Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Lanferdoek oor Lichtenburg
Op Saterdag 11 Julie 1914 - skaars drie weke voor die uitbreek van die oorlog - daag die Siener onverwags by genl. De la Rey se plaas Elandsfontein naby Lichtenburg op. Dit was die eerste en enigste keer in die 15 jaar van hulle vriendskap dat oom Nieklas die sowat 90 kilometer afgelê het om die Generaal op sy plaas drie kilometer buite Lichtenburg te besoek. Hy het geweet hy is die draer van slegte nuus wat die lewe van sy geliefde vriend en volksman raak, en die tyding wou hy self oordra.
Die plaas Elandsfontein was 'n gewilde kuierplek. Van Boere-generaals en Britse staatsmanne tot dorpsmense en burgers het dikwels daar aangedoen. So ook mense op soek na staaltjies en die humor van die roemryke Generaal Koos de la Rey en die gasvryheid van tant Nonnie, sy vrou. 'n Gesellige atmosfeer het deurentyd op die plaas geheers, totdat die ou Siener op daardie dag daar aangekom het...
En die genl. het onmiddellik besef oom Nieklas het weer 'n gesig gehad, 'n gesig wat hom genoop het om die vermoeiende ent pad te perd af te lê om daaroor te kom praat. Hulle het nog skaars gegroet of die ou profeet sê: "Oom Koos, ek moes kom. Dis 'n ernstige saak."
Oom Nieklas het skielik daar ver gekyk asof hy nog iets gewaar. De la Rey het na oom Nieklas se groot vermoeide, droewige oë gekyk, na sy tenger, krom skouers en hy het met 'n beangste gemoed besef, Nieklas is nog meer verwese as daardie keer toe hy die verskriklike gesig oor die Boereoorlog gesien het! En die genl. het nie geweet wat om te sê nie. Eers toe hulle onder die stoep instap, lê hy sy hand op die ou man se skouer: ‘Jy lyk moeg en gedaan, oom Nieklas. Dis amper sononder - rus nou eers vannag uit dan praat ons more ...’
Die volgende dag se gebeure soos dit later opgeteken is deur genl. De la Rey se liefling-dogter, Polly. Sy het dit op versoek van die skrywer, Johannes Meintjes, gedoen:
"Ons het vroeg geëet en is vroeg na bed. Maar my vader het nie veel geslaap nie. (Haar ma, Nonnie, het dit later aan haar gesê). Hy was die volgende oggend ook vroeër as gewoonlik op. Maar dit was eers ná die gebruiklike huisgodsdiens en tee om elfuur dat ek en Vader saam met oom Nieklas na die rookkamertjie gegaan het. (Vader het nooit elders in die huis gerook nie).
Eers toe ons drie alleen daar was, het ek Vader kalm hoor sê, 'n kalmte wat hy net in gebed kon verkry het: 'Nou ja oom Nieklas laat ons hoor ...'
'Oom Koos,' begin die Siener toe praat: 'dis 'n ernstige saak. Daar gaan iets met jou gebeur: EIke keer wat ek jou sien, dan is jy kaalkop en jy weet dis ernstig.'
Ek onthou nog baie goed hoe verdrietig oom Nieklas was. Daar was trane in sy oë - hy was altyd vreeslik lief vir my vader. Maar ek kon nie verstaan wat aangaan nie.
Toe praat hy weer: 'Ek sien 'n wit papier met twee swart letters daarop- ‘n een en 'n vyf (15). Die wit papier met die swart vyftien hang oor Lichtenburg. Dan sien ek vir Oom en Oom is kaalkop. Dan sien ek dit word laat in die aand. 'n Swart lanferdoek hang oor die dorp ...'
Die gedeelte wat hier volg, is 'n woordelikse weergawe van die voorspelling:
Ek, sien ‘n groot blou water. Op die water drywe kurkproppe (skepe) groot kurkproppe. Dan sien ek iets baie klein onder die water (iets soos ‘n voertuigie), en as die klein voertuigie boontoe kom, dan sink die groot prop ... ‘
Vader het na my toe gedraai en haastig gefluister: 'Torpedo's.' Ek dink nie eens oom Nieklas het hom gehoor nie, want hy het voortgegaan: 'As ek weer so oor die blou water kyk, dan is die kurkproppe weg. Ek sien anderkant die water 'n groot man. Hy bly nie daarnie; hy bly hier in ons land. Hy is baie mooi aangetrek; hy dra goue knope aan sy baadjie en goud aan sy hoed. Hy het 'n lang swaard aan sy sy. Wanneer hy terugkom na ons land toe sien ek weer die wit papier met die swart syfer vyftien daarop, en ek sien toe weer vir oom Koos, en Oom is weer kaalkop. Die man wat toe teruggekom het trek toe sy mooi klere uit, haal sy swaard af en sê toe hy wil dit nie meer dra nie ...'
Vader het weer na my kant toe gefluister: 'Dit moet generaal Beyers wees want hy is mos oorsee.' Oom Nieklas het nie eens opgekyk nie: 'Ek sien toe van die noordekant af … ' 'Seker Pretoria,' het vader hardop gewonder.
'Dan kom ‘n lang wa wat met stoom werk.' - 'Moet 'n trein wees' het vader weer verduidelik asof ek nie verstaan nie.
'Ek sien nie juis mense in die wa nie; ek sien net 'n paar mense. Ou tante (De la Rey se vrou, Nonnie) is ook daar met die kinders en jy ook, Polly. Daar is pragtige blomme, net blomme waar jy kyk. Daar is ook baie kos in die wa, maar julle eet nie. Oom Koos is ook daar, maar Oom is kaalkop, en dit is nie goed nie ...'
Oom Nieklas raak toe so verdrietig dat hy nie dadelik verder kan praat nie. 'Die man met die mooi klere is ook daar in die wa. Die wa staan by baie plekke stil, en dan kom daar baie mense saam. Hulle is baie treurig. Dit het iets met oom Koos te doen - Oom moet tog versigtig wees ...
VIae hang halfstok
'Ek sien die wa kom Lichtenburg toe. Ek sien dit word donker en die lanferdoek hang weer oor die dorp. Ek sien dwarsdeur die land hang die vIae aan kort stokke ..." Vader het onderlangs in Engels gefluister: 'Half mas.' En toe verstaan ek vir die eerste keer wat dit alles beteken, en heeltemal verskrik sit ek toe na oom Nieklas en luister: "Ek sien daar kom 'n groot perdekommando vanaf Schweizer-Reneke se kant af. Ek sien hulle lê en slaap sommer so op 'n oopte onder die bome. Dit is nie oorlog nie; dit het iets met Oom te doen.' (Die oopte was die markplein waar genl. De la Rey se standbeeld vandag staan).'Ek sien vreeslik baie van die stoomwaens kom. Hulle kom almal na Oom toe ...'
Hy het lankal stilgebly toe ek en vader nog na hom sit en kyk.
En toe sê hy nog 'n slag: 'Oom moet versigtig wees ...'
Op Maandag 13 Julie is oom Nieklas van Rensburg weer vort. En al wat vader daaroor te sê gehad het, was: 'Nou ja, Polly, jy het nou alles gehoor. Ons sal maar sien wat gaan op die vyftiende gebeur.' Ek het hom net gevra dat ons asseblief niks vir Moeder moet sê nie ...
Op 4 Aug. 1914 breek die Eerste Wereldoorlog uit. Die kurkproppe (skepe) is op die groot blou waters gekelder. Siener se vi sioen van die wit papier met die swart 15 wat oor Lichenburg hang, het nou 'n politieke kleur gekry: Die 15de is die dag van bevryding van die Afrikanervolk met genl. De la Rey aan die voorpunt, het baie geglo.
Al die burgers van die Onder-Hartsrivier is vir 'n vergadering opgeroep na Treurfontein (Coligny, 29 km vanaf Lichtenburg) met "geweer, paard, zadel en toon en zoveel ammunitie en proviand als zij in staat waren te brengen". Op Saterdag '15' Augustus het genl. De la Rey sowat 800 man toegespreek en teen aIle verwagting in, skets hy vir hulle die omstandighede in Europa en vermaan hy hulle tot kalmte.
Op 5 September woon hy die spesiale sitting van die Parlement by en op 12 September bekragtig die Senaat die besluit om dat Suid-Afrikaanse troepe Duitswes-Afrika moet binneval en volle bystan aan Engeland moet verleen.
Dieselfde middag nog haal genl. De la Rey die trein terug Transvaal toe. Hy het geweet die speurders hou hom dop en pleks van op Germiston oor te klim na die Pretoria-trein, besluit hy om na Johannesburg toe deur te ry. Hy arriveer Maandag 14 September in Johannesburg en teken in by die Victoria-hotel in kamer nr. 15.
Dieselfde dag het genl. Beyers bedank as Kommandant-Generaal van die Unie se Verdedigingsmagte - die man met die pragtige klere wat van oorsee terugkeer en sy swaard afhaal.
Intussen is daar vir 15 September 'n vergadering te Potchefstroom gereël. "Want," so het die opstandelinge geglo, "in Gods tijd maak een maand later of een maand vroeër geen verskil nie - die 'bevryding' is immers klaar bestel vir die 15de.
Die hoofspreker op die vergadering moes natuurlik ook genl. De la Rey wees. Die organiseerders het selfs 'n motor na Rietkuil ge- ur om die Siener vir die vergadering te gaan haal sodat hy sy visioen in vervulling kon sien gaan. Maar om een of ander rede het die Siener geweier om na Potchefstroom te reis.
En tot hulle verdere ontsteltenis vemeem hulle toe ook dat die generaal nie betyds sou wees nie!
Genis. Beyers en De la Rey vertrek die aand van 15 September omstreeks sewe-uur na Potchefstroom. Mnr. A.J. Wagner was die bestuurder van die Daimler-motor met die registrasienommer TP 24. (Die numeriese waarde van 24 is 6: 2 + 4 = 6; so ook die numeriese waarde van 15: 1 +5 =6).
In Langlaagte op die hoek van Du Toit- en De Willestraat probeer polisie na die gevaarlike Foster-bende soek en aIle motors met drie insittendes word by padblokades voorgekeer. Maar omdat die generaals geweet het die padblokades is vir De la Rey bedoel, het hulle mnr. Wagner opdrag gegee om nie stil te hou nie.
Een polisieman, ene Drury, vuur 'n skoot op die Daimler af. Wanneer die Daimler tot stilstand kom, spring die geskokte bestuurder uit. Hy gryp genl. De la Rey vas en probeer hom oplig. En dan fluister die geliefde vegter en leier sy laaste woorde:
"Krisjan, dis raak ..."
Die Leeu van Wes- Transvaal strek effens, sak terug en blaas sy laaste asem uit. Dit was 'n winderige aand en tydens die gebeure het hy sy hoed verloor. Dis nooit weer gevind nie. (Oom Nieklas het gesê hy is sonder hoed).
En so is die visioen van die 'swart 15' vervul.
Volgens Polly was daar die dag met haar pa se begrafnis meer as 40 spesiale treine op Lichtenburg; daar was nie slaapplek vir almal op die dorp nie en die mense het sommer in die treine gebly - behalwe vir die perdekommando van Schweizer-Reneke wat op die markplein uitgekamp het.
Hierdie profesie aangaande genl. Koos de la Rey en die nommer15 het een van die Siener se beroemdstes geword. Maar later jare het dit tog allerhande borduursels bygekry: bloed wat drup uit 'n donker wolk bokant Lichtenburg; die nommer 15 wat skyn op 'n geel doodskis; senator De la Rey wat van Kaapstad af terugkeer sonder sy hoed en dan was daar glo ook 'n wa vol pragtige blomme, ens.
Die visioen soos dit hierbo weergegee is, is egter in later jare ook deur genl. De la Rey se ander dogter, mev. Magdalena Bouwer, bevestig.
lets waarvan min mense seker bewus is, is dat oom Nieklas vir genl. Christiaan Beyers herhaaldelik in dieselfde visioen gesien het; en soos alom bekend is, was genl. Beyers saam met Koos de la Rey in die motor toe die opslagkoeël hom getref het. En net soos Siener voorspel het, was genl. Beyers ook saam met die De la Rey-gesin op die begrafnistrein.
Genl. Beyers se dood
Het die ou profeet genl. Christiaan Beyers toevallig in daardie visioen gesien? Seker nie want voor die einde van daardie jaar het hy tragies in die Vaalrivierverdrink terwyl hy desperaat probeer deurswem het om onder 'n koeëlreen van mede-Boere na die oorkantste wal te swem.