VOLKSVERRAAD (14)

Adv PJ Pretorius

Lees volledig by Volksverraad - die boek

BURO VIR STAATSVEILIGHEID WERK SAAM MET DIE CIA OM FRELIMO VAN HULP TE VOORSIEN TENEINDE TE HELP DAT PORTUGAL IN KOMMUNISTIESE HANDE BELAND

Die Caetano-bewind in Portugal is in April 1974 deur 'n Anglo-Amerikaanse geborgde staatsgreep omvergewerp. "Om Suider-Afrika op te breek, sou Amerika en Rusland 'n rewolusie in Portugal moes bewerkstellig. Die Portugese Kommunistiese Party was egter 'n klein, niksbeduidende partytjie waarvan die leiers al vir jare uit Portugal gevlug het as gevolg van president Salazar se streng optrede teen alle kommuniste. Daarom was dit noodsaaklik om Portugal te verswak deur onrus in Portugal en tegelyk in Mosambiek en Angola te stook. Dit kon gedoen word deur aanhoudende terroriste-aanslae op Mosambiek en Angola. Portugal sou daardeur gedwing word om jare lank groot en duur leërs daar op die been te hou, wat die Portugese ekonomie sou uitput en die volk sou demoraliseer en uiteindelik vir rewolusie sou vatbaar maak. Dit was die strategie van beide Amerika en Rusland.

Op sy eie kon die klein Kommunistiese partytjie van Portugal al die jare min vermag. Maar nou, met die hulp van die Amerikaanse regering se CIA het die kans gekom. Deur die CIA se hulp het die Kommuniste die laere range van offisiere in die Portugese Leër bearbei, veral in Mosambiek. Die planne en voorbereidsels vir die rewolusie was daar (Mosambiek) uitgewerk. Daar kon alles duister gehou word tot op die oomblik dat dit uitgevoer moes word.

Volgens inligting wat uit die Euro vir Staatsveiligheid uitgelek het, het Hendrik van den Bergh se Buro vir Staatsveiligheid in die geheim meegewerk om die staatsgreep in Portugal moontlik te maak. Van den Bergh was op daardie stadium sterk bevriend met die base van die CIA. In samewerking met die CIA het Van den Bergh se Buro vir Staatsveiligheid in stryd met die beleid van die Suid-Afrikaanse Weermag hulp aan Frelimo verleen. Wat Suid-Afrika se veiligheidswetgewings betref, moes 'n Kommunis of binnelands in die tronk gestop of buite die landsgrens gedood word omrede ons 'n oorlog teen kommunistiese ekspansionisme gevoer het. Sodoende bevestig dit die berig van Die Vaderland van 30 Mei 1974: "Suid-Afrika het 'n jaar voor die tyd geweet dat 'n staatsgreep in Portugal onvermydelik word." Na verneem word het Die Vaderland gereageer op inligting wat weereens uit die Buro vir Staatsveiligheid gelek het. Hierdie betrokkenheid van die Buro vir Staatsveiligheid, wat in die uiterste geheimhouding geskied het om hulp aan pro-Kommunistiese bewegings te gee, was in stryd met Suid-Afrika se Verdedigingsbeleid om Kommunisme met wortel en tak uit te roei. Vir die Suid-Afrikaanse Weermag het die veiligheidsituasie se intensiteit verhoog toe die Portugese bewind in Mosambiek vervang is deur die pro-Kommunistiese regering van die Frelimo-bende in 1974. Die nuwe Portugese regering het Mosambiek aan die terroristiese Frelimo oorhandig.

DIE CIA MISBRUIK DIE ANTI-KOMMUNISTIESE AKSENT VAN SUID-AFRIKA SE VERDEDIGINGSBELEID OM SUID-AFRIKA BETROKKE TE KRY BY DIE ANGOLESE OORLOG — EN DIE BURO VIR STAATSVEILIGHEID SPEEL SAAM

Toe die militêre staatsgreep gedurende April 1974 in Lissabon, Portugal losbars, het Angola, in teenstelling met Mosambiek, rustig gebly. Die terroriste-oorlog het in Angola prakties tot 'n einde gekom. Met die beplande onttrekking van Portugese troepe het die MPLA van Neto, die FNLA van Holden Roberto en Unita van Jonas Savimbi met nuwe bedrywighede begin en hulle magte in die onderskeie stamgebiede vergroot. Angola was toe in werklikheid in drie invloedsgebiede opgedeel.

Intussen het die CIA ook 'n geslepe propaganda-veldtog van stapel gestuur deur opgeblase stories oor Russiese en Kubaanse betrokkenheid in Angola, nog voordat daar so iets bestaan het na die internasionale nuusagentskappe te lek — 'n onthulling wat deur 'n senior amptenaar van die CIA, John Stockwell in sy boek In Search of Enemies gemaak word. Met die beweerde ingryping van die Russe en Kubane het die Suid-Afrikaanse Weermag te same met sekere buurstate dit beskou as 'n bedreiging teen hulle soewereine mag. Zambie, Tanzanië en Botswana het besluit om Savimbi as leier van die Regering van Nasionale Eenheid in Angola te ondersteun. Met die hulp van die laasvermelde drie Swart state kon Unita daarin slaag om verdere hulp van die Rooi Sjinese, Ghana en Nigerie1 te verkry.

'n Illussie oor Sowjetbetrokkenheid in Angola is deur die CIA geskep met die uitsluitlike doel om die Minister van Verdediging, P.W. Botha in te bind met oorgrensoptrede van die Weermag. Uiteraard het die CIA geweet hoe P.W. Botha se kop gewerk het.

Operasie Savanna in Angola is toe deur P.W Botha en die Suid-Afrikaanse Weermag geloods. Vorster het Suid-Afrika se deelname aan die Angolese Oorlog goedgekeur sonder raadpleging van die parlement. Gerrit Viljoen, die voorsitter van die Broederbond, het hierdie stap nie bevraagteken nie. Daar is aanvanklik verduidelik dat dit nie nodig was om die parlement byeen te roep nie, hoewel die ou Verdedigingswet uitdruklik so bepaal het.

Dit het aan die lig gekom dat Suid-Afrika met sy toetrede tot die Angolese oorlog gereageer het op versoeke van die CIA, terwyl Vorster inderwaarheid geglo het dat die Amerikaanse regering die Suid-Afrikaanse Weermag versoek het om betrokke te raak in die Angolese oorlog.

Na wat berig word, is Henry Kissinger se hulp deur die CIA in geroep om by die Suid-Afrikaanse regering aan te dring om by die oorlog betrokke te raak. Die Amerikaners het Vorster en die Suid-Afrikaanse Weermag die onderneming gegee dat hulle Alberto Holden van FLNA militêr sal steun as die Suid-Afrikaanse Weermag militêre steun aan Jonas Savimbi van Unita verleen. Die Amerikaanse Taakmaghoof in Angola en 'n senior personeellid van die CIA, John Stockwell, meld in sy boek In Search of Enemies dat dit in werklikheid die CIA was wat Suid-Afrika by die Angolese oorlog betrokke gekry het. Stockwell het verder onthul dat die CIA aanvanklik selfs sonder die Withuis in Angola bedrywig geraak het.

Die Historikus, A.J.P, van Rensburg, wys in sy boek The Tangled Web daarop dat Lang Hendrik van den Bergh by Vorster aangedring het dat die Suid-Afrikaanse Weermag nie Angola binne val nie, aangesien dit nie bevorderlik is vir Vorster se detente-beleid nie. P.W. Botha se militêre oplossing het egter gewen en het dit inderdaad die gaping tussen die die Buro vir Staatsveiligheid en Afdeling Militêre Inligting verbreed. Die verhouding tussen P.W. Botha en Van den Bergh is in die proses versuur.

Stockwell het ook aan die lig gebring dat die CIA in die geheim en op wêreldwye skaal die werwing van huursoldate vir Angola gefinansier het.

Vervolg...