1994: VOLK GESLAG OP MEINTJESKOP (16)

Die dag sal kom... soos by Vereeniging

Dr Harry Mocke

Lees reeks by 1994: Slag van Meintjeskop

Verkeersvloei van die lewe

Dit is vroegoggend. Duisende motoriste is op pad werk toe. Hier en daar sien jy die rustige soort wat vir genoeg tyd voorsiening gemaak het om rustig en versigtig te kan ry. Die meeste bestuurders sit egter met strak gesigte en soek na 'n opening in die linkerkantste of regterkantste baan, om moontlik tot by die volgende verkeerslig een motorlengte te wen. As daar net genoeg ruimte is om te waag, vlieg hy skielik uit en duik in daardie ruimtetjie in, al is dit teen die risiko van 'n botsing. Daaroor sal hy hom later bekommer.

Ek moet brandstof aanvul en verlaat die stroom na die vulstasie langsaan. Dadelik begin ek my bekommer oor die feit dat ek weer 'n plekkie sal moet vind in hierdie genadelose stroom wanneer ek terugkeer.

Ek laat die tenk hervul en ry terug. Nou wag ek vir die regie oomblik. Die vloei is konstant. Almal kyk strak vorentoe, sien jou nie eers raak nie. Jou saak.

Daar kom 'n geleentheid. Ek sit gereed en duik in. Die ou wat die ruimte gelaat het, ry egter taamlik vinnig en sy edele moet dus ietwat rem om vir my motor se lengte tussenin voorsiening te maak. Hy is vies. Flits sy ligte en beduie allerlei snaakse goed wat ek nie verstaan nie.

Gelukkig is ek in die linkerbaan en daar is 'n bietjie ruimte na die kant van die pad. Ek besluit om die "onreg" wat ek hom aangedoen het, reg te stel. Ek beweeg so ver moontlik na links, draai die venster oop en beduie dat hy kan verby kom, sodat hy sy regmatige plek voor my, waarvan ek hom "beroof" het, kan terugkry. Hy neem my aanbod aan, ry ken in die lug verby sonder om eers na hierdie indrukker te kyk. Maar ek weet, iets het tog sekerlik geskaaf hier binne.

So gaan dit daagliks in die strawwe verkeersvloei van "druktyd". Dit skuur, dit toet, dit skel, dit gluur en soms stamp dit onnodig.

Maar daar is diegene wat vir jou plek maak, wys dat jy kan inskuif en selfs glimlag. Dankie vir daardie bestuurders. Hulle het nie net 'n stuurwiel in die hand nie, hulle het ook 'n hart in die borskas. Dit is die soort wat verkwik voel as hy aan iemand anders 'n weldaad bewys het. Waai maar drie keer vir hom of haar om dankie te sê.

As plaasseun het ek dikwels gekyk hoe die miere werk. Hulle nael op en af met dieselfde smal paadjie, om voor die koms van die winter genoeg voedsel te versamel. Hulle het nie eers verkeersreëls wat sê dat hulle links of regs moet hou nie. Tog het ek nooit gesien dat twee miere teen mekaar bots en dan na die duikklopper moet gaan vir herstelwerk nie, Ek kon ook nie hoor dat hulle vir mekaar toet of op mekaar skree nie.

Gisteroggend het die stem agter my weer vir my een van die grootste lesse van die lewe geleer. Ek is beslis ook maar nie 'n engeltjie in die verkeer nie, maar gister was ek wel.

Ek sien 'n ou wat lank staan en wag terwyl die manne strak na vore kyk en verby ry. Ek gee hom geleentheid om in te kom en moet aanskou hoe dankbaar hy waai. Toe sê daardie stem agter my: "Weet jy wat, dit was nie net sy voorreg om voor jou in te draai nie, dit was ook sy reg. Hy het net soveel reg as jy om die pad te gebruik."

Die stem praat toe verder, want ek wou graag meer hoor. "Weet jy hoe bevoorreg is jy om so 'n pragtige gelyk teerpad te hê om op te ry? Weet jy hoe 'n voorreg dit is om selfs 'n motor te besit om mee te ry? Weet jy dat dit ook jou voorreg was om daardie ou 'n kans te gee?"

Terwyl ons voortbeweeg, neem die stem my na 'n ander pad en 'n ander verkeerspatroon. Die verkeersvloei van die lewe. Lyk dit nie ook maar soms soos die verkeersvloei in die straat nie? Toet ons nie soms ook maar vir die ou voor ons in die winkeltou of voor ons in die loopbaantou nie? Hy is in ons pad. Ons moet haastig verbykom, al druk ons hom soms uit die pad uit. Al kos dit soms 'n besoek aan die "duikklopper". Ons is haastig om ons doelwit te bereik.

Gaan dit nie maar in die "volksverkeer" ook so of dalk erger nie? Die politieke toneel is gewoonlik 'n woeste gestoei, gestamp, gestoot en geskel. Daar is nou 'n woeste verkeerstroom! Genadeloos! Elkeen glo hy is reg. Vir die een gaan dit daarom dat hy die groot leier wil wees. Vir die ander gaan dit daarom dat hy alles sal gee om sy volk te bevry van slawerny. Soms is die druk en stoot in hierdie stroom geregverdig. Dit hang net af wat die motief is.

Dit het tyd geword dat ons ons eie rol in die verkeersvloei sal toets. Wat is my rol in

-           gesinsverkeer;

-           huweliksverkeer;

-           volksverkeer;

-           padverkeer;

-           loopbaanverkeer, maar

-           bowe-al Hemelverkeer?

In hierdie bewoë dae is ons volksverkeer seker taamlik hoog op die lys.

As ons langs die pad bly sit, gaan ons nooit in die stroom kom en ons bestemming bereik nie.

As ons op die verkeerde oomblik indruk, gaan ons 'n botsing veroorsaak, wat ons gang kan vertraag.

As ons wag vir daardie ou met die mooi gesindheid, kan ons saam met hom 'n span in die verkeersvloei vorm.

In die daaglikse verkeersvloei op ons paaie, is daar vaste verkeersreëls wat oor die jare opgestel is. Op die volkspad was daar in die ou beskaafde Suid-Afrika ook erekodes en reëls. In hierdie lokasie waarin ons nou verplig word om te woon, geld die reëls van die oerwoud. Beskaafdheid is eenkant toe geskuif. Dit steel en gryp en stamp en doen nog veel erger dinge.

Uit hierdie oerwoud sal ons weer moet uit, en gou ook.

Ons sal selfs nuwe reëls moet opstel om hier uit te kom, al sal die reëls onkonvensioneel en selfs genadeloos wees. Soortgelyk aan die reëls wat gegeld het om ons hier te kry.

Dit is geregverdig!