Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Jan Smuts: Die kleur van verraad
Vir 'n pot lensiesop
Reeds met Uniewording in 1910 het oom Nieklas 'gesien' dat Smuts en Botha die Afrikaner nog eendag vir 'n pot lensiesop in Brittanje sou verkoop. Sy kleindogter, mev. Ria James, beskryf die visioen wat haar oupa gehad het as volg: "Oupa het gesien hoe Louis Botha, Jan Smuts en genl. Hertzog in 1910 in bruin klere (kleur van die Afrikaner) na Engeland toe gaan. Maar toe hulle terugkom, was Botha en Smuts in Kakie (kleur van verraad) geklee; net genl. Hertzog het nog sy bruin pak aangehad ..."
Oom Nieklas was een van die weiniges wat destyds gewaarsku het dat die Unie nog eendag die handperd van die Britse Empire sou word, maar niemand wou dit glo nie.
Dit het eintlik alles begin toe Botha die Cullinan-diamant aan die Britse koningshuis geskenk het, daarna het hy in Londen sy Boere-uniform vir die kniebroek en sykouse verruil. lets wat Smuts lankal reeds gedoen het. Van toe af was hulle by die Afrikaner nie meer te vertrou nie.
"Daarvan was die verwerping van Hertzog as kabinetsminister 'n kennelike bewys," se dr. M.C.K. van Schoor.
En drie jaar later (1914) was Smuts en Botha se aanval op Duitswes vir die Siener geen verrassing nie: Ons gaan weer veg as die gras groen word, het hy sedert die somer van 1911 herhaaldelik gewaarsku. Ek sien ons gaan optrek na Duitswes in die noorde. Dit gaan 'n bitter stryd wees.
Hierdie stryd was ook maar net die eerste fase van die Britse veldtog waarmee die Afrikaner hom nie kon vereenselwig nie; want in die loop daarvan sou die Afrikaner nog gedwing word om sware offers vir die Empire te maak.
In die gesigteboek met voorspellings gee Siener die volgende twee beskrywings van genl. Smuts: 1) Ek sien 'n rooibruin bees staan by Johannesburg; hy kyk na die ooste en word skielik baie maer. 'n Rooi bees is Engeland se kleur; 'n bruin bees is ons kleur. 'n Rooibruin bees is niks anders nie as 'n ontaarde Afrikaner. Genl. Smuts is die geel hond met die wit halsband. As mens 'n hond van sy oorspronklike baas weglok met stukkies kos, dan byt hy uiteindelik die baas wat hom grootgemaak het. So is genl. Smuts met geld en eer van sy volk weggelok. Nou het Engeland die hond en ons die halsband.
In 1923 belê genl. Smuts 'n vergadering op Lichtenburg. Toe die nuus van die vergadering bekend word, 'sien' oom Nieklas dat sy uitgaanhoed by genl. Smuts op die verhoog lê, toe weet hy hy moet na die vergadering toe gaan, maar kan nie dink wat hy daar moet gaan maak nie. Die magistraat op Lichtenburg, mnr. Graham Gos, besoek Siener en sê genl. Smuts wil baie graag hê hy moet die vergadering bywoon.
Smuts vereer die Siener
Op die vergadering bring Smuts toe hulde aan die ou volksvader (oom Nieklas) Wat hom met sy teenwoordigheid vereer. Na die vergadering gaan drink hulle alleen tee en bevestig Smuts weer hoe bly hy is om oom Nieklas te sien.
"Hoekom dan, Generaal?" wou Siener weet, hoewel hy kon raai.
"Omdat ek jou raad nodig het: Sê my hoe kan ek die kloof tussen die Afrikanervolk, wat by die dag groter word, weer heel?" .
Siener het sy kop geskud: "My raad sal u tog nie neem nie, Generaal."
Smuts pleit toe by hom: "Sê jy net wat ek moet doen, en ek sal dit doen - al kos dit ook my lewe!"
Na 'n lang stilte antwoord Siener sag, maar duidelik: "Ontbind die parlement en skryf 'n eleksie uit, en as u dan aan bewind kom, sal u weet u het die volk agter u. Maar so kan dit nie aangaan nie ..." Einde 1923 skryf oom Nieklas in 'n brief aan mnr. Mussmann op Vryburg: "As jy my hier kom haal en jy bring my weer hier, dan gaan ek vanjaar by julle Dingaansfees vier:" En terwyl hulle van die Dingaansfees op pad terug was, vertel die Siener dat genl Smuts, op sy advies die Parlement gaan ontbind en 'n verkiesing gaan uitskryf.
Mnr Mussmann wou dit nie glo nie en sê toe dat Jan Smuts nooit as te nimmer sal bedank nie.
"Hy sal," het oom Nieklas met oortuiging gesê: "want ek sien ek kap die doringbos wat in ons volk se pad staan af, en dan sien ek die mieliemasjien dors dat die blare so waai - dis die eleksie wat gehou sal word en dan kom ons, die Nasionale Party, aan bewind ... "
Maar almal teenoor wie die Siener dit genoem het, het hom uitgelag: "Dis nie moontlik nie! Want Smuts het nie net 'n groot meerderheid bo die NP en ander groepe nie, maar hy het ook die jaar vantevore die arbeiders laat doodskiet in belang van die mynmagnate - daardie mynmagnate sal aan hom al die geld gee wat hy nodig het om 'n eleksie te wen." So is daar bespiegel.
Oom Nieklas het net ver voor hom uitgestaar en gesê: "Ek sien koringare (dis geld) wat die beeld van 'n mens vorm. Toe gee die koringare skielik pad en staan daar net 'n naakte mens - dis genl. Smuts. Hy gaan kaal uitkom met al sy geld. Voorts sien ek dat wanneer Smuts die parlement ontbind, kom daar vyf moframme van die Kolonie se kant af op - hulle wol is kort afgeskeer. Dit beteken dat vyf ministers nie weer hulle plek in die Parlement sal kry nie: De Wet, Mentz, Frans Malan en genl. Smuts self. Want ek sien 'n boereveldskoen (dis 'n Boereregering) en ek sien ook 'n grasdakhuis (dis 'n Boereparlement) ... "
Genl. Smuts het die Parlement in 1924 ontbind, 'n verkiesing uitgeskryf en dit verloor. Maar genl. Hertzog wou Smuts terug in die Parlement hê en het versoek dat hy nie tydens 'n tussenverkiesing op Standerton teengestaan moet word nie.
Hieroor was oom Nieklas baie ontsteld en hy het gesê: "Nou maak Hertzog die grootste fout van sy lewe en 'n afgod van Smuts! Want die Here het self beskik dat Smuts moet uitval en nou wil Hertzog hom weer daar hê. Dit gaan die Boerenasie nog berou, want ek sien die grasdakhuis vermuf en ek sien Smuts en Hertzog saam uit ‘n erdvarkgat kruip - hulle sal verenig, maar, soos altyd, ten koste van die Boer".
Tydens 'n besoek aan Rietkuil vertel oom Nieklas aan mnr. Boy Mussmann hoe die burgers destyds ook van genl. Piet Cronje 'n afgod gemaak het: "En dit was daarom dat die Here hom (Cronje) skielik by Paardeberg laat oorgee het - voordat hy nog swaar gekry het. Van daardie dag af druk die Heer se hand op ons volk; en hy sal druk, by tye ligter en dan weer swaarder, tot die dag dat ons vry en onafhanklik is - dan sal ons ongekende seën en voorspoed hê .
Oom Nieklas het verder vertel hoe die Boere in 1910 bidure oor die land gehou het sodat die Heer die regte man sou aanwys om Eerste Minister van die Unie te word. Dit het gelê tussen John X Meriman en genl Louis Botha. Genl Botha val met die verkiesing uit teen sir Percy Fitzpatrick in Pretoria-Oos. Ons glo toe die Here het verkeerd gewys - hoe kon Hy dan vir ons 'n Engelsman aanwys. Ons gee daarom vir genl. Botha die Losberg-setel en maak hom Eerste Minister. Slegs vier jaar later sleep hy ons in die Wêreldoorlog, iets wat Merriman nie sou gewaag het nie. En so gebruik die Here die generaal met wie ons gesondig het om ons mee te straf.
Daarom is ek (Boy Mussmann) nie kwaad vir generaal Botha nie in weerwil daarvan dat hy my so sleg behandel het deur my, ná die Rebellie, veertien dae lank in die moordenaarselle op te sluit.
Vervolg...