Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Die Rebellie
Nieklas van Rensburg se patriotisme en onwrikbare vertroue in God se liefde en beskerming is so diepgewortel in die harte van sy voorsate dat hulle selfs God se leidende hand gesien het in die hele verloop van die Groot Trek en die twee Vryheidsoorloë. Dit was Hy wat hulle gehelp het om die bitter pioniersjare en die lyding van veral die Tweede Vryheidsoorlog te trotseer. Omdat Hy hulle gelei het om lig in die donkerte van Afrika te bring, sou sy seënende Hand oor hulle wees en sou Hy hulle nooit verlaat nie.
Die rustige gang van sake in sy gemeente te Wolmaranstad is in 1914 onderbreek deur die Eerste Wêreldoorlog en Rebellie.
Met die Nagmaal in Juliemaand 1914, het oom Nieklas nie kerk toe gekom nie. Sy seun verduidelik toe wat die rede is: "My Pa sê ons gaan uitmekaargejaag word." Daardie selfde middag nog is die burgers opgekommandeer en was dit die begin van die Rebellie.
Die Siener en baie van sy gemeentelede het by genl. Kemp aangesluit om te rebelleer.
Al die weerbare manne van die omgewing is na die Lichtenburg se spoorwegstasie toe opgekommandeer. Daar het die protesterendes, waaronder oom Nieklas, kmdt. Izak Claasen, mnr. W. Naude en genl. Kemp, egter op hul perde gespring, weggejaag en op Haakboslaagte bymekaargekom.
Toe Siener ook op die toneel verskyn, was daar by baie van hulle geen twyfel dat hy 'God se Boodskapper' is nie, en dwarsdeur die Rebellie van 1914 sou sy stem vir bulle 'n diepgaande betekenis hê.
Nadat genl. Kemp hulle by Haakboslaagte toegespreek het wou die burgers ook graag hoor wat die Siener te sê het. In 'n kort toesprakie het hy toe vir die eerste keer gepraat van die 'bloedvlag' wat nog eendag oor sy volk sou wapper: "Ek sien ons het ons eie vlag, maar daar is ‘n bloedkol in die middel van die vlag ..." (Hierdie visioen is deur mnr. Naude self opgeteken).
Uit die notules van die Nederduitsch Hervormde Kerk blyk dit dat Siener van Rensburg reeds in 1895 as diaken op die kerkraad gedien het. In 1908 het hy as ouderling bedank, en is eers na afloop van die Rebellie weer as ouderling voorgestel. Maar ds. S. Vermooten wat in daardie stadium konsulent van Wolmaransstad was, het gehoop dat die Siener nie sou aanneem as ouderling nie, aangesien hy 'n rebel was en dit onenigbeid in die kerk kon veroorsaak. Toe hulle mekaar later op die kerkplein raakloop, sê ds. Vermooten aan hom: "Ek hoor oom Nieklas het toe nie aangeneem nie." Hierop het die Siener geantwoord: "Ja, maar Dominee wou mos nie gehad het ek moes aanneem nie!"
Oom Nieklas het self geglo dat hy deur God gestuur is om die Rebelle met raad en leiding te bedien. Hy het vooruitgeweet van die bitter offers wat dit sou verg; maar het hom geroepe gevoel.
Uit al die verslae, berigte en oorleweringe lei dit geen twyfel nie dat hy die kommando herhaaldelik met behulp van sy visioene en intuïtiewe kennis uit die hande van hulle agtervolgers gehou het en hulle meermale ook in staat gestel het om ander gevare te vermy.
Kommandolede het ook dikwels eerder op die Siener se gesigte as hulle offisiere se bevele ag geslaan sodat van die offisiere bevooroordeeld teenoor hom was. Genl. Manie Maritz het bv. by geleentheid opgemerk dat hy Nieklas nooit in sy kommando sou toelaat nie: "Want hy 'sien' sulke snaakse dinge en vertel dit aan die burgers en netnou glo hulle hom en kan my offisiere niks met hulle uitrig nie." Selfs genl. Kemp (in wie se kommando die Siener was) het op 'n keer sy geduld met oom Nieklas verloor en die skuld vir hulle ellende op sy skouers gepak.
Vervolg...