Die dag sal kom... soos by Vereeniging
Dr Harry Mocke
Lees reeks by 1994: Slag van Meintjeskop
Die pad deur Sinai
"Dit is 27 April 1994. Vervloekte dag vir die Boerevolk. Sy 'verspieders' word lam in die knieë. Dit word aanlokliker om by die vyand aan te sluit."
Die bussie met sewentien van ons, 'n bestuurder en 'n gids, rol soos 'n miskruier se waardevolle bolletjie deur die Sinaiwoestyn. Dit duik deur die nuwe tonnel onderdeur die Suezkanaal en swaai suidwaarts, al langs die Rooisee deur die woestyn. Sand, sand, sand.
Dit is warm. Sommer baie warm. Die lugversorgingstelsel van die bussie doen sy bes, maar verloor grootliks sy stryd teen die woestynson. In die mik van die Rooisee en die Golf van Akkaba, by die Berg Horeb, waar die braambos ook staan, oornag ons. Hier in die vlakte voor die beroemde berg, sien jy voor jou geestesoog die kamperende Israeliete. Groot dinge vleg deur jou gemoed.
Vroegmôre weer deur die woestyn, al langs die Golf van Akkaba. Sand. Hitte. Eindelik Eilat met heelwat lewe. Dan noordwaarts tot by die Dooiesee, met uitsig oor Jordanië, waar Moses met sy mense gewag het op die boodskap van die twaalf verspieders. Daarvandaan moes hulle omdraai, terug na die woestyn, die son, die sand, die hitte. Veertig jaar.
So het ons al op die spoor van Israel deur die woestyn gekom, terwyl die vergelykende gedagtes deur ons koppe maal.
Die Israeliete het nie eers 'n bussie met swak lugversorging gehad nie. Darem 'n wolk wat die Skepper voorsien het. Hulle ploeg deur die sand, die hitte en die woestynstorms tot reg voor die beloofde land.
Ongeloof, vrees, 'n verkeerde boodskap uit die monde van tien uit twaalf verspieders.
Die ellende tref hierdie volk. Terug na die woestyn met sy sand en sy hitte, vir veertig jaar. 'n Hele geslag moet sterf omdat hulle ongehoorsaam en ongelowig was. Nie eens daardie Godsman, Moses, smaak die voorreg om die beloofde land, ".. . wat oorloop van melk en heuning . . ." binne te gaan nie. God neem hom darem tot op 'n berg en wys hom die land.
Deur die "woestyn" van swaarkry kom hulle. Die Boerevolk.
Verdrukking, honger, koue, moord, oorlog, armoede. Hulle bou 'n land, saam met die inheemse volkere. Hulle ontwerp 'n regverdige beleid van afsonderlike ontwikkeling, waarin elke volk homself kan regeer. Hulle streef na 'n eie blanke land, maar bereik dit glad nie.
Hulle verslaaf hulleself aan swart arbeid, laat selfs hulle kosbare kleuters deur swartes grootmaak en opvoed. So verloor daardie kinders hulle gevoel van rassesuiwerheid, wat die lewensbloed van 'n volk se voortbestaan is. Van hulle word die blanke lede van die ANC en selfs verder links.
Dit is 27 April 1994. Vervloekte dag vir die Boerevolk. Sy "verspieders" word lam in die knieë. Dit word aanlokliker om by die vyand aan te sluit. Dit is makliker. Die weg van die minste weerstand. Jy word sommer nog 'n reuse bedrag betaal ook. Hulle wil jou graag daar hê.
Terug na Sinai, na die woestyn, na die hitte en die son. Jy moet jou straf gaan uitdien, want jy het vals leiers gevolg. Jy was ontrou aan jou roeping. Ontrou aan die vryheidsideaal van die Boerevolk.
Sal dit veertig jaar duur?
Sal 'n hele geslag moet verdwyn voordat die grense oorgesteek word?
Sal daar manna en kwartels wees, of sal die honger en dors sy tol eis?
Die antwoorde op al hierdie vrae lê vlak en naby. Sommer hier by onsself. As die wil en die moed ontbreek, lê dit veertig jaar vorentoe, waar 'n geslag met wil en dapperheid wag. As die wil en die moed nou daar is, en die lafhartigheid verdwyn, is die jare dalk veel minder.