SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (14)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Die rooi kombers

Boy Mussmann vertel verder:

Voor  sononder  staak  die regering  hulle skietery. Ons word  uit die kringetjie waar  ons verdedig,  geroep.  (Ek het van Witsand  se osse voor  die  motor  gespan,  want  my broer,   Piet  Mussmann,  lê van Kuruman  af gewond in die motor).  Ons kon 'n blaaskans  kry.  Genl. Kemp  het  rapporte  uitgestuur dat  die burgers  by sy motor moes bymekaarkom.

Toe ek by die motor kom, sit Siener op die treeplank.  Genl. Kemp kom gelyktydig  ook daar aan.

Genl.  Kemp  vra  aan Siener:  "Toe, ou Nieklas, hoe lyk dit nou met jou?"   Siener  sê: "Ek het vir jou  gesê  toe ons by Kaffirswart was die rooi kombers  maak  'n bak  om ons. Dan sien  ek 'n  rooi lig  soos  ons veg.  Dan  lig die kombers  op en ons gaan  uit."  Toe Siener dit sê, toe hou genl. Kemp  sy twee vuiste  onder  Siener  se neus  en sê: "Jy  kan  maklik  praat,  maar  kyk hoe  is ons  deur  die vyand  omsingel."

Siener  antwoord  toe: "Ek het ons pad gesien  waar  ons uitgaan, en ek het nie gesien dat 'n skoot op ons geskiet word nie. Kyk, ons trek  tussen  die  twee  duine  op  (reg  noord).  Voor kom  die  duine bymekaar,  ons trek oor die nek. Ons slaan links weg (ry wes). Ons gaan  een duin oor. Dan trek ons op die harde veld. Voor kom ons by 'n pan water. Dan is ons uit tussen hulle (die troepe). By die pan water  vang  ons  drie blinde  springbokke  (regeringstroep  wat ons aansien vir hulle mense)."

Toe die donker  toeslaan, toe gooi Siener sy baadjie oor sy arm en sê aan die offisiere:  "Julle moet die burgers op 'n klein bondel hou, moenie  dat hulle uitsprei  nie."

Die aand loop Siener van Rensburg heel voor die osse met die motor,  en ons het hom  gevolg.  Dit was donkermaan.  Ons is vlak voor  die  kanonne   van  die  regeringstroepe  verby  sonder dat 'n enkele skoot op ons geskiet is. Nadat  ons oor die duin is, kry ons toe die gelykte  en daar  het  ons ook die  drie blinde springbokke gevang.  En net soos oom Klasie gesê het, het hulle ons aangesien vir hul eie mense.  Muller Rademeyer van Vryburg  het opgemerk dat hierdie drie manne groot hoeveelhede  waterkannetjies  by hulle het, en hy wis dadelik dit is regeringstroepe en vang hulle toe. Die toestand en wat gebeur het dat ons uitgekom het, het so gebeur:

Genl. Botha neem een afdeling langs die kanonne  weg en neem hulle na die suide van hul linie en bring  kommandant  Du Plessis van Cradock se afdeling  om die plek te kom  toemaak. Siener het vir my (Boy M.) gesê:  "Ek sien genl Botha  is self  daar,  want  ek sien hom.  Sy  oë is uit sy kop gepeul van woede,  sy horings  is skerp,  maar  die wit seiltjie is oor ons – God se beskermende hand."

Nadat  mens en dier by Rooidam by die pan water gedrink het, sit oom Klasie weer op die treeplank  van  die motor.   Ek   vra:   "Oom  Klasie waarom  het  genl. Kemp se knieë vandag  slap geword toe hy vir jou met die vuiste onder die neus  verwyt  het?" Hy sê: "Kyk,  genl.  Kemp  moet  nie môre, oormôre  sê dit is hy, die dapper generaal,  of julle die burgers of ek wat julIe hier uitgebring  het nie, maar hy moet God die eer gee  wat  Hom  toekom."

Vervolg...