SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (13)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Die pad is oop ...

Boy Mussmann vertel verder:

Dit is opmerklik  dat ons die heeldag  hier in stilte deurbring  om die regeringstroepe kans te gee om van Olifantshoekdorp by ons verby te  kom.  'n  Afstand  van  14 myI  (23 km).  Teen  sononder  sê oom Klasie ons moet trek want die pad is oop. Toe ons die tweede bult oorgaan,  vind ons die regeringstroepe besig om langs die Posmasburgpad  posisie in te neem. Ons begin op hulle skiet. Terselfdertyd begin Petrus  Ferreira  op hulle  skiet van die suidekant af. Ferreira is van ons weg by Kuruman.  Ons kry opdrag  om die nek (bergpas) in die Langberge in besit te gaan neem. Dit is 'n pad dwarsdeur die Langberge.  Dus,  as die regeringstroepe  ons  nou  wil bykom,  dan moet hul by Olifantshoek  omgaan.

Ferreira  kom  agter ons  die  poort  in en neem stelling in by  'n plaasheininghek.  Hy versteek sy perde.  Die regeringstroepe kom en word  lelik deur Ferreira toegetakel.  Die regeringstroepe moes die aftog blaas. Hulle kar met ammunisie het in die slag gebly, maar Ferreira  wis dit nie.

Toe trek ons agter Langberg  af in die rigting van Grootrivier  tot by Taungs. Daar kry ons water. Dan sê oom Klasie:  "Ons kan maar slaap die vyand  kom nie." Elkeen  span sy perd uit en gaan lê en slaap. Dit is die nasleep  van die terugslag  wat Petrus Ferreira  hulle toegedien het.

Die volgende  môre sê oom Klasie:  "Ons moet die manne bymekaarroep,  die regeringstroepe kom."  Nouliks was ons bymekaar of die vyand  is daar  en ons is slaags.  Ons verlies  was 4 dood  en  een  gewond.   Ons  manne  wat  gesneuwel   het,  het  drie kopskote  en een deur die maag. Die rede waarom  ons manne soveel kopskote  gekry  het  is: Ons  het  uitgevind  die regeringsmense se kenteken was  'n  wit band  om die arm  -   daarom  het ons die wit band  om die hoed  gesit.  Ons was  beswaard om die wit band  om die arm  te sit want  dit was  die Roomskatolieke se kenteken  by Bartolomeusnag  toe die Christene vermoor  is.

Net ná die begrafnis  gee genl.  Kemp  bevel  ons moet  opsaal  en trek. Toe die kommando   ongeveer  6 myI (9 km) weg  is. vra een burger  aan genl.  Kemp:  "Waarom  kom  oom Nieklas  nie"?  Genl. Kemp  sê: "Waar is hy dan?"  Die man sê: "Hy is nog op Witsand."

Genl.  Kemp  vra: "Wat sê hy?" Die man sê hy sê "die pad is nog nie oop nie."

Op Witsand ry die spioene van 'n mag onder die Natal Lighthorse tussen  ons in. Die nag Iê ons aan die Grootrivier by Kys.  Op Kys sien oom Klasie Iê 'n man met militêre klere aan op sy sy, met 'n bril op en bajonet  in sy hand.  Daar  sê oom Klasie:  "Ek weet  nie wat  dit beteken  nie."

Ons bly twee  dae by Witsand  oor. Goed ook, want  meer as 150 man het omgedraai  en gaan oorgee. Ons toestand is sleg, baie perde het agterbly.  Dit is daardie jaar droog. Een geluk  dat ons daar oorgehet bly was die groot getal perde wat daar geloop het.  Hul kom drink ook by die Witsandkoppie water  en toe het 'n goeie aantal burgers daar weer perde gevang.  Ander  perde het bietjie rus gekry.

Van Witsand stuur genl. Kemp twee afdelings vooruit met rapporte aan Maritz  om te kom help.  Die een afdeling onder Petrus Ferreira en een onder MacCharty.  Na die tweede dag toe sê oom Klasie:  "Die pad is oop, ons moet  trek.  Oom Willie Boshoff van Wolmaransstad hou diens en lees uit Josua  3:5: "Heilig julle, want more sal die Here onder julIe wonders doen."  Toe wis  ons oom Willie en oom Klasie is albei ouderlinge van hulle kerk op Wolmaransstad en intieme vriende.  Môre sal ons iets besonders belewe. Ons trek tot die anderdag  11 uur. Toe ons die rantjies  bokant  die vlei by Grootrivier  bereik,  toe sien ons lê die vyand  aan die slaap. Onmiddellik   begin  die  skietery.  Ons  sien  Grootrivier se water, maar  die vyand  verdedig  vas. Gedurende die dag kry ons in Royston se saalsak sy dagboek  en daarin  sê hy: "Ek wag nou a1 8 dae hier in die drif vir  genl. De Wet; perde opgesaal  en elke soldaat met sy geweer en bajonet  in die hand."

Die aand donker  het ons 'n pad oopgeskiet na die rivier, toe kon ons ons perde gaan water  gee en gaan drink. Toe sê oom Klasie: "Nou verstaan ek goed; die man het brille op - dit beteken dis hulle spioen en ons moet wakker  loop. Tog kry ons hulle aan die slaap."

Die twee dae se oorbly op Witsand het vir ons 'n dubbel doel gehad: Perde  rus en perde vang. Die vyand moet eers deur die vaak wees  as ons arriveer.  Daar is een man van ons geskiet. Daarvandaan  trek ons allangs Grootrivier  af na Upington.  Elke dag moet ons die vyand  wegskiet van die water  af. Ons kom by 'n plek met die naam  Kaffirswart.   Daar kom  die duine tot byna  teen die rivier. Hier word  6 man van  ons agtergelaat  as 'n  wag vir die mag  wat  van  agter  langs  die rivier  afkom.  In die poort  waar  die woonhuis  Iê, kom baie perde, muile en donkies uit die duine om te drink. Weer maak ons ses hulle bymekaar en jaag  hulle na ons laer.

Die manne  vang  perde,  muile en donkies  -   al wat rybaar  is. Regoor  ons laer aan die oostekant,  suid van Grootrivier,  maak 'n  regeringsmag   sy verskyning.   Hul begin  veg.  Ons vermoed  dis 'n  geveg  tussen  rebelle  en regeringsmense   wat  daar woed.  Genl. Kemp  roep  die krygsraad  byeen.  Hul besluit ons trek  deur. Oom Klasie hou vol daar is geen  rebellemag.   Ons sê aan oom Klasie: "Royston  het gesê hy wag vir genl. De Wet, en Royston  kry tog die offisiële rapporte van elke rebelIebeweging  ...As dit nie De Wet is nie, dan mogelik  Conroy."

"Nee,"  sê oom Klasie:  "dit is ook nie Conroy  nie." Iemand  vra: "Oom Klasie, is dit nie miskien Maritz nie?" Hy sê: "Ag nee, broertjie, ek het mos vir julle  gesê ek groet Maritz waar hy op sy blauskimmelperd sit in Duitswes."

Daar gebeur die dag 'n liederlike ding. By Schweizer-Reneke het by ons 'n Fransmannetjie aangesluit met die naam van Russel.  Hy was  besonder  dapper.  Hy en ek stap by genl.  Kemp  verby,  Genl. Kemp  roep  hom  en sê: "Kyk,  Russel,  ek wil vir jou  deurstuur na Maritz met ‘n rapport.  As jy vir my 'n rapport deurneem  en ek kom eendag  aan bewind,  dan  maak  ek van jou  'n  grootman."   Russel neem  die rapport  sonder  om  'n  woord  te sê en stap weg.  Ek het gesien  hoe  genl.  Kemp  die  rapport  uitskryf  in sy  sakboek.   Die rapport  lui. "Wat die man aan jou sê, kan jy glo."

Ek sê toe  aan genl. Kemp:  "Maar, genl. Kemp,  dit is baie onbillik van jou. Jy weet mos hy kan onmogelik tussen die duisende  vyande deurkom."  Genl. Kemp  sê: "Dit kan my nie skeel  nie! Ek vertrou hom nie en dan is ek van hom ontslae." Ek sê: "Maar, Generaal,  as hy nie bertroubaar  is nie, dan  gee jy hom  mos volmag om Maritz in die kake van die vyand in te lei." Kemp  sê weer  dit sal hy nie regkry  nie.  En, die  regeringstroepe het hom gevang,  die  rapport by hom gekry en hom doodgeskiet.  Waarom het genl. Kemp nie liewer vir Siener gevra of hier nog 'n bont korhaan  is nie?

Dit het vir ons duidelik  geword die geveg  oorkant  Grootrivier is 'n  blinde  geveg om ons deur  te lok. Dan was dit vir die regering maklik om net die driwwe  te bewaak en sodoende te verhoed dat ons Duitswes bereik.  Toe  dit donker  word  by Kaffirswart toe sê Siener:  "Ons pad is oop, ons moet trek  -   ry oos die duine in."

Ons trek 15 my 1 (24 km) tot by 'n plaas met die naam Diepklip.

Van die krygsraadsbesluit het niks gekom  nie. Van Diepklip trek ons reg noord.  Deur die duine sonder water, met net 'n klein reën. Toe was dit waarlik  'n woestyntog.

(Tydens die tog deur die Namib het dit in een stadium so haglik met  die Rebelle gegaan  dat hulle tonge weens gebrek aan water aan hul verhemeltes vasgekleef  het, en uit radeloosheid moes hulle toe van die handperde slag en die bloed drink om nie van dors om te kom nie).

Siener lei ons regterkant van Steenkampspan verby, waar daar ’n groot  regeringsmag  gestasioneer was.  Toe ons skaapmis  opmerk tussen  die duine, wis ons dat ons nie ver van die kant van die woestyn is nie. Ons het ook nie ver gevorder  nie, of ons kry 'n  aantal skape wat ons saamneem.   Ons trek op 'n pan water by Rooidam af. Van die pan water sien ons suid (Upington  se rigting)  staan 'n  windpomp en daar  is 'n  aantal regeringstroepe.   Kommandant Mussmann met 17 man word gestuur om hulle te gaan  verdryf. Toe ons nader kom, verwyder  hulle hulself  en verdwyn  in die rigting van Upington.  By die windpomp  woon  basters.  Ons  kry 'n  slagskaap en ook meel by hulle.

Toe slaap ons lekker en soos 'n bestiering word die kommandant wakker  en sê:  "Kerels saal op. Kyk hoe kom die regeringstroepe aan." Die aarde was oortrek met troepe. Gelukkig  het Siener by die pan water  gesê: "Die pad is oop, ons moet trek." Anders  was daar groot paniek.  Ons bevel was, neem die kop links van die waterpan in besit. Toe ons bo-op die kop kom, bemerk  ons links van die kop is net so 'n groot mag besig om ons te omsingel.

Ons 17 man slaan regs weg om weer by die hooflaer aan te sluit.

Nouliks was ons van die kop enige honderde tree weg of die bomme bars oor ons. Ons word  omsingel en in 'n  klein klompie vasgedruk.   Ons verdedig  so goed ons kan met min ammunisie tot ons beskikking.

Ons  600 man  is minder as 'n handvol gereken en meer as die helfte was voetgangers.   Toe die ammunisie  opraak,  het ons maar die geweers  weggegooi.  Wie kan nog 'n leë geweer oor die duine dra?

Vervolg...