Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Stakings
Ek (Anna) en Nieklas staan met dubbelloop haal geweers en mik op Johannesburg. (Die Boere berei hulle voor vir 'n oorlog). Toe kom banja mofskape af van Johannesburg ze kant. Toe staan aan die Weste kant 'n kliphuis en die voorste stuk ze zink is af en die deur is uit.
Hier het die Siener 'n baie duidelike gesig gehad van die mynstakings en opstande van 1922 in Johannesburg. Die verloopte Smutsregering het militêr ingegryp en altesaam 287 blanke stakers gewond en 140 doodgeskiet. Hierdie ongenaakbare optrede van Smuts het tot gevolg gehad dat hy alle steun onder die arbeiders verloor het, en toe hy skaars twee jaar later (op aanbeveling van Siener van Rensburg) 'n algemene verkiesing uitskryf, is hy teen alle verwagting in deur genl. Hertzog se Nasionale Party verslaan.
Die kliphuis waarvan die voorste sinkgedeelte af is en wat ook geen deur het nie. 15 Julie 1920 - My ou draags hoed is aan die zuide kant en hy word splinter nieuw.
Hierdie visioen bevestig die voorafgaande gesig: 'n Nuwe Boereleier sou die leisels by Smuts oorneem (genl. Hertzog 1924)
Donker wolk oor Johannesburg
Sowat ses maande vóór genl. Christiaan de Wet se afsterwe, het oom Nieklas een Sondagmiddag ná ete aan huis van mnr. Gert Malan, 'n skoolhoof van Dewetsdorp-omgewing, nie net die genl. se dood voorspel nie, maar ook aan 'n Hollander, mnr. Cornelis Kruger, vertel dat hy nog op wonderbaarlike wyse veilig sal uitkom onder 'n 'donker wolk' wat oor Johannesburg hang.
Die Siener het gesê hy weet nie wat dit presies beteken nie, maar hy sien hoe genl. De Wet van Bloemfontein na die suide ry met duisende mense agter hom. En verder, dat daar gelyktydig daarmee 'n donker wolk oor Johannesburg lê. Toe kyk hy na mnr. Kruger en sê: "Hollandertjie, jy is ook onder daardie donker wolk, maar die Liewe Here sal jou beskerm - geen haar sal op jou hoof geskend word nie."
Ses maande later sterf genl. De Wet. Sy stoflike oorskot is gevolg deur sy perd en duisende mense suidwaarts van Bloemfontein na die Vrouemonument, waar genl. Smuts ook 'n toespraak gelewer het.
In daardie selfde tyd het die groot staking in Johannesburg plaasgevind. Mnr. Kruger moes vir sake na Pretoria gaan. Op Bloemfonteinstasie waarsku 'n klerk hom dat hy op eie risiko die reis onderneem. Nog voordat sy trein Vereeniging bereik, sien mnr. Kruger oral tekens van die geweld: talle spoorwegwaens wat deur die stakers verwoes is. Op Parkstasie in Johannesburg begroet 'n wilde skietery en die gedreun van vliegtuie hom. Hy bereik Pretoria veilig. Maar met sy terugkeer na Dewetsdorp was daar net 'n troepetrein beskikbaar, en hulle sou Germiston-stasie eers agtuur die aand bereik, aangesien die troepe kort-kort in gevegte met stakers betrokke was. Daar moes mnr. Kruger noodgedwonge die nag in 'n hotel oorkant die stasie deurbring. Die offisier in bevel wat aan hom 'n pas moes uitreik, se afskeidswoorde was: "Goodbye. I'll never see you again!"
Germistonstasie was deur stakers omring en op pad hotel toe het die koeëls om mnr. Kruger gefluit. Hy kon eers die volgende middag 'n trein Vrystaat toe haal. Gevegte het steeds in die omgewing van Johannesburg gewoed, maar net soos die Siener voorspel het, het mnr Kruger 'veilig' onder die Donker Wolk deurgekom.
Vervolg...