SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (23)

Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens

Die  Simboliese Ossewatrek

In  1920 het  die Siener  aan  dr. Servaas Rossouw,  'n predikant  van Senekal   (vroeër   van  die  Nuwe  Kerk,   Kaapstad   en  vader   van oud-pres.  P.W. Botha se eggenote,  mev. Elize Botha)  'n breedvoerige  en merkwaardige    uitleg gegee van sy visioene van al die dinge wat  nog  in die  komende  dekades  met  die  Boerevolk  sou gebeur. Ek gaan hier slegs na een van daardie belangrike gebeurtenisse kyk omdat dit aansluit by wat oom Nieklas reeds  aan mnr. Lategan  en sy gesinslede  vertel het.

Volgens dr. Rossouw  het oom Nieklas gesê hy sien donkiewaens en ossewaens  uit die suide optrek na die noorde.  Die donkiewaens sak  later  uit en die ossewaens  word  al hoe  meer  en meer. Hulle word  gelei deur 'n   perdekommando  en oom Nieklas  sien hom (dr. Servaas  Rossouw)  op 'n wit perd aan die voorpunt.

Dr.  Rossouw   het  voor  sy  dood  skriftelik   bevestig   dat  hierdie gesig 18 jaar later letterlik  bewaarheid  is toe hy tydens  die Simboliese Ossewatrek van Swellendam af saam met ' n groot kommando aan die voorpunt  van die tog Transvaal  toe gery het.

Hierdie  visioen  van  Siener  word  in 'n  koerantartikel   deur mnr Lategan  van Wolmaransstad bevestig:

Ek het al byna vergeet van die  swart  strepe oor die Unie, skryf hy, toe  oom Nieklas  dit eendag  skielik  weer  ophaal:  "Ek sien  ' n menigte  van  mense  uit  alle oorde  van  die  land  optrek  langs  die swart  strepe  na 'n   koppie  naby 'n groot  stad waar  hulle almal  bymekaarkom.   Daar  is 'n  groot  fees  aan  die gang  rondom ‘n baie groot  huis wat net so vensterbank   hoog gebou is. Rondom  die gebou is daar 'n  menigte  vlae wat wapper en in die middel  waai ook die Republikeinse  vlae, en dan sien ek ons volk  is vry..."

Die dag met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938 was mnr. Lategan  daar. Hy vertel self: Ek sit toe so en kyk na die Monument  met al die vlae wat daar wapper  en veral na die Republikeinse   vlae  wat  so 'n  prominente   plek  in die middel  inneem,  en meteens  besef  ek dis die gesig  wat  oom Nieklas  gehad het! Toe dink ek aan wat oom Klasie gesê het van ons volk wat dan vry sal wees

Ek gaan roep toe my vrou en vra haar of sy nog kan onthou   wat oom Nieklas  destyds  gesê het, en ek maak toe ook nog die opmerking  dat, as oom  Nieklas  reg was,  ons volk  vry  sal wees om   ons toekoms  uit te werk wanneer  die Monument  eendag  voltooi  is.

Maar  skaars  nege  maande  na die hoeksteenlegging,  breek  die Tweede  Wêreldoorlog  uit en moes die Monument  jare  lank onvoltooid  staan  terwyl  daar met tussenposes gepoog is om die skaars en duursame  bou-  en  ander  materiale   bymekaar   te  maak  en  te verwerk.

Toe daar in 1948 'n verkiesing  uitgeskryf  word,  het ek aan verskeie  mense  vertel  van  die gesig  wat  oom  Nieklas  gehad  het en bygevoeg   dat die Nasionale  Party  die verkiesing  moet wen, want hoe anders kan ons vry wees? Maar hoe die NP die oorwinning  kon behaal,  het ek nie geweet  nie.

'n Jaar  later met die inwyding  van die Monument  was die Afrikaner  aan bewind  en was hy vir die eerste  keer in sy geskiedenis ‘ n vrye volk -   voorlopig  altans, want oom Nieklas het ook 'gesien' sy volk sal vorentoe  weer daardie vryheid verloor, opnuut verdeeld raak en dan deur die smeltkroes  van sy laaste en bitterste  vryheidsstryd moet gaan ...

Vervolg...