VOLKSVERRAAD (13)

Adv PJ Pretorius

Lees volledig by Volksverraad - die boek

VORSTER EN DIE AFRIKANER BROEDERBOND HELP DIE ILLUMINATI OM RHODESIë TE ONDERGRAWE

"Maar die nekslag was toe Suid-Afrika en veral John Vorster teen ons gedraai het. Ons het gedink dat Suid-Afrika ons ware vriend is. Hulle wat in dieselfde beginsels as ons geglo het — die handhawing van 'n Christelike Westerse beskawing in Afrika. Ons kon nog die aanslae van die Britte en die res van die wêreld trotseer, maar ons sou nie sonder hulp van Suid-Afrika kon klaarkom nie."

Dit het onder die aandag gekom dat Vorster in Desember 1974 'n plan laat opstel het waarvolgens Rhodesië binne vyf jaar 'n Swart meerderheidsregering sou hê. Die plan is deur Hilgard Muller se Departement op aanbeveling van die Verligte Aksie-beweging opgestel. Na wat verneem is, was die Vorsterplan vir pres. Kaunda aanvaarbaar.

Die mense aan die stuur van die Broederbond het nie 'n stem verhef teen hierdie soort politiek nie, maar het later daaraan meegedoen. Hendrik van den Bergh het skielik in die geledere van die Broederbond die gesaghebbende geword om oor die Rhodesiese situasie te praat en byeenkoms na byeenkoms moes nie net van die Broederbond nie maar ook van die Rapportryers, hoor watter gevaar Rhodesië vir Suid-Afrika se veiligheidsituasie geword het.

Die Suid-Afrikaanse regering het toe sedert 1975 druk op die regering van Ian Smith uitgeoefen om Rhodesië te dwing tot aanvaarding van 'n Swart meerderheidsregering. Suid-Afrika het deurentyd gevra vir 'n skikking waardeur Rhodesië se onafhanklikheid deur die buitewêreld erken word en sanksies opgehef sou word. Dit sou glo 'n verleentheid vir Suid-Afrika uitskakel. Voorbeelde van inmenging in Rhodesië se sake en druk op die Rhodesiese regering deur die Suid-Afrikaanse regering was die volgende:

•       Dr. Hilgard Muller, Minister van Buitelandse sake het in 1975 druk op Ian Smith geplaas om Ndabaningi Sithole uit aanhouding vry  te laat nadat die hoofregter van Rhodesië  bekragtig het dat hy 'n Kommunis is.

•       Die Suid-Afrikaanse Regering het in Augustus 1975 die Suid-Afrikaanse Polisie uit Rhodesië laat terugtrek omdat Swart leiers soos pres. Kaunda van Zambië dit wou hê as voorwaarde om met Suid-Af-rika te onderhandel met die oog op 'n streeksblok in Suidelike Afrika. •    Suid-Afrika se rol in die brugberaad in Augustus 1975 tussen Smith en Nkomo. Vorster was persoonlik daar.

Vorster se onderhandelings in 1976 met die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger.

Kissinger was aanvanklik nie gretig om hom in Rhodesië se sake in te meng nie want tegnies volgens Amerika se beskouinge was Rhodesië nog Britse gcbied. Kissinger wou toe ook nie graag vir Vorster sien nie. Uiteindelik het hy ingestem om Vorster te ontmoet gedurende een van sy besoeke aan Europa — eers in Wes-Duitsland en Switserland en daarna in Pretoria.

Tydens die Pretoria-beraad in September 1976 het Vorster eers afsonderlik met Kissinger gepraat. Twee dae lank het Vorster en Kissinger hulle optrede beplan. Daarna is Smith op aanbeveling van Vorster bygebring. In die ontmoeting het Kissinger aan Smith geskilder in watter toestand sy land is en hoe dit oor nog 'n aantal maande sou wees as hy totaal op ekonomiese en militêre gebied geïsoleer word. Daarna is die voorstelle vir 'n Swart meerderheidsregering aan hom voorgelees en het Kissinger aan hom gesê dat Vorster en Suid-Afrika Rhodesië nie langer gaan steun nie. Op daardie oomblik was Rhodesië heeltemal deur die buiteland geïsoleer. Na berig word het Smith geluister en daarna gesê: "Wat julle vra, is my kop op 'n skinkbord. " Dit was te veel vir Ian Smith. Hy het toegegee en die voorstelle vir die oorhandiging van Blanke gesag in Rhodesië aan 'n Swart bewind aanvaar.

Rhodesië moes handdoek ingooi omrede Rhodesië se vriende hom in die rug gesteek het. Dit is kortliks die woorde van Ian Smith. Smith het in September 1995 tydens 'n onderhoud met Rapport daarop gewys dat: "Maar die nekslag was toe Suid-Afrika en veral John Vorster teen ons gedraai het. Ons het gedink dat Suid-Afrika ons ware vriend is. Hulle wat in dieselfde beginsels as ons geglo het — die handhawing van 'n Christelike Westerse beskawing in Afrika. Ons kon nog die aanslae van die Britte en die res van die wêreld trotseer, maar ons sou nie sonder hulp van Suid-Afrika kon klaarkom nie. Mnr. Vorster het gedink sy nuwe beleid van detente sou werk, dat hy die guns van die Afrika-state daarmee sou wen. Hy het persoonlik aan my vertel hoe die Afrika-leiers uit sy hand eet. Dit het nie gebeur nie... Meneer Vorster het Rhodesië aanvanklik goed ondersteun totdat hy met sy beleid van detente gekom het. Hy en meneer Pik Botha het altyd vertel dat hulle nie in Rhodesië se sake inmeng nie. Dit was onwaar.Dit was Vorster wat die uitvoer van ammunisie en brandstof na Rhodesië gestaak het."

Toe Vorster in September 1976 die pistool teen Ian Smith se kop in Pretoria gehou het (soos deur Smith later in 'n persverklaring gestel is) en saam met Kissinger die Rhodesiese premier gedwing het tot aanvaarding van 'n Swart meerderheidsregering vir sy land, het Viljoen, die Voorsitter van die Broederbond, in daardie tyd 'n dokument laat sirkuleer waarin die Smith-bewind in die skerpste terme aangeval is. Dit word die Rhodesiese leiers ten laste gelê dat hulle twee beleidsrigtings verkondig — die een na die buitewêreld en die ander een, die werklike beleid, na binne. Terwyl die Suid-Afrikaanse regering besig is met sy detente-pogings, lui die dokument, is dit 'n ongelukkige feit dat vraagtekens getrek word oor die erns en integriteit van die Rhodesiërs. Die dokument is geskryf ná uitvoerige samesprekings met Suid-Afrikaanse kabinetslede. Viljoen stel dit duidelik in die dokument dat Suid-Afrika hom net met Rhodesië sal bemoei solank dit in Suid-Afrika se belang is. Dit vereis sekere stappe van die Rhodesiese regering — die eerste om maatreëls te tref om sy verklaarde beleid uit te voer en sodoende sy eie geloofwaardigheid te bewys en die Suid-Afrikaanse regering se geloofwaardigheid in die oë van Afrika te beskerm. Vervolgens kom Viljoen ook by die argument wat in daardie tyd so gereeld soos klokslag uit Broederbondkringe gehoor is, naamlik dat die Blanke Rhodesiërs 'n Prog-beleid gekies het en dat hulle nou die konsekwensies daarvan moet aanvaar. Tensy die Smith-bewind stappe doen om hierdie beleid in die praktyk uit te voer, kan daar min regverdiging wees vir Suid-Afrika se voortgesette hulp aan Rhodesië, sê hy. Viljoen stel dit duidelik dat Suid-Afrika nie sy militêre betrokkenheid kan laat bepaal deur 'n ander land se optrede en daardie land se belange nie. "Dit sal ons toekoms in ander hande plaas en dit is ondenkbaar. " Viljoen verklaar in daardie dokument dat: "Faktore wat in oorweging geneem moet word, sal insluit hoe belangrik dit is om 'n Westers-georiënteerde administrasie in Rhodesië aan bewind te hou; hoe detente geraak sal word; en hoe Rhodesië sy eie beleid uitgevoer het." Viljoen het geswyg oor die Swart bewind wat in Rhodesië met die hulp van die Suid-Afrikaanse regering afgedwing is.

Pik Botha het vroeg in 1978 by verskeie geleenthede gesê dat die Suid-Afrikaanse regering ten gunste daarvan is dat 'n konferensie "van alle partye" in Rhodesië gehou moet word om 'n oplossing vir die geskil te vind. Onder die term 'konferensie van alle partye' word ook die terroristeleiers, Joshua Nkomo en Robert Mugabe, ingesluit. Dit het ook inderdaad meegebring dat Rhodesië sy Blanke heerskappy verloor het en vervang is deur 'n Swart meederheidsregering van Zimbabwe in 1980.

Vervolg...