1994: VOLK GESLAG OP MEINTJESKOP (11)

Die dag sal kom... soos by Vereeniging

Dr Harry Mocke

Lees reeks by 1994: Slag van Meintjeskop

Wie tel die krummels op?

Selfs krummels het waarde. Waar dit val, voed dit die hondjies, of die voëltjies, of die miere. As dit geen lewende wese voed nie, dan voed dit die organismes in die grond.

Maar waar kom daardie krummels vandaan?

Krummels was eers deel van 'n brood of 'n koek of 'n pot pap. Dit was deel van 'n eenheid. Toe breek die brood of die koek, of dit val met die opskep of met die roer van die pap uit die pot.

Daar was dus aksie, toe val die krummels - en een of ander wese staan gereed om voordeel daaruit te trek.

Mielie-oestyd op ons ou plaas in die Vrystaat was vir ons altyd 'n besondere tyd. Dit was 'n tyd van baie harde werk, maar ook 'n tyd van opwinding. Daar was nog nie stropers wat die oes van die lande gehaal het nie. Dit moes met die hand gedoen word. Daarvoor was baie arbeiders nodig.

Saans het die arbeiders rondom die kospotte vergader om die pap met hulle hande in eetbare vorm te druk en dan in die regte rigting te kanaliseer. Naby hulle het die plaashonde stelling ingeneem, in afwagting op porsies wat na hulle kant toe mag kom.

Die honde het gewag. Die porsies en krummels het gekom.  Soms was dit by wyse van 'n sierlike gooi deur die lug; soms moes hulle wag totdat die eters vertrek het. Dan het hulle die krummels gaan optel. Die maaltyd vir vandag was verby. More sal dit weer so wees. Die krummels sal daar wees om te vang.

In die Boerevolk vind die afgelope jare die een maaltyd na die ander plaas. Die krummels val en die honde, of miere of die voëls, pik dit op. Die verskil is net dat daardie krummels broeke en baadjies en rokke aan het. Hulle is nie krummels in die gewone sin nie. Hulle is die kosbare mans, vroue en kinders van ons Boerevolk wat verswelg word in die honger kele van wagtende adders.

Die breek van hierdie koeke of die roer van die pap, is goed beplande aksies - en dit werk. Dit het die tyd ons geleer.

Terwyl die swart kommuniste in die buiteland was, het hulle die hulp van goeie wit base gehad, wie se doel dit ook was om die Boerevolk te vernietig. Oor 'n tydperk van jare het hulle 'n deeglike studie van die Boer gemaak. Hulle het gesien wat sy deugde en sy swakhede is. Hulle het fyn geleer hoe om hom onopsigtelik te nader, sy vertroue te wen en hom dan te vernietig sodat een of ander honger draak vinnig die krummels kan optel.

Verskeie oudlede van Nasionale Intelligensie en die Veiligheidspolisie het met my gesprek gevoer terwyl die aanloop na ons volk se vernietiging aan die gang was. Hulle het sommer vrywillig ingestap om te gesels. Ek het hulle nooit vertrou nie. Daardie mense is so gebreinspoel dat hulle hulle eie volk, selfs hulle familie, vir 'n pot lensiesop sal verruil. Vir hulle tel net prestasie by hulle base. Maak nie saak of daardie base De Klerk of Mandela is nie.

Hierdie mense het egter vir my 'n paar dinge vertel wat ek onthou. Een het gesê: "Julle regses is 'n snaakse klomp. Waar drie van julle staan en gesels, is een 'n verraaier." Wat 'n geweldige aanklag. 'n Belediging! Of is dit dalk waar?

'n Ander een het my vertel hoe naïef ons mense werklik is. Hulle infiltreer groepe op die platteland. Gee voor dat hulle ook Boere is wat eenders oor sake voel. Sommer met die tweede ontmoeting ontboesem die Boere al hulle hartsgeheime aan hierdie krummelpikkers en hulle gaan dra dit alles oor. So goedvertrouend is ons mense. Hulle laat die krummels val.

Nie alleen is hierdie spioene deeglik opgelei om hulle eie mense te infiltreer nie, maar agter hulle in die skemer skuil die meesterbreine. Met hulle deeglike kennis van die opregtheid en egtheid van die Boervolk, vernietig hulle hom stelselmatig.

Kyk maar hoe val die grotes rondom ons.

Die eens magtige Afrikaner-Broederbond, wat gestig was om die Boerevolk se regte op elke terrein van die volkslewe kragtig te bevorder, is geïnfiltreer, verdag gemaak, van koers geswaai en vernietig.

Die Nasionale Party waarin generaal Hertzog, Malan, Verwoerd en ander uitmuntende leiers die verbeelding van die Boervolk aangegryp het, sodat hy alles daarvoor sou gee in die bereiking van sy volksideale, is netjies van koers gestuur na die ashoop. Wat bly oor? Net die krummels.

Kyk waar lê daardie krummels vandag! Willoos lê baie van hulle in die mae van die ANC (selfs in die parlement) en in nikswerd volksvreemde partytjies wat die meesterbreine vooraf geskep en fyn beplan het. Weg van die Boervolk af.

Onder hierdie gerysmierde groepe tel nie net politieke groepe nie. Gaan kyk maar hoe lyk sommige kultuurorganisasies soos die eens trotse en gewaardeerde FAK wat die draer van die Boerekultuur was!

Gaan kyk maar na die huidige doelstellings van die Rapportryers, voormalige frontorganisasie van die Broederbond.

Gaan kyk maar na die oorblyfsels van eens trotse semi-militêre Boere-organisasies wat moes help om selfs, as dit nodig sou word, vir ons vryheid te veg.

Erger nog, gaan kyk na die flenters van sommige van ons grootste Afrikaanse kerke. Onherkenbaar.

Die base van die kommuniste het deeglike werk gedoen. Waar dink u is al hierdie aksies, ondermyning, infiltrasie, vernietiging beplan? Dit is deur meesterbreine in die VSA en Moskou beplan - en ... dit het gewerk.

Die krummels lê op 'n streep! Die honde en die miere vreet. Willoos lê hulle daar. As jy met hulle praat, gryp hulle jou aan die keel. Hulle wil opgevreet word!

Goddank vir dit wat heel gebly het en vir die krummels wat gevang en gered kon word voor die gapende bekke van die vyand.

Goddank vir die ywerige bakkers wat die krummels optel en die brode weer bak.

Onvermoeid werk hulle. Dag en nag sonder rus. Die brood sal weer gebak word. Die suurdeeg rys al.

Vang die krummels! Elkeen is kosbaar! Elkeen het 'n Boere-siel! Elkeen het Boerehande en 'n Boerebrein, wat weer kan bou aan ons kosbare Boererepubliek!