Die dag sal kom... soos by Vereeniging
Dr Harry Mocke
Lees reeks by 1994: Slag van Meintjeskop
"Kyk, daar staan jou naam!"
Tussen al die verpligtinge en skaars vakansieplekkies langs die kus, vind ons tog op die laaste oomblik 'n plekkie tussen die advertensies in Patriot. Agt dae, tot direk voor Kersfees, is nog beskikbaar. Ons sluit vir die Kersreses, pak die goedjies in, en sit af na die "Suidkus".
Daar ontmoet ons die vriendelike huisbaas. Boer, soos ons. Hy het mos sy plek in Patriot geadverteer.
Ons maak kennis, gesels lekker, hou van mekaar. Die volgende oggend keer hy terug, vra 'n bietjie uit en identifiseer my sonder omhaal van woorde: "Daar staan jou naam tussen die 'super Afrikaners'." Dit is nou daardie boek waarin al die gewese en huidige Broederbonders se name opgeteken staan.
Ons bly groot vriende, want ek kan hom die blye tyding bring dat ek lankal nie meer aan daardie groepie behoort nie.
Dit is nou elfuur in die aand. Vanaand het my ver in die verlede laat dink, aan die debatsverenigings in die Vrystaat, die Geloftefeeste wat sommer drie dae lank aangehou het, aan my dae as jong jeugbonder in Pretoria, toe ons vir dr en mev Verwoerd gaan sing het voor Libertas en daarna ingenooi is vir 'n glas koeldrank. Daardie dae kon jy nog ongehinderd tot voor Libertas loop, sonder om 'n veiligheidswag te sien.
Ek dink aan my dae as sekretaris van die Kultuurraad van Pretoria, as Voortrekker-offisier, as junior en senior Rapportryer.
Ja, daardie was mooi kultuurdae. Daardie trots om 'n Boerseun te wees, sal ek nooit vergeet nie, al word ek honderd jaar oud. Daardie gloed binne in jou, daardie deelwees van die jeug van ons Boerevolk.
Maar vanaand het my gedagtes teruggegaan na die einde van die vyftigerjare. Vanaand het ek die eer gehad om in die teenwoordigheid van 'n groep Verkenners te staan en een van hulle te word.
Dit was in 'n sekere sin 'n voorbegin!
Ek onthou die aand toe ek as Ruiter 243 ingestel is. Om deel van die Ruiterwag te kon word, was iets baie, baie besonders. Ek het ook daar tussen die groepie gestaan.
"... jy kom nie om gedien te word nie, maar om te dien!"
Dit was deel van die formulier. Ek weet nie of dit vandag nog daar staan nie. Daardie dae het dit, en dit was die waarheid. Ons het geen persoonlike voordele gevra nie en ook niks gekry nie. Dit was mooi dae! Dae van onvoorwaardelike diens, opoffering, gee, gee.
Aan die einde van die sestigerjare staan ek weer midde in 'n groep Broederbonders. Ek word een van hulle.
Weer jare van onvoorwaardelike diens aan my volk. Geen persoonlike voordele gevra nie, nie eers daaraan gedink nie, niks gekry nie, behalwe die voldoening wat 'n tevrede arbeider kry na 'n dag se goeie werk.
Toe begin alles verrot van binne. Die Broederbond verrot. Die Ruiterwag verrot. Die Rapportryers verrot. Hulle word van binne uitgehol en van buite oorheers en misbruik deur liberaliste in die top-eskalons van die regering, wat by elke Bondsberaad "met trane in die oë" vir 'n klomp liggelowige sotte kom vertel hulle kan nie anders as om die land aan die ANC te oorhandig nie. Die meeste huil saam en gee saam oor.
Groot klompe regte Boere loop die pad nie meer saam nie. Hulle spring van die selfmoordwa af. Ek was een.
Ek het vanaand weer voor begin. Ek het deel geword van 'n groepie van my mense. Ek kan nie gaan rus voordat ek dit hier neergepen het nie. Ek voel dankbaar en diensbaar.
Ons wil nooit deel van die ANC-land wees nie.
Ons wil ons eie kultuurbewegings en diensorganisasies hê waar ons ons volk kan dien en ophef, sonder om onsself te bevoordeel. Ons wil ons Skepper en ons volk dien.
". . . kyk, daar staan jou naam!"
Dit is waar ek my naam wil hê, en dit staan daar vir elkeen om te sien. Dit staan tussen die name van my mense!