SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (16)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Terug Transvaal toe

Boy Mussmann vertel verder:

Ons is weer terug  op Jeruzalem.  Oom Klasie het nog in Transvaal gesê: "Ons begin ons terugtog  waar ek kaal staan."

Toe oom Klasie kaal in die badkamer staan, kom van die burgers en sê aan hom: "Generaal Kemp het gesê ons moet klaarmaak,  ons moet terugtrek  Transvaal  toe."

Toe Manie Maritz hoor Kemp trek terug, toe gaan genl. Maritz na Kemp en vra: "Wat gaan aan?" Kemp sê: "Ek trek terug." Maritz sê: "Dit sal jou laaste trek wees." Kemp sê: "Siener het gesê my pad is oop." Maritz sê: "Jou pad is oop, maar ek sien dit nie."

Op ons pad na Upington lê twee regerings kolonne,  een op Lutzputs en een op Van Rooysvlei. Kommandant Stadler neem die voortou. Hy slaap met die penkoppe  op Langklip agter die damwal. Die perde word daarnatoe in die veld gestuur.  Die môre toe dit lig word, was die regeringstroepe in die rantjies en hulle brand los op die penkoppe.  Komdt. Stadler gee bevel: "Storm!"  Die penkoppe  vang 180 en die res slaan op loop terug na Upington.  Lutzputs word omsingel.

Toe ons Rebelliekommando eindelik in Duitswes arriveer, is die burgers  in 'n  gehawende toestand;  hulle klere geskeur,  hul skoene stukkend en sommige  sonder  skoene.  Al die manne  en offisiere  praat  toe  net van  die  wonderlike  leiding van Siener van Rensburg.  Maar genl. Maritz kan dit maar net nie glo nie, tog kan hy ook nie dink dat die mense almal leuens vertel  nie.

Hy sê toe: "Op 'n dag sit ek en verskeie van die rebelle-offisiere op Arriam se damwal.  Ek sien die Siener aangestap kom en ek  dink  -   laat wie wat sê, jy is 'n wonderlike  kreatuur."  En hy voeg toe by: "Siener,  kom  tot langs my en sê: ek sien jy glo niks wat ek vir jou sê nie! Ek sal nou vir Generaal die een en ander vertel en as dit nie gebeur nie, hoef jy my nooit te glo nie."

Oom Nieklas vertel toe aan Maritz die volgende in verband  met ons beoogde aanval op Lutzputs:  "Jou plan is om almal by Lutzputs  te vang. Ek sien jy  staan  met 'n kombers.  Een gedeelte skeur af en gaan weg ..."

Maritz sê toe: "As dit gebeur, dan glo ek jou,  want  as daar een ontsnap, dan word Van Rooysvlei  se kolonne  gewaarsku."

Hands-op!

Toe ons bomme binne die kamp begin val, verskyn die klompie brandwagte wat alarmskote geskiet het. Hulle jaag  op ons af. Ons skree: "Hands-op".  Hul gee die perde die tooms en storm op ons af waar ons (20 man met mausers met 6  patrone  klaar  sit). Die  sloot  waarin  ons  verskans  is  is so breed  en diep  dat ons perde  nie van die oppervlakte  gesien kan word nie.

Op 'n  afs!and van niks meer as 20 tree word hulle met perde en al neergeskiet.  Een ruiter kom as 'n wonderwerk  ongedeerd  daarvan af.  Ek (B.M.) wou die ontsnapte agternasit,  maar my offisier verbied my. Toe storm die groot aantal perderuiters op ons af. Ons brand dadelik los! Hulle swink  links weg en bars verder deur ons linie. Ons afdeling sit hulle agterna,  maar dis vrugteloos.  'n Ander 5 verskyn later en 4 van ons steek hul voor en skree:  "Hands-op". Hul weier. Ons skiet 3 neer, en een gee oor. 'n Ander een het van sy perd afgespring en weggekruip.

Ná die geveg kom van die voetgangerkinders  (Verdedigingsmag) en sê aan genl. Maritz hy moet kom kyk waar hulle in die sloot gelê het -   daar is nie  'n enkele leë doppie nie, want hulle het geweier om op ons te skiet. Toe sê genl.  Maritz vir hulle:  "Ek sal julle nie wegstuur Windhoek  toe nie. Sorg net dat julle nie weer op julle eie Afrikaners  skiet nie."

Die swart muil en die Sabbat

Van Lutzputs trek  ons in die rigting van Upington.  Siener sê: "By Upington sien ek ons wieletjie draai  in die rondte."  (Dit  beteken sake gaan deurmekaarloop).

Op Donderdag  21 Januarie 1915 arriveer ons by 'n plaas noord van Upington. Vanaf ‘n koppie op die plaas (Christiana)  kan Upington mooi gesien word.  Die verkykers  moes werk.

Saterdagaand kry ons die bevel:  "Opsaal, Upington  moet aangeval word!"

Met donker word  die krygsraad byeengeroep.   Generaal Kemp staan in die middel  en spreek die offisiere  toe. Skielik verskyn  oom Klasie.  Hy sê aan genl. Kemp: "Ek kom vra vir die laaste maal om tog nie môre op die Sondag  (24 Januarie  1915) Upington aan te val nie."

Genl. Kemp  sê toe: "Ek het vaste berigte dat generaal  Botha 12 000 troepe in die forte het en hy voer nog steeds troepe aan. Wil jy hê ek moet  wag  tot  Maandag  sodat daar nog 12 000 meer kan wees?"

Oom Klasie skud sy kop: "Vandat ons uit Transvaal  weg is, het die regeringstroepe ons nog elke Sondag kom aanval.  Ons moes ons verdedig.  Die bloed en die misdaad rus op hulle koppe.  Maar as jy môre gaan aanval,  dan rus die bloed en die misdaad  op jou kop." Oom Klasie sê toe verder:  "Ek het gesien ons is nou 'n swart muil.  Die muil steier agteruit.  Ons het nou ontaard  in 'n muil.  Die muil is swart.  Ons sal swaar verliese ly aan dooies en gewondes. Die muil steierterug.  Hulle sal ons terugdryf."

Genl. Kemp sê vir hom: "Kyk, môre wil ek my slag slaan, of glad nie."  Oom  Klasie  sê: "Generaal,  as jy nou glad nie wil hoor nie, dan het ek nou net een versoek aan Jack Smith  -   die offisier van die kanonne  afdeling ..." (oom Nieklas se seuns het onder Smith gedien). Genl. Kemp wou  toe weet wat die versoek is en oom Nieklas antwoord:  "Ek het gesien my seun Willie word geskiet.  Ek wil net vir Smith vra om hom nie môre te sit waar hy gemeen het om hom te sit nie."

My broer, komdt.  Chris Mussmann, sê toe: "Oom  Klasie, as jou seun geskiet moet word,  kan jy hom sit waar jy wil en hy sal geskiet word."

Toe huil die Siener

Oom Klasie draai  toe na hom en knik: "Ja, ou Chris, maar weet jy nie God laat hom verbidde?" Hierna kyk hy toe weer na ons en sê: "Nou net 'n laaste versoek aan julle almal  -   julle wat weet dat hy geskiet sal word:  Julle  moet  dit  tog nie vir hom vertel  nie." Toe stap hy weg van die krygraadsvergadering. Hy kom hier langs my uit waar hy ingegaan het. En  so ver as hy gaan,  kon ons hom van droefheid hoor snik. Seer sekerlik  oor  sy seun,  maar  ook oor  die misdaad  teen die Hoërhand  (om op 'n Sondag  te veg) wat ons so wonderbaarlik  deur die woestyn gelei en bewaar het. Geen pen kan ooit beskryf wat in sy ouergemoed moes omgaan  nie - so 'n teer, gevoelige Christen.

Die volgende  more ry ons nog so in gelid Upington binne.  My broers,  Chris, Piet, die Siener, sy broerskind,  Andries, en ek ry op die voorpunt  van broer  Chris se kommando.  Siener sê aan ons hy het 'n  gesig  oor Andries se broer  gesien wat hy nie mooi verstaan nie: Ek sien daar loop bloed uit sy been,  en ek sien ook  'n groot wit huis wat lyk soos 'n  kerk.  Ek sien my seun Willie lê op die verkeerde  kant van sy groot baadjie.   My moeder en ander  Boerevroue sit om hom en huil. Dit is 'n baie slegte teken ..."

Genl.  Kemp het met sy planne voortgegaan en Upington op Sondagmôre die 15e  aangeval.   Ons  is  teruggedryf   met  'n  verlies  van  dertig dooies,  90 gewondes  en 'n groot  aantal gevangenes.

(Tydens hulle geveg  teen die regeringstroepe  is Andries se broer in die been getref.  Kmdt. Stadler is ook swaar gewond.  Die nag op Christiana is hy dood. Sy penkoppe het werklik aan hom  'n vader verloor).

Na die terugslag,  sê oom Klasie aan genl. Kemp:  "Nou moet jy gaan onderhandel,  want ons werk is afgedaan."  (Hy het bedoel  die traktate wat ons kom maak het, is afgehandel).  Siener voeg toe by: "Ek het gesien  ons gewere  word  in die kas gepak."

Genl. Kemp  was kwaad en het hom toegesnou:  "Jy mag met jou gat sien! Want waar het jy gesien dat mens met die vyand  wat jou oorwin  het, onderhandel?"

Hierop sê genl. Manie Maritz toe: "Kemp,  skaam jy jou verdomp nie? Toe jy uit Transvaal  gekom  het, het jy nie jou broek gaan losmaak nie, of Siener moes jou pad sien. En vandag behandel  jy hom so? Daar is vir jou niks anders  te doen nie. Want met die klompie mense wat jy na die geveg nog oor het  -   al is hulle hoe dapper en hoe goed gewapen   -   kan jy die Unie nie verower  nie."

Toe sê Kemp:  "Doen ek dit, sal die regering  ons almal laat doodskiet."

Hierop  antwoord  die Siener toe: "Ek sien nie dat hulle ons doodskiet nie, want  ek sien die wit seiltjie is oor ons." Waar ons in groot moeilikheid  verkeer het en ons kla ons nood by die Siener dan sê hy altoos:  "Ek  sien  die wit seiltjie is oor ons - God se beskermende Hand: Lees Openbaring  7:14-17):  '...En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking   kom,  en hulle het hulle klere gewas en hulle klere wit gemaak in die bloed van die Lam.  Daarom  is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan.  Hulle  sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel  van die troon is, sal hulle  laat wei en hulle  na lewende waterfonteine lei, en God sal aIle trane van hulle oë afvee.' "

Genl. Manie  Maritz  was van mening  dat sy rebellemagte  die regeringstroepe 'n finale slag kon toedien.  Maar oom Nieklas  het anders 'gesien'  en aan die genl. gesê:  "Daar  is 'n  geweldige   groot, swart berg voor ons waar geen paadjie oor lei nie. Ons loop onsself teen 'n ondeurdringbare  muur vas ... Ek sien ook dat daar suiker in Upington aan ons uitgedeel word  en dat ons met 'n ander pad na Transvaal  toe teruggaan   -   met ysterwaens  wat vinnig  reis ..."

Toe neem genl. Maritz vir genl. Kemp om te gaan onderhandel met die regeringsoffisiere.  Die kommando's  trek 'n  afstand  terug na Duitswes  se kant tot by die plaas Koegoeskop om die uitslag van die onderhandelinge  af te wag.

Siener  sê die onderhandelinge sal slaag,  want hy sien ons trek Upington in en aan ons word kos uitgedeel.  Willie van Rensburg is by ons. Hy is nie geskiet in die geveg by Upington nie (waarskynlik is hy toe geskuif en het nie in die oorspronklike posisie geveg nie).

Vervolg...