SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (5)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Pres. Steyn en die Siener

Nie lank ná die gebeure by die Caledonrivier nie was genl. De Wet en sowat 600 van sy manskappe naby Heilbron en Memel op 'n plaas waar hulle in meer as 'n week lank geen spoor van 'n Engelsman gesien het nie. Maar een middag omstreeks drie- of vieruur sien hulle 'n stofwolk in die pad aankom. Dit was pres. Steyn en die Siener in 'n 'spider'. Hulle bring toe 'n brief van genl. Koos de la Rey aan genl. De Wet. Daarin staan: "Ek stuur Steyn en die Siener na jou, want ek hoor jy het so 'n lekker, veilige rusplek daar. Die Engelse jaag my dat dit so kraak. Steyn en die Siener moet 'n rukkie by jou rus."

By hulle aankoms op Roodewal het pres. Steyn in die verewaentjie gelê terwyl genl. Hertzog op die warm middag vir hom voorlees uit 'Quo Vadis'. Die Siener het so bietjie op die werf rondgestap en ook met Jack Brebner, die president se sekretaris gesels waar hy in sy saal lê en rus het. Skielik roep Brebner uit: "President, hoor wat vertel oom Nieklas hier!" Daarop laat roep pres. Steyn die Siener wat aan hom vertel dat hy wit vlaggies sien, dan sien hy ook nog snaakse huise by 'n sloot. "President," het hy toe gesê en in die rigting van Kroonstad gewys: "Twee perderuiters is op pad — een wit en een swart." Die volgende dag kom daar toe werklik twee perderuiters aan — een op 'n spierwit perd en die ander op ' n swarte. Hulle het 'n brief van waarnemende pres. Schalk Burger en die Transvaalse regering vir pres. Steyn gebring!

Tydens 'n volgende besoek, het oom Nieklas in die teenwoordigheid van genl. Hertzog en pres. Steyn aan genl. De la Rey gesê hy het 'n gesig gehad dat Engelse troepe vroeg die volgende oggend, nog voordat die môrester sal verskyn, op die plaas gaan toesak. Op sy advies het genl. De la Rey dadelik laat opsaal en vir Siener en die president met die ' spider' vooruitgestuur.

Twee van De la Rey se adjudante het egter die Siener se waarskuwing in die wind geslaan en op die plaas agtergebly. Die volgende dag het genl. De Wet berig ontvang dat die Engelse vroegoggend op die plaas toegeslaan het en die twee adjudante gevange geneem het.

Oor hierdie insident het genl. Christiaan de Wet sowat ses maande voor sy dood op 'n Sondagmiddag teenoor 'n jong Hollander van De Wetsdorp opgemerk: "Kan jy nou sien, Kruger. Dit was nie generaal De la Rey of ek wat so dapper was nie: dit was Gods Hand!"

Genl. De Wet het hom toe ook as volg oor sy geloof in oom Nieklas se gesigte uitgelaat: "Daar is baie mense wat nie glo wat die Siener vertel nie, maar dieselfde God wat in Israel se tyd geleef het, leef nog. En dis nie ek wat in die oorlog so 'n groot krygsman was nie: nee, dit was Gods werk deur die Siener wat my daartoe in staat gestel het."

Inteenstelling met genl. Kemp wat huiwerig was om aan oom Nieklas erkenning te gee vir sy besondere gawe om dinge 'vooruit te sien', het genls. De Wet, Koos de la Rey en Hertzog dit gereeld en onomwonde gedoen. So was daar die keer toe genl. De Wet en sy manskappe naby Sannaspos by 'n spruit aangekom het om daar oor te staan. Die Siener het hom egter onmiddellik gewaarsku hy 'sien' daar is 'n sterk Engelse mag van Bloemfontein af in aantog en dat hulle spesiaal kom om die generaal daar te verras en gevange te neem. Genl. de Wet het toe na die Siener geluister en sy manskappe daar versteek. Die Engelse arriveer toe ook kort daarna. Die genl. en sy manne het hulle toe ontwapen, uit hulle klere geskud en kaal Bloemfontein toe teruggejaag om die storie daar te gaan vertel!

Vervolg...