Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Toe kom my ou Bybel voor my ...
Ek gaan naar die Noorde en oor die pad is draad gespan en een vrou ze hand maak die draad los, en ek gaan verder.Toe staan die brand pragtig groen en mense hardloop om 'n kop. Toe kom my ou Bybel voor my in gezicht .
Nieklas van Rensburg het hierdie visioen in November 1920 gehad en by verskeie geleenthede teenoor sy kinders en vriende daarvan gepraat en gesê hy sien dit as die "geboorte en bevryding van ons volk (die draad word deur 'n vrou losgemaak en die brand staan pragtig groen). Maar dit sou eers intree nadat die volk in die 'noorde' by 'n koppie fees gevier het (Voortrekkermonument 1948:.... mense hardloop om 'n kop - 'n teken van vreugde), en hierdie fees sal 'n sterk godsdienstige strekking hê. Toe kom my ou Bybel voor my in gezicht.
In hierdie tyd 1920/21 het die Siener ook begin melding maak van die baie 'swart strepe' wat hy kruis en dwars oor Suid-Afrika sien loop. Een Sondagmiddag vertel hy dit ook aan ' n ou huisvriend van Wolmaransstad, mnr. J. Lategan: "Ek het weer daardie swart strepe gesien, maar hierdie keer het ek ook duisende mense van Kaapstad af tot hier bo in die Noorde langs die strepe sien optrek. Toe mnr. Lategan wou weet wat die swart strepe dan kan beteken, het die Siener geantwoord: "Dit moet seker paaie wees, maar hoekom hulle swart is, moet jy my nie vra nie"
Destyds het niemand nog geweetdat daar eendag 'n netwerk van nasionale teerpaaie sou kom nie.
Op 'n verdere vraag waarheen die duisende mense op pad was, het oom Nieklas sy kop geskud: "Ek weet nog nie, maar dit het my laat dink aan Agt-en-dertig se Groot Trek. Die Boere gaan seker weer soos daardie tyd verenig en saam wegtrek - waarheen weet ek nie." Hulle het nie verder daaroor gepraat nie.
Mnr. Lategan vertel dan die interessante staaltjie van die keer toe oom Nieklas in 'n visioen die destydse SAP-regering met homself verwar het:
Oom Nieklas-hulle het teen die boloop van die Makwassiespruit gewoon, vertel mnr. Lategan, en ná 'n sterk reënbui het dit dikwels gebeur dat die kraal toe onder vuil, modderwater staan. As die weer dan in die somermaande teen laatmiddag se kant opsteek, is die skape gewoonlik aangekeer om op ' n granietkoppie te oornag in plaas van in die kraal.
In Desember 1921 kuier oom Nieklas en tant Anna een Sondagmiddag by die Lategans op Wolmaransstad en die Siener vertel hulle toe van die gesig wat hy die vorige dag gehad het: "Ek sien dat daar ‘n klomp van my mofskape op hulle plek Iê en slaap. Skielik kom daar 'n verskriklike beroering onder hulle. En toe ek weer kyk, sien ek net skape doodlê."
(Die ou Boereprofeet het Die Suid-Afrikaanse Party van destyds altyd gesien as mofskape omdat, soos hy graag gesê het, "hulle sulke dom dinge kan doen").
Oom Nieklas meen toe die visioen beteken dat daar groot moeilikheid en ellende op die Sappe wag. Maar toe hy kort daarna op 6 Januarie 1922 weer by mnr. Lategan aan huis kom, lag hy alte lekker. "Weet jy, neef," sê hy toe: "ek dag dis die Sappe wat in die moeilikheid gaan kom en al die tyd is dit toe ek self, want eergister toe die weer opkom, het ons oudergewoonte die skaap koppie toe laat aankeer. Die weer was mos baie swaar die dag, en hier teen skemer hoor ons toe 'n geweldige donderslag. ' n Rukkie later kom sê my seun toe daardie weerligstraal het net mooi in die middel van die skape neergeslaan en nie minder nie as 247 getref. Hulle is almal dood - byna die helfte van my trop."
Vervolg...