SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (21)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Jan Smuts: Die kleur van verraad

Vir 'n pot lensiesop

Reeds  met  Uniewording  in  1910 het  oom  Nieklas  'gesien'  dat Smuts en Botha  die Afrikaner  nog eendag  vir 'n pot  lensiesop in Brittanje  sou verkoop.  Sy kleindogter,  mev. Ria James, beskryf die visioen wat haar oupa gehad het as volg: "Oupa het gesien hoe Louis Botha, Jan Smuts en genl. Hertzog  in 1910 in bruin  klere (kleur van  die  Afrikaner)   na  Engeland  toe  gaan.  Maar  toe  hulle terugkom, was Botha en Smuts in Kakie (kleur van verraad)  geklee; net genl. Hertzog  het nog sy bruin pak  aangehad ..."

Oom Nieklas  was een van die weiniges  wat  destyds  gewaarsku het dat die Unie  nog eendag  die handperd  van  die Britse  Empire sou word,  maar niemand  wou dit glo nie.

Dit het eintlik alles begin toe Botha die Cullinan-diamant aan die Britse koningshuis geskenk  het, daarna  het hy in Londen  sy Boere-uniform  vir  die kniebroek en sykouse  verruil.  lets  wat  Smuts lankal  reeds gedoen  het. Van toe af was hulle by die Afrikaner nie meer te vertrou  nie.

"Daarvan  was  die verwerping   van Hertzog  as kabinetsminister 'n kennelike  bewys,"  se dr. M.C.K.  van Schoor.

En drie jaar later (1914) was Smuts en Botha se aanval op Duits­wes vir die Siener  geen verrassing  nie: Ons gaan weer veg as die gras groen word, het hy sedert  die somer  van  1911 herhaaldelik gewaarsku. Ek sien ons gaan optrek na Duitswes in die noorde. Dit gaan 'n bitter stryd wees.

Hierdie stryd was ook maar net die eerste fase van die Britse veldtog waarmee  die Afrikaner  hom nie kon vereenselwig nie; want in die loop  daarvan sou die Afrikaner nog gedwing word om sware offers vir die Empire  te maak.

In die  gesigteboek  met  voorspellings  gee  Siener die volgende twee beskrywings   van  genl.  Smuts:  1) Ek sien 'n rooibruin bees staan by Johannesburg; hy kyk na die ooste en word skielik baie maer. 'n Rooi bees is Engeland se kleur; 'n bruin bees is ons kleur. 'n Rooibruin bees is niks anders nie as 'n ontaarde Afrikaner.  Genl. Smuts is die geel hond met die wit halsband. As mens 'n hond van sy oorspronklike baas weglok met stukkies kos, dan byt hy uiteindelik die baas wat hom grootgemaak het. So is genl. Smuts met geld en eer van sy volk weggelok. Nou het Engeland die hond en ons die halsband.

In 1923 belê genl. Smuts  'n vergadering  op Lichtenburg.  Toe die nuus van die vergadering  bekend  word,  'sien'   oom Nieklas  dat sy uitgaanhoed by   genl. Smuts op die verhoog  lê, toe weet hy hy moet na die vergadering  toe gaan,  maar kan nie dink wat hy daar moet gaan maak  nie. Die magistraat  op Lichtenburg,  mnr. Graham  Gos, besoek  Siener  en sê genl.  Smuts  wil  baie  graag  hê hy moet  die vergadering  bywoon.

Smuts vereer die Siener

Op  die  vergadering  bring  Smuts  toe  hulde aan die  ou volksvader (oom  Nieklas)  Wat hom  met  sy teenwoordigheid  vereer.  Na  die vergadering  gaan drink hulle alleen tee en bevestig Smuts weer hoe bly hy is om oom  Nieklas  te sien.

"Hoekom  dan, Generaal?"  wou Siener weet,   hoewel hy kon raai.

"Omdat ek jou raad nodig het: Sê my hoe kan ek die kloof tussen die Afrikanervolk,   wat by die dag groter word,  weer heel?"        .

Siener het  sy  kop  geskud:   "My  raad  sal  u  tog  nie  neem  nie, Generaal."

Smuts  pleit  toe by hom:  "Sê jy net wat  ek moet  doen,  en ek sal dit doen  -   al kos  dit ook my lewe!"

Na 'n  lang  stilte  antwoord  Siener  sag, maar  duidelik:  "Ontbind die parlement   en skryf  'n eleksie uit, en as u dan aan bewind  kom, sal u weet u het die volk agter u. Maar so kan dit nie aangaan  nie ..." Einde 1923  skryf  oom  Nieklas  in 'n  brief  aan mnr. Mussmann op Vryburg:  "As jy my hier kom haal en jy  bring my weer hier, dan gaan ek vanjaar by julle  Dingaansfees   vier:" En terwyl  hulle  van die  Dingaansfees   op  pad  terug  was,  vertel   die  Siener  dat  genl Smuts,  op sy advies  die Parlement  gaan  ontbind  en 'n verkiesing gaan uitskryf.

Mnr Mussmann wou dit nie glo nie en sê toe dat Jan Smuts nooit as te nimmer  sal bedank  nie.

"Hy sal,"  het oom  Nieklas  met oortuiging  gesê: "want ek sien ek kap die doringbos  wat in ons volk se pad  staan  af, en dan sien ek die mieliemasjien    dors dat die blare so waai  -  dis die eleksie  wat gehou  sal  word  en  dan  kom  ons,  die  Nasionale   Party,  aan  bewind ... "

Maar  almal   teenoor   wie  die  Siener  dit  genoem   het,  het  hom uitgelag:  "Dis  nie  moontlik  nie! Want Smuts  het nie net 'n  groot meerderheid   bo  die  NP en ander groepe  nie, maar  hy het ook die jaar vantevore   die  arbeiders  laat doodskiet in belang van die mynmagnate  - daardie   mynmagnate  sal aan hom  al die geld gee wat hy nodig  het  om  'n  eleksie  te wen." So is daar bespiegel.

Oom Nieklas het net ver voor hom uitgestaar en gesê: "Ek sien koringare  (dis geld) wat die beeld van 'n mens vorm. Toe gee die koringare    skielik pad  en staan  daar net  'n naakte  mens -  dis genl.  Smuts.   Hy gaan kaal uitkom met al sy geld.  Voorts sien ek dat  wanneer  Smuts die parlement   ontbind,  kom  daar  vyf moframme van die Kolonie  se kant af op -  hulle wol is kort afgeskeer. Dit beteken  dat vyf ministers  nie weer hulle plek  in die Parlement sal kry nie: De Wet, Mentz,  Frans Malan  en genl.  Smuts self. Want ek sien  'n boereveldskoen   (dis 'n Boereregering)   en ek sien ook  'n grasdakhuis   (dis 'n Boereparlement)  ... "

Genl. Smuts het die Parlement  in 1924 ontbind,  'n verkiesing  uitgeskryf  en dit verloor.  Maar genl. Hertzog  wou Smuts  terug in die Parlement  hê en het versoek  dat hy nie tydens  'n tussenverkiesing op Standerton  teengestaan   moet word nie.

Hieroor  was  oom  Nieklas  baie  ontsteld  en hy  het  gesê:  "Nou maak Hertzog  die grootste  fout van  sy lewe en 'n afgod van Smuts! Want die Here  het  self  beskik  dat Smuts  moet  uitval  en nou  wil Hertzog  hom weer  daar  hê. Dit gaan  die Boerenasie  nog berou, want  ek sien die grasdakhuis  vermuf  en ek sien Smuts  en Hertzog saam uit  ‘n erdvarkgat kruip   -  hulle sal verenig, maar, soos altyd, ten koste  van die Boer".

Tydens  'n besoek aan Rietkuil  vertel oom Nieklas  aan mnr. Boy Mussmann   hoe die burgers  destyds  ook van genl.  Piet Cronje  'n afgod gemaak  het: "En dit was daarom  dat die Here hom (Cronje) skielik  by Paardeberg laat oorgee het -   voordat  hy nog swaar gekry het. Van daardie dag af druk  die Heer se hand op ons volk; en hy sal druk, by tye  ligter  en dan weer swaarder, tot die dag dat ons vry en onafhanklik is   -  dan  sal ons    ongekende   seën  en voorspoed hê .

Oom  Nieklas  het verder  vertel  hoe die Boere  in 1910 bidure oor die land  gehou  het sodat  die  Heer  die regte man  sou aanwys  om Eerste Minister  van die Unie te word. Dit het gelê tussen John X Meriman en genl Louis Botha. Genl Botha val met die verkiesing uit teen sir Percy Fitzpatrick in Pretoria-Oos.   Ons glo toe die Here het verkeerd  gewys   -  hoe  kon  Hy  dan  vir  ons   'n  Engelsman  aanwys.   Ons gee  daarom  vir genl.  Botha  die  Losberg-setel  en maak hom Eerste Minister.  Slegs vier jaar later sleep hy ons in die Wêreldoorlog, iets  wat  Merriman   nie sou gewaag   het nie. En so gebruik  die Here  die generaal   met  wie ons gesondig   het om ons mee te straf.

Daarom  is ek (Boy Mussmann) nie kwaad vir generaal  Botha nie  in weerwil daarvan  dat hy my so sleg behandel het deur my, ná die Rebellie, veertien dae lank in die moordenaarselle op te sluit.

Vervolg...