VOLKSVERRAAD (19)

Adv PJ Pretorius

Lees volledig by Volksverraad - die boek

NEIL BARNARD WORD DIREKTEUR-GENERAAL VAN DIE NASIONALE INTELLIGENSIEDIENS IN DIE MIDDEL VAN 'N STRYD IN DIE VEILIGHEIDSGEMEENSKAP

Die hele land was verras toe daar in Oktober 1979 deur P.W. Botha aangekondig is dat die dertigjarige Voorsitter van die Ruiterwag, dr Neil Barnard, met ingang van 1 Junie 1980 as Direkteur-Generaal van die Nasionale Intelligensiediens aangestel is. Pik Botha het agter hierdie aanstelling gesit.

Min was oor hom bekend, behalwe dat hy 'n briljante akademiese rekord gehad het en reeds op jeugdige ouderdom hoogleraar en later hoof van die departement van Staatsleer aan die Vrystaatse Univesiteit geword het. Na wat berig word, het Neil Barnard saam met Mike Louw gedurende Mei 1976 lid van die Verligte Aksie-beweging geword. Dit was 'n formidabele taak wat aan hom opgedra is. Sonder enige agtergrond van Inligtingswerk moes hy die leisels oorneem van 'n organisasie waarvan die omstrede genl. van den Bergh die hoof was.

'n Ietwat ontnugterende ervaring het op hom gewag toe hy in Junie 1980 by die Nasionale Intelligensiediens opdaag. Die agtergrond was die geweldige stryd wat aan die begin van die tagtigerjare in die Inligtingsgemeenskap geheers het tussen Militêre Inligting aan die een kant en die Veiligheidspolisie aan die ander kant. Barnard het in 'n onderhoud met Die Beeld van 17 Februarie 1992 die volgende te sê gehad: "Dit ly geen twyfel nie dat daar in die eerste twee jaar na my aankoms by die Nasionale Intelligensiediens 'n doelbewuste poging was om die Nasionale Intelligensiediens tot niet te maak. Die dieperliggende oorsaak was 'n verskil in die vertolking van die veiligheidsituasie tussen die Nasionale Intelligensiediens en die Weermag. Die Nasionale Intelligensiediens het reeds in daardie jare geglo — soos vandag nog — dat die kern van die veiligheidsituasie in Suid-Afrika in die binnelandse politieke arena lê.

"Ons standpunt was dat solank om nie aandag aan die binnelandse politieke probleem gee nie, gaan ons op die duur nie die land se probleme oplos nie. In kontras daarmee was veral Militêre Inligting se vertrekpunt dat die kern van die probleem die Kommunistiese bedreiging is wat vanuit die buurlande aangevuur word. Deur die buurstate onder beheer te bring en die kommuniste op die een of ander wyse uit te roei, sou die land se probleme opgelos kon word, is aangevoer. "

Barnard wys daarop dat die Nasionale Intelligensiediens aanvanklik by Militere Inligting se benadering ingeval het en dat die veiligheidsgemeenskap  "... in daardie jare altyd ten gunste daarvan was dat as daar bewyse van terroristekampe was vanwaar aanvalle op Suid-Afrikaanse grondgebied beplan is, hulle voorgespring moet word. Ons (die Nasionale Inteiligensiediens) was egter nie voorstanders van die permanente destabilisasie van die buurstate om sogenaamde vriendskaplike regerings aan bewind te probeer stel nie. "

Vorentoe sal ons sien dat Barnard saam met Pik Botha 'n kardinale rol in Suid-Afrika se politieke hervorming sou speel. Hy sou later self aan die stuur van sake sit wat sou lei tot die ondertekening van die Nkomati-verdrag en die skep van die Nuwe Suid-Afrika.

HERVORMING OP DIE TERREIN VAN DIE ARBEID: WIEHAHN-KOMMISSIE

Die Amerikaners het in daardie stadium 'n agenda gevolg wat daarop uit was om die arbeidsterrein te liberaliseer. Die arbeidster-rein is veral sedert die middel sewentigs heelwat geliberaliseer as gevolg van kunsmatige tekorte wat deur Horwood se krediet-ekonomie geskep is. Die Broederbond het met die Riekert-verslag vorendag gekom om die arbeidsterrein te hervorm. Die Riekert-verslag is ondersteun deur die Wiehahn-verslag wat in 1979 onder leiding van Professor N.E. Wiehahn (Broederbonder sedert 1970) uitgereik is deur die Verslag van die Kommissie van Ondersoek na Arbeidswetgewing. Die verslag baan die weg vir die wettiging van Swart vakbondwese, die afskaffing van werksreservering vir Blankes en die implimentering van die beginsel van gelyke betaling vir gelyke werk wat deur Blankes en Nie-Blankes verrig sou word.

Die aanbevelings van die Wiehahn-verslag is skepties deur regses ontvang. In dié verband het Arrie Paulus van die Mynwerkersunie daarop gewys dat die wetlike erkenning van Swart vakbonde, mag in die hande van Swartes kan plaas wat tot arbeidsonrus kan lei en wat 'n bedreiging vir die posisie van die Blanke werker kan inhou. Die tyd sou leer dat hy reg was. Die "liberation of the labor field" sou 'n verdere instrument wees wat die Amerikaners gebruik in die aanslag teen Apartheid.

Vervolg...