SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (12)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Hys die Vierkleur!

Boy Mussmann vertel verder:

Toe  die  Boeregeneraals opgeroep is na Vereeniging in 1902, om  te  gaan  onderhandel  vir vrede, toe  sê oom  Klasie aan Koos  de la Rey;  "Julle  sal vrede  maak maar ons verloor ons land." Hy sê toe ook:  "Dan kom daar 'n oorlog tussen Engeland  en Duitsland en daardeur sal ons weer ons verlore  vryheid kry... Ek sien 'n aantal trek saam met my: haastig tussen die putte  (gevare) deur na Duitswes om te gaan traktate maak met die Duitsers  in Duitswes." Toe  genls.  Botha  en Smuts  te  kenne  gee  dat  hulle  Duitswes  vir Engeland  wil gaan annekseer,  besluit De  Wet,  De  la Rey  en Beyers. hulle hys die Vierkleur en veg vir 'n republiek;  maar  hulle gaan  nie onskuldige bloed  vergiet nie.

Net voor die uitbreek  van genoemde oorlog was ds. Faustmann van Schweizer- Reineke met verlof in Cambridge.  Hy kry 'n brief van my vader om   te sê: "Siener van Rensburg sê hy moet huis toe kom, want Siener sien die  vlamme  van die oorlog slaan uit." Ds. Faustmann het hom nie daaraan  gesteur nie,  want  die professors het gesê: Daar is geen wolkie van oorlog  in die lug nie, waar  sal oorlog vandaan kom?   Hy  gaan toe Skotland  toe. Agtien dae later kon hy nie sy skip terug kry nie, want hy het met 'n Duitse skip gegaan.  Lord Selborne gee hom en sy vrou toe ‘n vry passaat na Kaapstad.

Ek was destyds op Stellenbosch op skool.  Ek kry van my vader 'n telegram  om dadelik huis toe te kom.

Ek wys ds. Faustmann my telegram en ons reis saam na Schweizer-Reneke.  Opad vertel ek hoe oom Klasie my pa vertel hoe ons deurtrek na Duitswes.

Die Parlement besluit om Duitwes te gaan aanval met  vrywilligers. Die Engelse regimente Die Natal Carbineers,  Natal Light horse  Cape Mounted Rifles, ens. was dadelik in die veld. Die eerste afdeling wat Duitswes  bereik,  trek in tot by Sandvlei.  Daar het die Duitsers van hulle wors gemaak.  Genl. Smuts  skrik toe groot.  (Hy het  later in sy rapport  oor die Rebellie  gesê:  "Wes-Transvaal  het soos een man aan genl.  De la Rey en aan Siener  geglo  en daarom  soos een man gerebelleer").   Rapport  gedruk  2.2.1915  na die Rebellie.

Generaal  De la Rey word  15 September doodgeskiet.  Toe maak Genl.Smuts 'n toets om te sien of die burgers  van Lichtenburg nog soos een sal rebelleer. Hy kommandeer Isak Claassen met sy manne op. Toe hulle op Coligny  kom, staan die trein gereed om hul na Duitswes te vervoer.  Op  die trein staan  "Volunteers for German West." Isak sê: "Ek is geen Volunteer," en hy en sy manne laat hulle perde afspring van die trein waarmee hul van Lichtenburg  gekom het. Toe neem  genl.  Smuts  die lojales en val Isak se kommando aan.

Ons , die  Schweizer-Renekers, vertrek  van Christiana na Lichtenburg.   Ons kry genls. Beyers  en Kemp met ongeveer 2 000 man - hulle vertrek  in die rigting van Schweizer-Reneke.    Op die aand van 2 Nov. 1914 (volmaan),   slaap ons agt myl  (12 km) van Schweizer-Reneke af.  3 Nov.  trek  Adriaan   de la Rey en ek die Engelse vlag af en hys die Vierkleur. Ds. Faustman  sien my en  laat my roep. Ek kom daar en hy sê aan my: "Dit is groot sonde om teen jou  owerhede te rebelleer - lees  Romeine dertien.     Ek sê: "Dominee,  toe u in Cambridge  was, het u nie geglo nie en nou glo u al weer nie. Ons is nou op die pad na Duitswes soos ek vir u vertel het op die trein. Hy vra: "Waar is Van Rensburg?"  Ek sê: "Hy sal so tien- of elfuur se stryk hier wees."

In tussentyd  het 'n  aantal professors  en predikante  van Stellenbosch  'n  dekreet  na  genl.  Botha  gestuur  en gesê:  "Hy  moet  die Rebellie  afkeur, want  dit is ‘n sonde  om teen jou owerhede te rebelleer   -   Rom. 13." Daarom het genl.  Botha Wes- Tranvaalse predikante opgeroep na Pretoria  en hulle moes Rom. 13 preek.

Die  middag  na  ete  gaan  my  oudste  broer  met  Siener  saam na  ds. Faustmann.  Toe die Siener  daar kom, toe sê ds. Faustmann:  "Dit is groot sonde om teen jou  owerhede  te rebelleer  -   Rom. 13." Siener se toe: "Dominee, die Heer stuur Samuel om Saul te salf as koning. Toe stuur die Heer  weer Saul om Dawid te salf as koning. Wie van die volgelinge  van Dawid  of Saul was die rebelle?"  Ds. Faustmann sê toe: "Kyk, die Ou  Testament is uitgedien!  Hy dien as 'n storieboek om ons by die Nuwe Testament te bring." Siener sê: ons moet onthou in die Ou Testament  staan ons Tien Gebooie en nie in die Nuwe."  Hy sê ook: "Dominee,  ek kom by die Nuwe  Testament: Jesus was volmaak  en het gesê: Gee die Keiser wat syne is en  die  Heer  wat  syne  is.    En  wie  het  hom  doodgemaak?    Die owerhede. "

Dit was op daardie  dag, 3 November 1914  dat ek oom Nieklas die  eerste  keer  ontmoet   het  en dit was  die begin  van  'n  groot avontuur  vir my.

Toe Siener  terugkom, sê hy vir my: "Dominee  Faustmann  is 'n predikant,  maar sonder geloof."  Die dag vertel  Siener ook aan ons hy sien vorentoe is 'n sloot oor ons pad. Ons gaan by die regterkant se punt om. Hy sien ons ontvang Duitse mausers  in Duitswes maar hulle het wit punte.  Hy weet nie wat dit beteken nie. Hy sien hy groet genl. Maritz  waar hy op sy blouskimmelperd sit in Duitswes.

Ons vertrek die aand van Schweizer-Reneke  en staan die volgende dag op Louwsvlakte  regoor Killarney. Ons trek daar weg  en trek met die laagte af wat  reguit  na Pudimostasie  lei. Toe ons by die konvensielyn  kom, stop oom Klasie die  kommando  en sê: "Hier op Pudimostasie  staan   ‘n gepantserde  trem vir ons en wag." Hy draai die nag met ons daar weg en  trek reg noord tot regoor Dryhartstasie (name hier onseker).  Die anderdag (5 Nov) staan ons op die Kaapseberg.  Daar sê oom Klasie: "Hier is 'n bont korhaan  tussen ons  ('n verraaier).  Die aand donker trek ons daar weg. Ons was nie ver weg nie of  ‘n skoot val op die voorpunt  van die kommando  en 'n perderuiter   verdwyn  na links. Ons wag  daar  tot  die  agterste ruiters  bykom.  Oom  Klasie  kom en sê: "Ons  kan nou maar  trek, die bont korhaan is uit. Hy wou genl. Kemp skiet en het mis geskiet."

Op Sondag  8 November is ons op pad Kuruman  toe. My broer Piet  en ek ry langs mekaar.  Oom Klasie kom van agter en voeg hom by ons. Hy sê aan my broer: "Kyk, as ek myself sien, dan is dit my mense.  Ek sien ek word geskiet. Hul neem my deur 'n vlei water en oorkant  staan 'n huis met 'n varandadak   aan die noordekant. Hulle Iê my op 'n rusbank en gooi 'n rooi kombers oor my."

Toe val dit my by wat oom Klasie vir ons gesê het voor die geveg.   Die vleiwater  is Kuruman  se fontein se water. Die regterpunt  van die sloot waar ons omgaan is die sendingstasie, Siodin. Die wit huis is die huis van die sendeling.  Later het Siodin ‘n onderwysinrigting geword.

Kuruman  se dokter kom grawe die koeël  uit broer Piet se boud.

('n Martini-koeël)   Ons trek daarvandaan  met Piet in die motorkar. Ons staan by 'n  plek met die naam  Dingele.  Oom  Klasie  sê: "Ek sien die regeringstroepe het voor by 'n dammetjie een van ons spioene doodgeskiet."

By Kuruman  is drie man gewond.  Kaptein van der Merwe en Jerrie  Bezuidenhout.   By die dammetjie is Coertze doodgeskiet.

Ons trek na Olifantshoek.  Die nag vlak voor Olifantshoekdorp toe stop oom Klasie die kommando en sê: "Die  regeringstroepe staan ons voor weerskante   van  die  pad  in  die kliprantjies."

Ons  draai  links  weg  met  die pad  na  Posmasburg.   Ons  staan die volgende  môre op die plaas Dekepping.    Daar  begrawe ons Coertze.

Ons spioene het die môre 'n ou perdehingsie met 'n dik knie gevang en in die laer gebring.  So teen elfuur kom ou Koos Uys en kom  vra vir genl. Kemp of hy die ou perd mag kry. Genl. Kemp stem toe. Hy (Uys) vra aan genl. Kemp  waarheen  is sy  plan  hiervandaan.    Kemp  sê "af na Posmasburg."   Kemp vra: "Hoe  is dit gesteld met water  en gras daar." Uys sê: "Dit het al 'n tyd gelede  gereën,  water is volop en die gras behoort  al groen te wees."

Siener sê: "Ek sien die regeringstroepe  kom by ons verby  na die ooste kant toe."  Ons spioene in daardie  omgewing het toe ook so gerapporteer  en bevestig.

Vervolg...