SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (3)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Aansluitend by Meintjes se siening van oom Nieklas as 'n tweede Johannes, is dit heel interessant om 'n paar van die simbole wat deur Johannes in Openbaring gebruik word, te vergelyk met dié wat die Boereprofeet in sy visioene oor die Boerevolk gesien het. ( Dis ook opvallend dat baie van die simbole uit hul alledaagse lewe gekom het: die plante- en diereryk, die hemelruim, gewone gebruiksartikels en hulle ervaringswêreld):

Johannes: Die son word swart soos 'n harige sak en die maan  word soos bloed. Hy sien engele wat die vier winde van die aarde vashou; hy sien 'n wierookbak waaruit daar stemme,  donderslae, weerligte en aardbewings gegooi word. Dan verskyn daar sprinkane met die voorkoms van perde en die gesigte van mense; daar is perde met leeukoppe en uit hul bekke spuug vuur en rook en swael. Later gewaar hy 'n vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings; 'n slang uit wie se bek water soos'n rivierstroom, en 'n vrou wat met die vlerke van 'n arend vir die draak wegvlieg.

Siener: In die tafereel wat tydens oom Nieklas se oomblikke van heldersiendheid voor hom afspeel, storm bulle en ramme van verskillende kleure op mekaar af; daar is dikwels gebreekte horings of bene. Waens met blou, rooi of vaal osse rammel verby. Voëls vlieg uit standbeelde se bekke; springbokke trek oor 'n stuk verskroeide aarde in Oos-Europa; 'n swart gordyn val oor Rusland en na die weste is die aarde omgeploeg. Uit die suide kom varke aangehardloop en verander skielik in mensegedaantes; 'n jong, Ierse meisie word in 'n oogwink volwasse. Uit 'n groot tenk rol fyn skaapmis en meteens word die hele aarde 'n groot miswerf.' n Plaat garingbome beweeg na die noorde en in die noordweste val 'n emmer bloed om.

Die Tweede Vryheidsoorlog en Siener se eerste visioen

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, het Nicolaas van Rensburg se gawe om in die toekoms te sien, meteens tot volle ontwaking gekom, maar daarmee saam het sy lewe ook 'n nagmerrie geword. Hy het self erken dat dit vir hom verskriklik was, want hy moes die oorlog twee maal deurmaak — eers in sy visioene en daarna in die werklikheid. Die dinge wat hy in die toekoms begin sien het, was genoeg om selfs 'n sterk man se moed te breek.

Saam met sy broer Pieter, is Nieklas opgekommandeer om by veggeneraal Du Toit se kommando aan te sluit. Die kommando's van Wes-Transvaal was onder die opperbevel van generaal Piet Cronjé, bygestaan deur Koos de la Rey as sy adviseur.

Nadat Cronjé by Magersfontein bo-op die berg vasgekeer is, het generaal de Wet vir Danie Theron deur die Engelse kolonne laat kruip om vir hom te sê hy sal op 'n sekere plek vir hom 'n pad oopskiet waardeur genl. Cronjé en sy 4 000 man kan ontvlug. Maar Cronjé wou nie. Oom Nieklas en 'n klompie burgers het egter daar uitgekom en was toe onder genl. de Wet se bevel.

Op Taungs ('n dorpie in die destydse Botswana) het oom Nieklas een aand 'n diens vir die manne gehou. Hy was moeg en wou vroeg gaan inkruip. Maar laatnag het hy wakker geskrik van 'n swaar, vreemde drukking in sy kop — dit was so erg dat hy half duiselig geraak het. Hy het sy kop in sy hande vasgegryp, sy oë toegeknyp en verskrik gewonder wat nou gebeur. Toe het hy sy broer, Pieter, wakker gemaak en gesê hy is bang.

Maar Pieter het gemeen dit was net 'n nagmerrie en verder gcslaap. Nieklas het toe beangs die tent verlaat en die veld ingestap. Daar het die drukking in sy kop hom weer oorval. Hy het met sy kop in sy hande op die grond gaan lê en sy oë gesluit. Toe eers sien hy die malende wolke wat al hoe digter saampak. Eers het hy gemeen dis werklik 'n storm wat opsteek, maar die wolke het skielik oopgetrek en voor hom het 'n landskap uitgestrek.

Die toneel wat daardie nag voor hom afgespeel het, was so verskriklik dat Nieklas gedink het hy gaan sy verstand verloor.

Dagbreek die volgende oggend toe die burgers begin opsaal, merk veldkornet Jan van Wyk dat Nieklas weg is. 'n Klompie van die manne het toe na hom begin soek. Na 'n lang ruk kry hulle hom waar hy vreesbevange onder 'n vaalbos ingekruip het. Sy hare was deurmekaar, sy gesig vuil van stof en trane en sy klere gehawend en vol grond.

Van die manskappe het dit snaaks gevind en vir hom gelag omdat hy vir hulle soos 'n 'takhaar' gelyk het. Nieklas het egter niks gesê nie, en was oënskynlik heeltemal kalm ten spyte van sy wilde voorkoms. Slegs veldkornet Jan van Wyk (wat later sy swaer sou word) het die onbeskryflike lyding wat hy deurgemaak het in sy rooi gehuilde oë en afgekoude, bebloede vingernaels gesien.

Die jong veldkornet het gewag totdat hulle twee alleen in die kamp was en Van Rensburg toe gevra: 'Oom Klasie, wat het gisternag gebeur?"

Die dinge wat Nieklas van Rensburg hom vertel het, was so skrikwekkend dat veldkornet Van Wyk dit nie wou glo nie.

Generaal De la Rey

Hy gaan rapporteer toe die saak aan genl. De la Rey, en tot sy verbasing versoek die generaal hom om Van Rensburg te gaan haal. Daar moes Nieklas toe ook aan genl. De la Rey van die visioen vertel. (Hier in sy eie woorde):

"Laasnag het ek iets vreesliks gesien, Generaal. Ons gaan nou Kimberley toe, maar ons sal nie lank daar wees nie. Ek het net hierdie gevoel gekry dat ons weer ry, suidwaarts. En toe kom die visioen: Ek sien ons manne oor 'n donker aarde wegvlug. Dan sien ek ons vroue en ons kinders in hulle honderde en duisende saamgebondel. Ek kan nou nog die arme kindertjies hoor huil. Die vroue was ook vol verdriet en wanhoop; en soos hulle aangejaag word, het ek net gesien hoe ons huise en lande brand, 'n vuurgloed van horison tot horison —   alles toe onder rook en vlamme... Dit was so verskriklik, Generaal!" Toe hy klaar vertel het, vat De la Rey oor sy gesig en prewel: "Mag God ons behoed. Gaan nou terug na jou manne, want ons moet ry. As jy weer iets sien, kom vertel my dadelik. Wees egter versigtig met wie jy daaroor praat, want die kêrels sal dit tog nie glo nie en jou net weer uitlag. Maar kom na my toe..."

Jan van Wyk loop toe 'n entjie saam met Van Rensburg en vra:

"Oom Klasie, beteken dit dan dat ons die oorlog gaan verloor? En wat gaan die Ingelse met ons vrouens en kinders maak? En hoekom sal ons huise en plase brand? Wat beteken dit alles, Oom?"

Nieklas van Rensburg het net sy skouers opgehaal, hy was nog te geskok en verslae om helder te kan dink.

"Ek hoop maar net dit was 'n nagmerrie, Oom," het veldkornet Jan van Wyk gesê toe hulle uitmekaargaan.

Maar wat nog hy nog genl. De la Rey besef het, was dat die 'profeet' Nicolaas van Rensburg op daardie nag van 16 Oktober 1899 by Taungs gebore is. Want dit was skaars vyf dae na die uitbreek van die oorlog, en selfs nie eens die Engelse soldate kon in daardie stadium droom van die verskrikking wat Lord Roberts en Lord Kitchener se beleid van 'verskroeide aarde' en moordkampe nog tot gevoig sou hê nie.

(Tot en met die einde van die oorlog in 1902 sou meer as 26 000 mense, vroue en kinders sterf en meer as 63 000 huise en plase deur brandstigting vernietig word).

Nieklas is kort na hierdie visioen huis toe gestuur om te gaan herstel. Fisies was hy 'n wrak en daar is kenners wat meen hy het nooit heeltemal van daardie skokkende ervaring herstel nie.

Al troos vir hom was dat die generaal hom glo, maar dit was nie genoeg nie. Die pyn en hartseer oor die donker toekoms van sy volk kon nie versag word nie. Veral nie die beeld van die vlugtende vroue en kinders nie — dit sou hom jare later nog teister.

Daar het sy jare Iange vriendskap met genl. Koos de la Rey begin. Die genl. het hulle eerste gesprek nooit vergeet nie. "Wie sou ooit aan die begin van die oorlog aan so iets kon gedink het?" het hy later geskryf. "Geen wonder die burgers het gedink Nieklas van Rensburg is mal nie. Maar hy was nie mal nie."

Gedurende die byna drie jaar wat die oorlog geduur het, het die Siener se bonatuurlike gawe sy grootste uitdrukking gevind. En een van die redes waarom al hoe meer mense in hom begin glo het, is omdat genl. De la Rey hom ernstig opgeneem het. Hoewel De la Rey 'n militêre genie was, was hy ook 'n pasifis, 'n man wat beglnselvas teen alle oorlogsgeweld gestaan het.

Veldprediker

Van Rensburg het nooit vir baie lank by dieselfde kommando gebly nie, maar het van die een na die ander gery. Tog is hy meer dikwels by Genl. De la Rey se manskappe gesien. Omdat predikante en dokters al hoe skaarser geword het, was hy ook altyd welkom wanneer hy by 'n kommando aangesluit het. Eerder as om die vyand te skiet, het hy verkies om vir die Boere te preek en vir hulle die morele ondersteuning te gee wat hulle dikwels baie nodig gehad het. Hy het die plek van 'n predikant begin volstaan en sy groot Bybelkennis het baie mense beïndruk.

Daar was egter ook diegene wat skepties teenoor Siener van Rensburg se gawe gestaan het. Beide president M.T. Steyn en generaal J.B.M. Hertzog wou aanvanklik niks van hom weet nie. Maar hulle het hul mening egter spoedig verander nadat hulle in een stadium genl. De la Rey se gaste was. Siener het kom waarsku dat die twee staatsmanne dringend moet padgee omdat die vyand op pad was om hulle te vang.

President Steyn en genl. Hertzog het gedink dis sommer bogpraatjies. Maar toe dring Koos de la Rey by hulle aan om na Siener te luister.

Meer as tien jaar later en in antwoord op vrae 2198-2202 in die rapport van die Gekose Komitee oor die Rebellie het genl. Hertzog breedvoerig vertel wat daardie dag gebeur het.

Dit bly vandag steeds 'n raaisel en wonderwerk hoe 'n handjievol Boere destyds die ganse Britse leër dwarsoor die land so opdraande kon gee. Nieklas van Rensburg het bes moontlik 'n groot bydrae hiertoe gelewer. Hy het dikwels die Engelse se bewegings vooruit gesien en kon dan die aanvoerders daaromtrent waarsku:

"Hierdie kamp mag nie hier bly nie!" het hy menige keer gewaarsku: "want ek sien die Engelse hier met dagbreek." En byna altyd was dit so. Op dieselfde manier het hy ook die koms van boodskappers voorspel. By verskillende geleenthede het hy gesê: "Generaal moet nog 'n paar uur hier vertoef. Ek sien twee manne te perd: 'n bruin perd en 'n wit perd, met 'n brief." Die boodskapper het inderdaad dan ook met belangrike nuus opgedaag.

Vervolg...