Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volksverraad - die boek
Sedert 1971 bestaan daar koverte (geheime) samewerking tussen die regering en die Geldmag — 'n geheime agenda tussen die NP-regering en die Geldmag. Die Geldmag word sedertdien toenemend Suid-Afrika se onsigbare regering. Die NP-beleid van wegbeweeg van diskriminasie het die Geldmag bevoordeel ten koste van die Afrikanervolk se belang.
•Die Sunday Times van 20 April 1975 het 'n berig gedra oor 'n "top secret" beleid. Die berig se opskrif was Geheime Plan kan SA se lewenstyl verander en die eerste sin lui: "Die regering het deur aanvaarding van die hoogs geheime ('Top Secret') Kollektiewe-aksieprogram teen inflasie homself verbind tot voorstelle wat die politieke, ekonomiese en sosiale aangesig van Suid-Afrika sal verander. So ver is net die private sektor se aandeel in die program openbaar gemaak."
Onder die voorstelle wat Suid-Afrika se aangesig moet verander, was daar byvoorbeeld: "Die onderwys, opleiding en indiensname van Swartes vir meer geskoolde werk in Blanke gebiede. Die ondersoek, in oorleg met die private sektor, is na wette in verband met werkreservering en toestromingsbeheer ingestel."
• Op 22 Oktober 1983 het The Sunday Tribute 'n berig gehad oor geheime samekomste van die regering en die Geldmag onder die opskrif The Secret Business: " 'n Geheime twaalf-jaaroue bondgenootskap tussen groot sakeleiers en die Regering is dié week onthul. Die magtigste manne in die Regering en die handel werk tot hulle wedersydse voordeel saam in 'n bondgenootskap wat massiewe sake-en nywerheidsteun vir die Eerste Minister se konstitusionele voorstelle verseker het. " Die berig beskryf hoe daar in die geheim te werk gegaan word. Daar is onder die sakelui 'n "corporateforum " wat gereeld byeenkom. Net hoofuitvoerende beamptes woon dit by en alle deelnemers stem in tot 'geheimhouding'. "Die vergaderings ", lui die berig dan, "word bygewoon deur die Eerste Minister en drie of vier van sy senior ministers. "
Daar word dan van albei kante standpunte gestel, maar — baie betekenisvol en belangrik— "die 'corporateforum'is gestig in 'n groot poging van die groot sake-ondernemings om die Regering tot hulle voordeel te beïnvloed", lui die berig. Die berig meld dat John Vorster die vergaderings gereeld bygewoon het. Middagetes word gehou saam die hele kabinet, sodat private gesprekke oor die etenstafel voortgesit kan word "tot albei kante se voordeel".
Adv. D.P. de Villiers, voorsitter van die Internasionale bestuurskomitee van United States South Africa Leaders Exchange Program (USSALEP) en besturende direkteur van Nasionale Pers, het in Julie 1971 die eerste konferensie van die Internasionale Bestuurskomitee van USSALEP gehou. Agter geslote deure op die USSALEP-konferensie by die Lughawe Jan Smuts het adv. De Villiers aan die afgevaardigdes (Afrikaners, Engelssprekendes, Negers uit die VSA, Swartes, Kleurlinge en Indiërs) die versekering gegee dat die Kleurlinge binne vyf jaar verteenwoordiging in die Blankes se politieke bestel sou kry — hetsy in 'n hervormde Senaat, of hetsy dit in 'n ander wetgewende liggaam.
Teen die einde van die konferensie het De Villiers in 'n personderhoud daarop gewys dat hy hom voortaan sou beywer vir die totstandkoming van 'n 'veel-rassige super-parlement' waaraan die Blanke Parlement ondergeskik sou wees. "In so 'n nuwe bedeling," het hy gesê, "sal die Blanke Parlement slegs oor Blankes jurisdiksie hê en geen beheer oor ander rassegroepe kry nie. Die huidige Blanke Parlement sal in werklikheid gelyk wees aan die Verteenwoordigende Kleurlingraad, die SA Indiërraad of enige tuislandregering. Die superparlement sal bestaan uit gelyke verteenwoordigers vir elke rassegroep en almal saam sal die land deur middel van konsensus regeer.
Uitvoering van die besluite wat deur die super-parlement geneem word, sal aan die verskillende verteenwoordigende liggame oorhandig word, sodat elkeen sy eie rassegroep kan administreer in terme van die besluite wat deur die hoër liggaam geneem is. Ek sal alles in my vermoë doen om hierdie super-parlement 'n werklikheid te maak. Mense mag dit politieke integrasie noem, maar dit is die enigste oplossing vir Suid-Afrika se probleme. Dit is veral belangrik dat dit moet slaag, omdat die een of ander metode gevind moet word om die Kleurling 'n gelyke seggenskap in die regering van Suid-Afrika te gee. "
Voortspruitend uit bovermelde woorde van De Villiers, asook die regering se geheime samesprekinge met die Geldmag, het Vorster in 1973 'n Kommissie van Ondersoek onder die leiding van Erika Theron (voorheen betrokke in die Ossewa-Brandwag) aangestel om 'n omvattende ondersoek in te stel na alle aspekte van die bruinmense se bestaan en hul toekoms (ook bekend as die Erika Theron-kommissie). Dit was 'n kommissie wat uit wit- en bruinmense bestaan het. Die Erika Theron-kommissie het op 18 Junie 1976 sy verslag in die Volksraad ter tafel gelê. Die verslag sou ook 'n kardinale rol speel tot die eerste tree van Suid-Afrika se politieke integrasie. Die kommissie het in sy verslag 178 aanbevelings gedoen. Onder die belangrikste was:
•Bevredigende vorme van regstreekse Kleurlingverteenwoordiging en -seggenskap moet op die onderskeie owerheidsvlakke en in besluitnemende liggame geskep word.
•'n Komitee van deskundiges moet aangestel word om voorstelle dienaangaande te doen.
•Die bestaande Westminister-stelsel moet verander word om by die omstandighede van Suid-Afrika met sy plurale bevolking aan te pas.
•Die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike en artikel 16 van die Ontugwet moet herroep word.
•Gelyke salarisse moet vir gelyke werk betaal word.
•Heelwysiginge moet in die Wet op Groepsgebiede aangebring word, onder meer deur sakegebiede te verklaar.
•Kleurlinge moet toegelaat word om op enige plek landbougrond te koop.
•Alle universiteite moet vir Kleurlinge oopgestel word.
•Die Kleurlinge moet nie beskou word as 'n gemeenskap wat kultureel anders as die Blankes is nie.
•Sportspanne wat internasionaal meeding, moet op grond van meriete gekies word.
•Openbare plekke, geriewe en sekere strande moet op 'n selektiewe grondslag vir almal oopgestel word.
In Augustus 1976 het die regering aangekondig dat 'n kabinetskomitee aangestel is om 'n ondersoek te gelas na 'n nuwe regeringstelsel waarin 'n groter mate van seggenskap gegee sou word aan die Kleurlinge en die Indiërs. Hierdie kabinetskomitee wat bestaan uit ministers P.W. Botha as Voorsitter, Connie Mulder, J.P. van der Spuy, Owen Horwood, Hennie Smit en Marais Steyn, het ingrypende konstitusionele veranderinge aanbeveel. Die komitee het aanbeveel dat die Blankes, die Kleurlinge en die Indiërs elk hul eie volksraad en kabinet moet hê.
Sake van gemeenskaplike belang sal deur 'n Raad van Kabinette gehanteer word. Die Raad van Kabinette sal bestaan uit die Staatspresident (voorsitter), 7 Blankes (Eerste Minister en 6 ministers), 4 Kleurlinge (die Eerste Minister en 3 ministers) en 3 Indiërs (die Eerste Minister en twee minsters). Die bestaande Senaat word afgeskaf en twee nuwe liggame word in die lewe geroep — die veelrassige Kieskollege van 88 lede, wat die Staatspresident moet aanwys; die ander 'n veelrassige Presidensiële Adviesraad, wat die Raad van Kabinette van advies sal bedien. Die samestelling van sowel die Kieskollege as die Presidensiële Adviesraad berus op die verhouding 4 Blankes: 2 Kleurlinge: 1 Indiër. Hierdie plan vir 'n nuwe konstitusionele bedeling is in Augustus 1977 deur die koukus van die NP goedgekeur en kort daarna ook deur die party se vier provinsiale kongresse.
In die algemene verkiesing van November 1977 het die regering sy plan aan die kiesers voorgelê toe byvoorbeeld Connie Mulder in die Potchefstroomse Stadsaal tydens die NP se verkiesingsveldtog in 1977 gesê het: "Die Erika Theron-verslag bied vir Suid-Afrika 'n wonderstaaf formule om Suid-Afrika se kleurprobleem aan te spreek. " Die oorwinning wat die NP in die verkiesing behaal het, is dan ook deur die regering vertolk as 'n mandaat aan hom om die voorgestelde konstitusionele wysigings deur te voer. Adv. D.P. de Villiers van USSALEP se siening van die nuwe bedeling in Suid-Afrika in 1971 stem ooreen met die konstitusionele voorstelle wat die NP in die Algemene Verkiesing van 1977 gaan toets het, wat aanduidend is van die onsigbare hand van die Geldmag in die regering.
Die Afrikaner Broederbond het vir die Nasionale Party-besluit dat die Republiek se parlementêre demokratiese basis uitgebrei moet word na die Indiërs en Kleurlinge (bruinmense) herbevestig soos gemanifesteer in Gerrit Viljoen se 1976-Voorsittersrede in die Afrikaner Broederbond. Teen die agtergrond daarvan dat die debat oor magsdeling met Nie-Blankes in die politiek reeds 'n geruime tyd aan die gang was, het die Herstigte Nasionale Party tydens die 1977-Verkiesing gewaarsku teen die regering se konstitusionele planne. So het 'n afvaardiging van die Herstigte Nasionale Party ook by Andries Treurnicht besoek afgelê. Hy het onomwonde hulle standpunt verwerp, en volkome ingeskakel by die Nasionale Party se planne om Nie-Blankes tot die Parlement toe te laat. Ons sal in die volgende aflewering sien dat Ferdi Hartzenberg en ander Nasionaliste kragte met die regering en meer bepaald Brig. Tienie Groenewald saamsnoer om die Konserwatiewe Party te stig.
Vervolg...