SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (15)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Boy Mussmann vertel verder:
Ek  vra  toe:  "Oom  Klasie hoe lyk dit vorentoe?"  Hy sê: "Môre is ons tussen die blouklippe.  Maar wat  ek nie verstaan nie, is dat ek sien hulle jaag so uitmekaar weg van ons en dan kom hulle terug met twee blou perde,  twee bruin perde en een skimmelperd.  Dan kom hulle tussen ons in."
Ons  trek die nag van Rooidam weg. Die volgende more net toe die son  uitkom,  kom ons  by 'n plaas (Geluk) aan.  Ons  sien daar 'n aantal  perderuiters.   Ons steek hul onder die koeëls want water en kos moet ons kry. Hulle het eers in die kraal skuiling gesoek. Toe hul sien ons kom nader en nader toe slaan hul op die vlug en jaag uitmekaar sodat ons nie altwee in een skoot kan raakskiet nie. Toe ons by die plaas kom, vemeem ons dat dit Duitsers en Duitse boere is wat weggevlug het.
Die eienaarvan die plaas, mnr. Long, het nie skape  of  bokke  en beeste in die veld nie. Kaptein Williams word na hul gestuur met die rapport.  Hy vat twee bruin perde en die skimmelperd saam wat Muller  Rademeyer die vorige aand gebuit het. En hy kom terug met kaptein Adam Boshoff, kommandant  Schoeman De Wet en ene Van Zyl met  twee  blou perde.  Kommandant  Schoeman het die kanonne  se gebulder  gehoor en wis  toe dat dit die een of ander  rebellekommando is wat daar deurbreek.   Daarom  het hy die vorige dag in die rigting van die kanonne opgeruk  so vinnig as wat hy kon. So was die stuur van Ferreira  en MacCharty dan nie geslaag nie,  en ook onnodig die opoffering van Russel se lewe.
Die osse word van die motor afgehaak en aan genl. Maritz gerapporteer. Ek (Boy Mussman skiet een van die trekosse dood. Toe die vel mooi op die grond Iê, toe kom oom Klasie en sê: "Dadelik,  dadelik trek." Toe ons terugkyk in Rooidam  se rigting, toe sien ons die rooi stof in die lug van Botha se troepe wat aan die kom is.
By Eersteplaas waar die pad  oor die rand gaan na Grootneus daar neem  ons posisie in. Die voetgangers  gee die ammunisie wat hulle nog het  aan ons  en trek  tot by Grootneus verby. Genl. Botha se magte wil ons maar net  omsingel, en komdt. Schoeman moes  dan agtervleuel toe jaag, daar gaan terugskiet en dan weer links om. Dit het geblyk dat genl.  Botha  versigtig te  werk  gegaan  het, want  hy wis nie of daar nog ander magte as dié van komdt.  Schoeman  in die nabyheid  is nie.
Na die dag se geveg  trek ons tot by Koegoeskop.   Daar  sê oom Klasie:  "Ons kan maar gerus slaap.  Die vyand  kom nie." Die volgende  dag trek ons na Langklip.  Genl. Botha bly die heeldag met ons in voeling.  Ons arriveer  die aand op Langklip.  Daar  kry ons baie slagvee.  Die dam het vol gereën.  Die wal was toegeslaan met takke. Dit was 'n rekord  braaivleis!
Ons kry 'n  sterk wa en span osse. Tienuur die aand toe sê oom Klasie ons moet  trek die vyand  is aan die kom  -   van  drie kante af. Twee-uur  daardie  nag slaan genl. Louis  Botha toe. Hy kry toe net die  (kaalgeëete)  koppe  en pote.  Negeuur die anderdagmore was  Manie Maritz by met 'n  groot versterking.   Daardie aand, 28 Nov, 1914, toe slaap ons op Nakab.
Nadat ons kommando op Nakab gerus, gesing en gedank  het, moes ons Maandag  1 Desember  verskuif  na Nabas na die barakke van die Duitsers.  Daar is vir ons kos en klere aangery. Vir ons perde wat nog geleef het, is sakke saadhawer aangery.  Ons het gou verhaar en die perde ook. Perde  is aangekoop en ook saals. Mausers is aan ons uitgedeel.
Traktate word gemaak
Die goewerneur  kom onderhandel  met ons. Traktate  word gemaak. Ek noem  maar  net een voorwaarde:  Die grenslyn tussen  die Unie en  Duitwes  word  bespreek;  in  geval die  Unie onafhanklik  word, sal die grenslyn verander word  van  die  oewerwal  (van  Duitswes) na  die  middel  van  die  stroom  van  Grootrivier. Van  ons  offisiere word gekies om namens die Rebelle van 1914 die traktate te onderteken. 'n Aantal  burgers  word  ingeskryf om te oefen as artilleriste onder  majoor  Jack  Smith.  Ons word verskuif  van Nabas  en Ukamas en na Jeruzalem.  Daar word  die  laatste  aantal  perde  uitgedeel.   Ons  kry  opdrag  om  te verskuif na Skuitdrif aan Grootrivier.  Aan Grootrivier  kry ons kommandant Stadler. Hy het kommandant  Du Plessis van Cradock met sy staf al 'n tyd te vore krygsgevangene  geneem.  Kommandant Du Plessis het tevore uit Upington opgeruk  met 500 man om sy belofte aan genl. Smuts  en Botha te volbring  om genl. Manie  Maritz  se kop te lewer. Die  500  man  het  die  loop  geneem en hul  kommandant  in die veilige  hande  van  kommandant  Stadler agtergelaat.  Die  Botha­ Smuts- regering  het besluit om Duitswes in te trek met verskillende kolonnes van ongeveer 1 000 man elk. Een kolonne  was by Rooys­vlei,  een  by Lutzhuts  en  een  by Nous  (aan  die  Unie-kant   van Grootrivier)   Intussen  het Grootrivier  baie  vol  geword.  Seker  die water wat later die dood van genl. Beyers  en Pieterse  geëis het.
Om Nous te bereik, was 'n probleem.  Maar die gesegde,  'n Boer maak  altoos  'n  plan,  is hier  bewaarheid.   Van der  Merwe  roei  'n staaltou  oor die rivier en draai die tou aan die Unie-kant om die doornbosse  vas. Aan die Duitswes-kant  word hy met burgerhande so styf mogelik  getrek en dan om die doringbome  vasgedraai.  Die twee skuite word met planke  aanmekaargekoppel.    Die planke oor die skuite vorm  'n  platform.  Aan die voorpunt  van die skuit word 'n  osketting  aangebring  met 'n haak  oor die staaltou.  As ons aan die Duitsweswal wil oorvaar na die Unie, dan trek ons die Duits­ wes-ketting kort en skiet die Unie-ketting en ons ry oor en weer op dieselfde  manier.
Ons vervoer ons kommando en ook die kanonne  oor. Oom Klasie wil nie oorgaan  nie. Hy sê: "In die middel van Grootrivier  is ‘n  put (gevaar)."  Hy sê: "Ek sien by Nous 'n Engelse meisie (regeringstroepe)  Sy spring op en hardloop die dal af. Sy het 'n luier aan en hy is vuil.  Dan gaan sit sy."
Op 22 Desember 1914 lê  die regeringstroepe nog lekker en slaap. Hulle  is  veilig,  want Grootrivier is  so vol  dat  die regering  se motorbote  nie by Upington  kan oorseil nie.
Toe die bommeksims  die regeringstroepe by Nous wakker maak, toe spring  hulle op uit die slaap en wil nog vlug, maar vind uit dat hulle feitlik omsingel  is. 'n Aantal perderuiters  slaag daarin om op een plek uit te vlug. Die vorige  dag,  21 Desember het 7 waens die Kersfeeskoek,  droë vrugte  en volop  drank gebring.  Die waens was  op  weg  terug na  Upington.  Kaptein  Farell  het   hulle  gaan terughaal.  Ons  het hulle  met  ons  tweeskuitpont oorgevoer  na Duits­ wes.   Met  hulle  geld  het  ons  die  Duitsers  betaal  vir ons  kos,  klere, ammunisie, gewere,  ens.
Die  Nous -troepe  het natuurlik  die vorige  aand  al Kersfees gevier, daarom was  hulle  komberse  onveilig vir gebruik na die geweldige skrik.
Die  afdeling  wat die  laatste  oor  die  pont  moes  gaan,  was  dié van kmdt.   Stadler.  Die  pont  dra  vier perde  met  ruiters  op  'n  slag.   Die laaste vier  penkoppe  vang  die regeringstroepe  se slagskape en stop hul  onder  die  planke in die  skuite.  In die  middel van  die  rivier was die vrag te swaar en  skep  die skuite water.   Twee  van  die  vier  verdrink.   Die   ‘put'  wat  oom  Nieklas gesien het,  het sy slagoffers  geëis.
Vervolg...