SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (7)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

DIE POENSKOPBUL

Een van Siener se baie bekende visioene uit die Tweede Vryheids-oorlog was dié van genl. Koos De la Rey se laaste groot geveg teen Lord Methuen. Die slag is vooraf deeglik beplan en veldkornet Yeats wat daar teenwoordig was, vertel wat gebeur het:

"Die aand nadat ons krygsraad gehou het, stuur genl. De la Rey my om oom Nieklas te gaan roep om te hoor of hy intussen weer iets'gesien' het. Oom Nieklas het kopgeknik en sy visioen aan ons beskryf:

"Ek sien 'n rooi afrikanerbul van Vryburg af kom. Sy horings staan reg vorentoe. Hy wil graag baklei. Hy is moedig en sterk, maar as hy by Baberspan kom, verander hy in 'n rooi skillerbul en begin sy horings te hang. Sy moed is uit.

Hy begin al sleg voel. Maar dit sal nog slegter met hom gaan, want wanneer hy by Hartsrivier kom, is hy heeltemal poenskop. Hy kan nie meer stoot nie. Dan sien ek hom daar by Tweebos met 'n gebreekte voorpoot. Hy is nou ook 'n wit poena en lê gewond in die stof. Daar kom toe 'n swartetjie, hy gooi 'n riem om die bul se kop en lei hom terug soos hy gekom het." En as 'n nagedagte het die Siener toe bygevoeg: "Hy moet dus dan ontwapen wees..."

Met die Engelse se verpletterende neerlaag by Klipdrift het hulle Lord Methuen gevind waar hy in die stof met 'n gewonde been gelê het. Hy het nooit weer aan die oorlog deelgeneem nie.

Toe Boy Mussmann later by die Siener wou weet hoekom hy Lord Methuen as 'n skillerbul gesien het, het die ou profeet geantwoord: " Seker maar omdat sy mag bestaan het uit hendsoppers, National Scouts van Kaapland, Tommies, Kleurlinge en Swartes — 'n regte bontspul!"

Kort daarna het die laaste vredesonderhandelinge begin en weer het Van Rensburg alles vooraf haarfyn beskryf: Hy het aan genl. De la Rey gesê: "Julle sal teken met die Engelsman se knie..." (M.a.w. die vrede sou volgens Engeland se voorwaardes gesluit word).

Dan het oom Nieklas ook gepraat van die baie tente daar naby Vereeniging, van die vlae wat sou wapper en hy het selfs die plek waar die samesprekings gehou sou word, 'gesien': "Maar dis nie waar die vrede gesluit sal word nie. Ek sien 'n boerewoning in Pretoria — dis die plek..." Hy was toe reg, want op 31 Mei 1902 word die Vrede in George Heys se woning te Pretoria onderteken. Selfs generaal Barry Hertzog was hieroor totaal oorbluf en het later in die parlement dikwels oor Siener se visioene gepraat.