SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (18)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

In  die gevangenis

Na die mislukte  Rebellie  van 1914 beland  Siener van Rensburg as selmaat  saam met die joernalis,  Harm  Oost, in die tronk  op Boksburg,  en  sy eerste  woorde  aan  die  koerantman  was:  "Ek het geweet  ons sal mekaar  sien." Toe  kyk hy op en voeg by:  "Ek kon dit nie verstaan  nie.  Daar  het  'n swart muil aan my mou gelek, en ek moes deur  'n digte doringbos  gaan. Maar  ek het anderkant  uitgekom ..."  Die 'swart muil' was die tronkowerheid  en die 'digte doringbos'  die  smaad  en lyding wat hy moes  deurmaak.

Die verskriklike  swerftog  wat Siener  kort tevore  saam met genl. Kemp  en 600 Rebelle  Duitswes  toe aangepak  het, het hom fisies so geknou  dat hy nooit weer  heeltemal  sou herstel  nie.

Ondanks (dalk juis as gevolg van)  die roem wat hy sedert die Boereoorlog   as 'siener'  verwerf het, het oom Nieklas van die tronkowerheid  geen greintjie  genade  ontvang  nie.

Soggens  is hulle vir kort  rukkies  toegelaat  om in die 'klipjaart' 'n bietjie litte los te maak, en soms het oom Nieklas dan op sy rustige manier  aan Harm Oost vertel van die visioene  wat hy die vorige nag gehad  het (ek noem  slegs enkeles):

  • Ek sien jy bly agter wanneer die ander vrygelaat word.
  • 'n Paar maande  later:  Jou tyd is nou naby om te gaan.
  • En toe skielik een oggend:  My vrou wil my kom besoek, maar ek het aan haar laat telegrafeer sy moenie, want ek sal al op die trein wees huis toe voordat sy hier kan uitkom.

Mnr. Boy Mussmann,  skryf aan 'n vriend:

Ek het in  die koerante gevra dat persone wat oom Nieklas geken het, my alles vertel sodat ek die waarheid  in my boek kan publiseer.  Ek kry toe 'n brief van ene mev. Van Wyk van Kroonstad.  Sy vertel  dat toe die Rebelle-offisiere  in 1914 in die Fort was, toe gaan sy om haar broer  kommandant  Van Niekerk  te sien. Daar loop sy toe die vrou van genl.  De Wet raak wat net van die Fort afkom. Mev. De Wet sê toe aan haar sy moet seersekerlik  ook vir Siener van Rensburg  gaan besoek.

Mev van Wyk sê toe sy ingelaat  word  in die Fort, toe sien sy 'n man met 'n lang bos baard staan. Dié tree toe nader en vra aan haar of sy hom  wou  sien. Sy vra  toe: "Is oom  die Siener?"  Hy sê toe: "Ja," en wys na 'n bankie  en sê dat hulle daar moet gaan sit. Mev. Van Wyk sê haar hart voel  so seer en sy dink nooit,  nooit sal die Afrikaners  hier  uitgelaat  word  nie.  Sy  vra  ook  aan  die  Siener: "Oom,  sal jul ooit hier uitkom?"  Siener sê: "Ja, ek dink binnekort."  Hy verduidelik  dit toe so aan  haar:  "Ek het  op hierdie  dieselfde bankie  gesit toe sien ek hier voor my 'n put en uit die put kom ons kosmandjies.   Ek verstaan  toe nie wat die gesig  beteken  nie. Maar ons sal nog hier uitkom,  want  daar is 'n middel  (die leer) ...  -  ek (Siener) sien  my nuwe  hoed  lê by my huis op die tafel. Toe verstaan  ek ons ellende is die Fort (die put), maar  ons maak  ons kosmandjies   vol en ons gaan op reis huis toe, want my nuwe hoed sit ek op en trek my beste klere aan huis toe." Oom Nieklas  gaan toe voort en sê: "Toe ek die put  sien  waarin  ons  verkeer,  toe sien  ek by my in die put staan  'n  leer, en ek staan  met  my  voet  op  die eerste  sport  van  die  leer. Die  put  was   die  haglike toestand   waarin   ons  verkeer het.  Daar was nie nog 'n Koos  de la Rey, 'n  Beyers of  'n De Wet in die veld met  mausers  wat  redding kon  bring   nie,   maar ons moes uit die diepte van die put  regop  kyk  na  Bo  om redding."

Onder plaas-arres

Na afloop van die Rebellie  vertel genl. Jan Kemp van sy laaste dag saam  met  ou  Siener  in November  1914 toe  sy rebellekommando by  Kuruman   deur   regeringsmagte   gevange  geneem   is.  Hy  was bitter  kwaad en het woedend  teen die Siener uitgevaar: "Ja, en wat nou? Jou  profesieë  was toe  almal verkeerd!"

Oom Nieklas  het hom egter onverstoord  aangeky k: "Ek het laasnag weer  'n  gesig  gehad,  Generaal..."   het  hy begin,  maar  genl. Kemp het hom ergerlik in die rede geval: "Ek is siek en sat van jou gesigte!"

"Wees  asseblief   net  geduldig,   Generaal,"   het  die  ou  profeet gepleit.  Laasnag het ek 'n rooi kasteel gesien. Aan die voorkant was 'n tuin met groen gras en rooi blomme. Ek sien ons    kom by die kasteel  aan. Dit was nie vir ons nodig  om te klop nie.  Terwyl ons nog daar staan, gaan  die deur oop en word ons ingeneem.  Daarbinne  kry  ons toe mans  wat besig  is om kos te maak  en hulle het ons van klere en onderdak  voorsien."

Genl. Kemp vertel dat hulle enkele dae later na die Fort in Johannesburg gebring  is. Daar sien hy toe dis ‘n groot, vierkantige rooi baksteengebou.   Aan  die voorkant  van  die gebou  was ‘n tuin met groen gras en malvas in volle blom.  Skielik het die deur oopgegaan en hulle is binnetoe geneem.

Daar kry hulle toe ook die mans wat besig  is om pap te maak. Nadat hulle daarvan  geëet het, is bandietklere aan hulle uitgedeel.  Hy wou toe sarkasties  by die Siener weet of dit nou die 'rooi  kasteel'  is wat hy gesien  bet!  Maar oom Nieklas het nie gelyk  of hy hom hoor nie. Dieselfde nag nog is hy in 'n klipsel saam met die joernalis,  Harm  Oost,  opgesluit.  Die spot en verguising wat hy van die Engelse  tronkwagte moes verduur,  was egter vir oom Nieklas  nie naastenby so ontstellend as die feit dat hulle  sy Bybel  by hom weggevat  het en die volgende dag sy baard  afgeskeer het nie.

Op 'n  dag kry hy besoek van 'n vrou wat kom verneem of daar iets is wat  sy vir hom  kan bring,  iets waaraan  hy 'n behoefte  het. Oom Nieklas  sê toe bewoë:  "Ek het nie 'n Bybel  of Gesangeboek nie .... " 'n  Paar  dae  later  bring  sy  toe  vir  hom  'n  Bybel,  asook Gesangeboek,  en oom Nieklas was  so oorstelp  van dankbaarheld dat hy nie kon  praat  nie. Voor in die ou Bybel  het sy weldoener geskryf:  "Aan oom Siener van Rensburg,  van Kate Kock, Germiston."

Net soos die ander Rebelle  moes oom Nieklas ook 'n afkoopboete betaal  voordat  hy op 20 Desember  1915 uit die tronk vrygelaat is.  Maar  hy was nog lank nie 'n vry man nie, want genl. Smuts  het hom onmiddellik  weer  onder  plaasarres  gesit,  en tot 1923 kon hy nie eens 'n  kerkdiens  bywoon as hy nie vooraf eers 'n permit  van die magistraat  gekry  het nie.

Vervolg...