Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volksverraad - die boek
NG-KERK EN SY SKULDBELYDENIS VAN APARTHElD
As deel van Kom. Ops. se offensief om die klimaat vir politieke verandering te bevorder, het prof. Willie Jonker van die NG Kerk se kweekskool op Stellenbosch, in November 1990 tydens 'n beraad van byna alle Christelike kerke in Suid-Afrika (wat op die inisiatief van FW de Klerk naby Rustenburg gehou is) in 'n heftige linkse toespraak afgesluit met die vermetele stap om namens die Afrikanervolk aan die versamelde Swart kerkleiers vergifnis te vra vir die onreg wat die Afrikaner die Nie-Blankes glo sou aangedoen het. Die toespraak wat Jonker voorgelees het, was inderwaarheid deur Tienie Groenewald geskryf. Sy belydenis wat hy aan die Nie-Blankes gerig het, was soos volg:"Ek bely voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek dit om dit ook namens die Nederduits Gefermeerde Kerk te doen, waarvan ek lidmaat is, en vir die Afrikanervolk in sy geheel. Ek het die vryheid om dit te doen, want die NG Kerk het op sy mees onlangse sinode apartheid tot sonde verklaar en sy eie skuld van nalatigheid beken deurdat hy nie reeds lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie. "
Die volgende dag het die nuwe moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, prof. Pieter Potgieter, aangekondig dat die amptelike afgevaardigdes van die NG Kerk by die konferensie hulle met die belydenis van professor Jonker vereenselwig. Die Afrikaner van 21 November 1990 meld: "Volgens waarnemers moet die belydenis van prof Jonker, die bevestiging daarvan deur die amptelike afgevaardigdes van die NG Kerk en ook die hele Hunter's Rest beraad, as 'n beplande verdere stap in die NG Kerk se onlangse Algemene Sinode in Bloemfontein gesien word. Dit vorm daarmee 'n eenheid, 'n groot strategiese offensief om die NG Kerk ondubbelsinnig agter die linkse Nie-Blanke kerk in te swaai op die grondslag wat vir die ANC aanvaarbaar is ... Dit is simptomaties dat die Bloemfonteinse Sinode die 'sonde van Apartheid' wil bestry deur 'mee te werk aan die vind van 'n politieke bestel wat vir almal vryheid, geregtigheid en 'n menswaardige bestaan sal meebring'. Daar is 'n duidelike naklank daarin van die leuse van die Franse Rewolusie, 'vryheid, gelykheid en broederskap '. Die gretigheid om in die gees van die Rewolusie mee te werk aan 'n politieke bestel, is duidelik die uiteindelike doelwit wat mnr. De Klerk met sy hele kerklike offensief sedert sy Kersboodskap van 1989 beoog het. "
OORBLYWENDE APARTHEIDSWETGEWING WORD GESKRAP
Die regering skrap in Februarie 1991 die oorblywende Apartheidswetgewing, waaronder die Wet op die Bevolkingsregister.
Die skeuring in die Konserwatiewe Party word toe 'n al hoe groter werklikheid, want daar was diegene wat hulle ten gunste van onderhandelinge uitgespreek het (soos Koos van der Merwe, Koos Botha, Corné en Pieter Mulder) en diegene wie daarteen was (soos dr. Ferdi Hartzenberg).
DIE STIGTING VAN DIE BOEREKRISIS-AKSIE
Leonard Venter het gedurende 1991met sy motor in die Transvaal en die Vrystaat rondgery om boere bymekaar te trek en 'n versetarm vir die boere in die Transvaal en die Vrystaat daar te stel. Dit is ook in 1991 op die proef gestel toe die Boerekrisis-Aksie 'n daglange demonstrasie in Pretoria geloods het om te illustreer hoe dit lyk as Pretoria by wyse van padblokkades ontwrig word. Hoewel die BKA se doel aanvanklik deel van 'n ware verset was teen die regering se ingrypende politieke veranderinge, wys Jaap Marais in sy boek Behind the military ranks in the Afrikaner Volksfront op bladsy 11 daarop dat: "In reality it had altered ts emphasis and had become more involved in the Agriculture Unions of Transvaal en Free State provinces and become submerged to certain extent. " Ons sal later sien dat Groenewald juis in staat was om die leiers van hierdie Landbou Unies, Dries Bruwer en Piet Gous, te manipuleer.
AGENTE VAN DIE NASIONALE INTELLIGENSIEDIENS RAAK BETROKKE BY BOMONTPLOFFINGS OM DIE KONSEP VAN VOLKSTAAT TE BEVORDER
'n Geheime groep, bekend as die Afrikaner Volkstaatbeweging, waaronder Koos Botha (die KP-LP van Wonderboom) en bepaalde lede van die Afrikaner Weerstandsbeweging, het (sedert 1990) 'n reeks staatseiendomme gesaboteur. Die frekwensie van sabotasieaanvalle het sedert Desember 1991 toegeneem. Die Volkstaatsbeweging het voortdurend na 'n sabotasie-aanval proniosie gedoen vir hulle ideaal van 'n Volkstaat. Koos Botha was 'n agent van die Nasionale Intelligensiediens.
KONVENSIE VIR DEMOKRATIESE SUID-AFRIKA (KODESA) EN DIE NASIONALE INTELLIGENSIEDIENS
Op 20 Desember 1991 begin die Konvensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) onder sterk toesig van die Nasionale Intelligensiediens. Die belydenis van die sonde van Apartheid is deur Dawie de Villiers tydens die Nasionale Party se intreerede by Kodesa herhaal. Bepaalde werkgroepe is gestig om bepaalde onderwerpe uit te klaar. Negentien groepe was teenwoordig, waaronder die Regering van die RSA, die ANC, die owerhede van die TVBC-state en 13 politieke partye. Die KP, die HNP, die AWB, die PAC en Azapo het uitnodigings om aan die Kodesa deel te neem van die hand gewys. Tydens die eerste vergadering is 'n Deklarasie van voorneme (Declaration of Intent) goedgekeur ingevolge waarin breë riglyne neergelê is vir verdere onderhandelinge. In daardie dokument het die onderhandelaars onderneem:
"To bring about an undivided South Africa with one nation sharing a common citizenship, patriotism" and loyalty, pursuing our diversity, freedom, equality and security for all irrespective of race, colour, sex or creed: a country free from apartheid or any other from of discrimination or domination."
Met die uitsondering van Inkatha en die owerheid van Bophuthatswana, het al die ander afvaardigings die vermelde deklarasie onderteken. Inkatha het beswaar gemaak teen die woorde "an Undivided South Africa", wat volgens hulle geïnterpreteer was as 'n instemmmg/inbinding tot 'n unitêre staat sonder dat die moontlikheid van 'n federale model onderhandel is. Die regering van Bophuthatswana het aangedring op die reg om 'n onafhanklike staat te bly buite die Nuwe Suid-Afrika indien die meerderheid van Bophuthatswana se burgers hierdie alternatief sou verkies.
NASIONALE INTELLIGENSIEDIENS DEUR DIE BROEDERBOND INGETREK OM REGSES BY DIE ONDERHANDELINGSPROSES TE BETREK
Intussen word vanuit die media sekere onthullings gemaak dat die Afrikaner Broederbond "dirty play" aangewend het om sy onderhandelingspolitiek te laat slaag. Sunday Times openbaar vroeg in 1992 dat die Afrikaner Broederbond 'n geheime plan het om skeuring in regse geledere teweeg te bring, indien daar nie geslaag sou word om regses by die regering se onderhandlingspolitiek te betrek nie. Die Patriot van 10 Januarie 1992 berig in dié verband die volgende: . .
"Luidens die dokument, wat uitgelek het aan die Engelse Johannesburgse koerant, die Sunday Times, word voorgestel dat regse leiers in diskrediet gebring moet word en dat regse groeperings verdeel moet word, sou die betrokke groepe nie geforseer kan word om aan onderhandelinge deel te neem nie. Volgens die vertroulike dokument mag die planne die implikasie inhou dat die Nasionale Intelligensiediens se invloed aangewend kan word en moet dit as 'n doel tot 'n middel gesien word." Verder word gesê dat hierdie 'spesiale uittreksel van die Uitvoerende Raad (UR) se besluite' slegs beskikbaar gestel word aan 'reeds geïdentifiseerde broers '.
Na berig word, het die Broederbond in die loop van 'n naweek 'n vergadering in Pretoria belê waartydens die beweringe aangaande die dokument bespreek sou word. Volgens die bron van die Sunday Times, is daar min twyfel aangaande die egtheid van die dokument en hy waarsku dat dit 'n finale skeuring in die Broederbond kan meebring. Die strategie wat die Broederbond gaan volg na die eerste rondte van onderhandelings word duidelik uitgestippel in die dokument:
"Die UR aanvaar die verantwoordelikheid om sekere broers in te lig oor sake van dringende belang om die ordelike voortgang van die Regeringsbeleid te verseker en momentum daaraan te help verleen. Ter wille van eenheid 'in ons eie kringe' word bepaalde inligting nie aan alle broers oorgedra nie. In die dokument word 'n reeks voorstelle genoem waardeur die doelwitte van die Broederbond bereik word. Ondermeer word aanbeveel dat die KP, die Afrikanervolkswag, SABRA en die Oranjewerkers betrek moet word by die onderhandelings. Om dit moontlik te maak, moet die beeld geskep word dat die meerderheid onderhandelaars ten gunste van 'n Volkstaat is."
Volgens die dokument sou UR in samewerking met leiersfigure van die Nasionale Party, die Nasionale Intelligensiediens, die FAK en ander saamwerk om strategie te bepaal om die leiers van die KP tot onderhandelings te dwing. Daar moes aangedring word by alle lede van die Broederbond om druk uit te oefen op individuele lede van die AWB om aan te sit by die onderhandelingstafel. Hierdeur sou heel moontlik skeiding meegebring word in hulle geledere, in dieselfde mate as wat gedoen is met die PAC. Verder word gesê dat die UR erken dat onderhandelings sonder die regses aansienlike druk deur buitelandse vriende op die Staatspresident plaas. Daarom word alles in die stryd gewerp om die regses te oorreed of te dwing tot deelname.
Vervolg...