dit as 'n groot deurbraak beskou en Diederichs was 'n verdere kontak in die Suid-Afrikaanse regering. Dit verklaar ook waarom Diederichs, 'n eertydse voorsitter van die Afrikaner Broederbond, in sy latere loopbaan lid van die Vrymesselaars geword het. Tydens Diederichs se besoek op Bermuda het hy sonder die medewete van die Suid-Afrikaanse regering 'n ooreenkoms met bepaalde Switserse sakemanne (waar-onder die Union Bank of Switzerland) gesluit. Ingevolge die ooreenkoms sou hy geldelike kommissie verdien vir elke valuta-transaksie waarin die Suid-Afrikaanse regering van die Union Bank ofSwitzetland as 'n bankier sou gebruik maak. Voorts sou hy ook 'n kommissie verdien op elke goudtransaksie wat deur die die Zurich-goudmark geskied. Hulle het ook onderneem om, naas 'n rekening wat op sy naam as Minister van Finansies geopen sou word, 'n ander aparte rekening op sy naam te open waarin daardie vermelde kommissiegelde inbetaal sou word.
Diederichs word in Februarie 1972 deur die CIA as agent gewerf. Die CIA het Diederichs in April 1972 ingetrek om by Hendrik van den Bergh 'n saadjie van klandestiene inligtingsprojekte plant. Die gedagte was om die operasie op die grondslag soortgelyk as die CIA met hulle frontorganisasies te bestuur. Dit sou inderdaad Diederichs persoonlik verryk, want nou kon hulle deur sy geheime kommissie-kanaal in die Union Bank of Switzerland werk. Dit sou ook nie alleen Diederichs verryk nie, maar later soos ons sal vind ook lei tot die sluipmoord op dr. Robert Smit en sy eggenote. Die koverte inligtingsoperasie is inderwaarheid deur die CIA georkestreer. Diederichs het Van den Bergh geadviseer, soos wat berig word, om Mulder se Inligtingsdepartement as 'n glyplank te gebruik teneinde sy klandestiene inligtingsoperasie te bedryf.
Vervolg...