Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Staan my huis nog, oom Klasie?
Vir die duur van die Boereoorlog het baie van die manne kort-kort hulle troos by oom Nieklas gaan soek. Hulle het geweet dat hy in die toekoms kan sien en hulle het hom die belangrikste vrae gevra: "Oom, staan my huis nog, of is dit ook al afgebrand?" "Waar is my vrou en kinders?" "Lewe my seun nog?" Daar was baie vrae wat die manne gekwel het en dit blyk tog dat die Siener hierdie mense se behoeftes en vrese begryp het en dat hy hulle probeer help het. Dit was altyd met huiwering dat hy die vrae beantwoord het, want hy wou nie sy makkers ontstel nie en wat hy gesien het, het hy so geïnterpreteer dat dit vir hulle troos gebring het.
Hy het sy volk op hierdie manier gedien, en as alles rondom hulle duisternis was en hulle in wanhoop verval het, dan het hy die Woord van God gebruik om hulle geestelik te voed en opnuut te verkwik. In daardie donker en droewige tydperk was die Siener se begrip en meelewing vir baie mense 'n besieling. Dit alreeds is rede genoeg om sy nagedagtenis te vereer. Hy het dwarsdeur die oorlogsjare na aan sy mense geleef; ook op 'n baie meer intiemer voet met hulle verkeer as voorheen en dit het sy liefde vir sy vaderland en sy volk verdiep. Hy het sy volk begin dien uit liefde en sy gawe was 'n gawe van God in diens van die Boerevolk.
Indien 'n mens sou probeer om al die visioene van Siener te verklaar en te interpreteer, sou dit 'n boek van honderde bladsye beslaan. Al die visioene en voorspellings wat hy gedurende die Boereoorlog gesien het, is ongelukkig nie bewaar nie en die Boere wat in die oorlog geveg het, leef vandag nie meer nie. Al waarvan ons wel weet, is die klompie wat in die volksmond behoue gebly hel. Die ander wat hy so van dag tot dag gesien het, is nooit opgeteken nie.
Generaal De la Rey het op 'n keer verklaar: "Indien daar ooit 'n boek oor die Siener geskryf word, dan sal dit een van die interessantste bydraes tot die literatuur oor die Tweede Vryheidsoorlog maak."
Daar is geskiedskrywers wat beweer dat Siener dikwels die groot krygsman, genl. Koos de la Rey, van krygsadvies voorsien het. Dit is egter nie waar nie. Siener het bittermin krygskennis gehad en sou hom nooit daarmee bemoei het nie. Wat wel vir die generaal van waarde was, was dat oom Nieklas getalsterktes kon sien, asook die rigting waaruit hulle die vyand kon verwag. Dit het De la Rey dan in staat gestel om sy kommando's te verdeel en op strategiese plekke te plaas.
Soms het van die bevelvoerders hulle nie aan oom Nieklas se waarskuwings gesteur nie en dikwels met rampspoedige gevolge, maar deurgaans was die woord van 'oom Siener' wet. Nieklas was egter altyd nederig. Hy het 'n persoonlike stryd met Satan gevoer, want vir hom was die duiwel 'n werklikheid. Hoogmoed oor sy wonderlike gawe het nooit eens by hom opgekom nie.
As oom Nieklas gepraat het, het almal stilgebly en geluister. Dan het hy van sy vreemde visioene vertel, visioene waarin daar gevegte is tussen blesbokbulle, ramme en stiere, van bloed en siwwe en ploeë, van swart gordyne, emmers, wit papiere, lanferlappe, blomme, toue, die son die maan die sterre en komete, van vlae, sekels en stene...
Vandag is die ou duiwel naby!
Mev. M.M. Hoffman van Kuruman vertel die volgende kostelike staaltjie wat haar pa een nag tydens die Boereoorlog saam met die Siener beleef het:
...U sien ek is in die distrik van Wolmaransstad op Uitkyk gebore, het daar grootgeword en is ook daar getroud; dus ken ek al die figure waarvan u melding maak in die reeks. My pa, Jan Scholtz (Johan Frederick), was 'n tyd lank 'ruitermaats' van die Siener.
Een nag het dit baie gereën waar die troepekamp moes oorstaan. Pa en oom Nieklas het takke gevat, dit opmekaar gepak en die saalkleedjies daarop neergesit. Toe het hulle daarop geslaap met die seiltjie bo-oor hulle twee. Pa vertel oom Nieklas was heeltyd onrustig en het kort-kort gesê:" Ou Jannie, vannag is die duiwel so naby my soos nog nooit vantevore nie!" Pa meen toe maar dat dit die Engelse in die nabyheid is.
Die volgende môre toe hulle opstaan, lê daar ‘n groot slang tussen die takke onder die seiltjie, en dit was so nat dat die water oor die veld geloop het.
Dus was die 'ou duiwel' daardie nag naby hulle gewees!
My vader was die hele drie-jarige Oorlog op kommando. My ma en ons kinders is weggevoer op 'n muilwa Klerksdorp se kamp toe en ons kon net 'n paar goedjies saamneem. Ons was twee gesinne, my pa se ouers en my ma se ouers. Toe hulle wegry, is die huise aan die brandgesteek met alles wat daarin was. Ná die oorlog het net 'n geroeste hemelbed in die murasie gestaan..."
Vervolg...