Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Die era ná Verwoerd
Louis Dohne van P.K. Bernhondina, Reitz, O.V.S. was ná die mislukte Rebellie van 1914 saam met oom Nieklas in die Fort op Boksburg. 'n Gesig wat die ou Boereprofeet een nag daar gehad het, het mnr. Dohne op die laaste drie bladsye van oom Nieklas se Bybel neergeskryf. Voor in die Bybel staan in 'n fyn handskrif: "Aan oom Siener van Rensburg, van Kate Kock, Germiston". Die datum daarby is 1916.
Mev. Ria James, ('n kleindogter van Siener) het hierdie visioen aangestuur en het ook sekere van die inligting oor die stryd in Angola verskaf.
Visioen: Ek droom naby my huis is daar 'n kerk, maar die predikant is nie daar nie. (Die kerk is nog teenwoordig, maar is geestelik reeds dood). Die waens staan in twee rye, ek sit tussen die vroumense, en 'n klein meisie van so 8 jaar staan op en sê: "Kyk na die Westekant. (Daar kom 'n oorlog waarin die vroue en kinders letterlik agtergelaat sal word. Hier word direk heengewys na die stryd op ons grens).
Die stryd in Angola
Dit was kort voor dagbreek. (Suid-Afrika betree 'n nuwe tydvak). Daar kom blare aan die lug uit, dit lyk soos popelierblare. (Daar word 'n verkiesing gehou; maar omdat dit populierblare is, gaan dit hier nie om die Afrikaner se belange nie - mielieblare was vir Siener 'n sinnebeeld van die Boere. Maar populierblare is ook 'n teken dat die regerende party baie kwesbaar en wankelrig sal wees). Toe verdwyn die blare. ('n Verkiesing sal af- of uitgestel word). Hulle was eers net 'n kol (die blare) (beteken daar wag donker tye) en neem (dan) toe dat die lug onderlangs vol blare is. ('n Baie groot verkiesing waaraan almal sal deelneem). Toe verdwyn die blare. (Geen verkiesings meer nie. Maar weereens sal dit nie die Afrikaner raak nie).
Toe gaan ek huis toe, ek was sonder skoene, en het op my kouse geloop. (Die Boere sal in hierdie tyd nog nie sy eie regering hê nie). Toe ek voor die deur kom, kom my kinders uit die huis uit. Toe is daar voor my deur, in die laagte 'n klompie beeste; twee rooi bulle, een met 'n bles, is aan die vegte. Die bles spring uit, en vlug 'n entjie maar veg weer. Ek bekommer my nie oor die geveg nie. (Hier word o.m. direk verwys na die uitgerekte oorlog op ons noordelike grens, en dat die soldate wat ons gestuur het om te gaan veg, so te sê nog in hul 'kinderskoene' was. Maar daardie oorlog was so ver verwyder dat die meeste van ons ons selde daaroor "bekommer" bet).
Ek loop na my stal, en in die loop was dit of my kop 'n ruk gee (die volk sal wakker skrik). Ek kyk op, die lug is helder skoon en dadelik begin swart letters met silwer glans uit te kom, van Suidoos na Suidwes. Dit was of die hele lug met letters vol word. Toe sien ek besonderlik syfers:- 1-4-3-7-6. Toe verdwyn die letters. (Een van die belangrikste invaloperasies in Angola het op die 14de van die 3de maand 1976 plaasgevind).
Toe sien ek in die Noordweste twee huise aan die brand, en die derde een is uitgebrand, net die mure staan. (Verwys na die geweld en brandstigting wat daarna sou volg). Toe word ek wakker, en toe ek wakker is sien ek 'n manh lei my tot by die muur van die groot deur, toe staan hy. Ek sien aan die Weste kant daar's nie 'n fort nie (beteken: of ons grense word nie meer bewaak nie of daar is nie meer 'n plek van veilige bewaring vir oortreders nie - bulle word sommer voor die voet vrygelaat - die deure staan wyd oop).
Weer tweespalt
Die tweespalt in Afrikanergeledere is een van die sentrale temas in Nieklas van Rensburg se visioene. Hy het dit so dikwels 'gesien', so dikwels daaroor gepraat dat mens die indruk kry daar was nog nooit iets anders as verdeeldbeid onder ons Afrikaners nie. Bloedvergieting, stryd en tweespalt loop soos 'n donker bloedstroom deur ons volksgeskiedenis: daar was verdeeldbeid oor die Groot Trek; Uniewording; oor ons taal; 'n eie vlag en burgeroorlog; en opstande oor ons deelname aan die twee wêreldoorloë. Selfs oor die kwessie van 'n Republiek was daar onsekerheid en moes dr. Verwoerd eers 'n referendum hou om 'n mandaat te kry.
Maar soos oom Nieklas tereg voorspel het, het die jong Repuliek se nate gou begin lostorring (vgl. sy visioen van 15 Desember 1917) en kort voor lank was die tweespalt eens so erg.
En vandag is die dreigende oorlogswolke klaar weer aan die opsteek. Kyk mens nou wat oom Nieklas vooruit gesien het, is daar geen twyfel nie: Hierdie keer staan dIe Boerevolk voor die groot en finale waterskeiding. Siener praat van die stryd wat nou voorlê as die laaste suiwering in Afrikanergeledere. In die laaste jare van sy lewe moes oom Nieklas dit herhaaldelik sien kom het, want hy het voortdurend en met groot droefheid daarna verwys, en ook verskillende fasette daarvan aan enkele van sy vertrouelinge toegelig.
Reeds in 1920 het oom Nieklas met dr. Servaas Rossouw hieroor gepraat en by 'n ander geleentheid ook aan mnr. Boy Mussmann gesê: "Rusland sal ondergaan in dieselfde tyd wanneer die Afrikaner se laaste vryheidstryd gaan begin ..."
Die skerp hefmes
1 Feb. 1918: My wit hefmes is baie skerp. In die Kaap is een handbyltjie baie skerp - aan die lug is oorlogswolke. In Europa is 'n moddersloot van Oost na Zuid. By die Zuidepunt staat 'n groot huis. Uit die huis kom 'n swartetjie en gaat in die sloot en raak weg. 'n Man te perd kom uit die moddersloot en raak weer weg - die sloot word baie breed.
Verklaring: 'My hefmes' is die Boeremag. Die 'handbyltjie in die Kaap' verteenwoordig die regering van die dag - daar dreig oorlog tussen die Boere en regeringsmagte. In dieselfde tyd sal daar 'n sinistere bondgenootskap tussen die Ooste (Rusland) en Europa gesluit word (die moddersloot). Maar Europa word nou 'n verenigde nasie met een parlement wat in die suide gesetel sal wees (by die Zuidepunt staat 'n groot huis). Die bondgenootskap tussen Europa en die Oosbloklande sal egter slegte gevolge hê vir die opkomende geslag swart Suid-Afrikaners (die swartetjie). Dan sal daar 'n sterk leier (man te perd) opstaan en die leisels in Europa oorneem. Dit sal egter van korte duur wees (hy raak weer weg).
Die Antichris?
Die gebeure wat oom Nieklas hier gesien het, stem verbasend baie ooreen met Daniël en Johannes se gesigte oor die Antichris wat as wêreldheerser sal opstaan tydens Europa se eenwording. Volgens Daniël 7:25 sal die Antichris ook vir slegs 'n kort tydjie (drie en 'n half jaar) regeer. 'n Tyd waarin daar groot ellende op die aarde sal wees, (Die sloot word baie breed).
Siener van Rensburg het self erken dat sy visioene nie altyd chronologies aan hom verskyn nie. Hy sal bv die een dag 'n gesig kry van iets wat eers oor 20 jaar sal gebeur, maar net die volgende dag weer sien hy 'n insident wat binne 'n week gaan plaasvind. Dit het egter ook meermale gebeur dat hy eers die einde van iets 'sien' en daarna (soms maande, selfs jare later) die begin daarvan.
Op 18 Februarie sien hy 'n gesig wat die 'hefmes-visioen' aanvul:
Groot mandjies lê aan die kant van die zee in die water (daar is 'n skaarste aan water en kos). Die blauw steen van Europa draai hierheen (Europa se finansiële druk en inspraak op die Republiek neem toe). In Pretoria kom 'n dik garingstomp uit wat verdroog (sterk regering wat tot niet gaan) en (dit) trek af Zuide toe (Goewerment). Na afloop van hierdie gebeure sal die regering se invloed slegs tot Kaapland beperk wees.
Die gans word vrygelaat: Mandela
Op die oggend van 8 September 1925 is die Siener vroeg weg na die koppie agter sy brakdakhuis. Later toe hy terugkeer, is hy so onthuts en neerslagtig dat hy nie wil praat oor wat hy 'gesien' het nie. Eers toe sy dogter, Anna, later daardie middag die geleentheid kry om dit in haar oefeningboek op te teken, versoek haar pa haar om die woorde 'baie belangrik' (N.B.) bo-aan te skryf:
Staan 'n beeld van 'n zwarte in gezich, hy zak agteroor en sy mond gaan groot oop en 'n gans kom by sy bek uit, en vlie na Oost. Toe kom 'n ander groot voël met gezich van 'n mens, met baie lang vlerke, sy kleur is wit, maar die vere is of hulle grys is ... Toe kom 'n trein van West af en daar zit zwartes in ...
Verklaring: Hierdie visioen word allerweë deur kenners beskou as een van Siener se duidelikste gesigte oor Nelson Mandela se vrylating, die ontbanning van Kommunisme en die verreikende gevolge wat dit vir die Boerenasie en sy toekoms sou meebring.
Die standbeeld verwys na 'n swartman in gevangenskap. Hy sak agteroor, sy mond gaan oop en 'n gans vlieg daaruit - hy word deur die owerbeid tegemoetgekom en vrygelaat. Die gans vlieg onmiddellik na die Ooste (hy gaan sluit bande met die Kommuniste). Toe kom 'n ander groot voël met lang vlerke terug (met sy terugkeer is sy mag en invloed aansienlik uitgebrei). Sy kleur is wit, maar die vere vertoon grys (die 'vrede' wat hy aanbied, is nie eg of te vertrou nie). Die trein uit die Weste verwys na swart uitgewekenes wat in hierdie tyd (die era van die gans) weer na Suid-Afrika toe sou terugkeer.
Saddam Hoesein
In een van sy ongedateerde visioene sien oom Nieklas 'n Turk wat drie hooimiedens aan die brand steek. Dan slaan die aarde brand en sien hy 'n gesig van perde met bloed wat van die stange afloop. Uit mnr. Boy Mussmann se verklaring, kan ons die volgende afleiding maak: die Turk is Saddam Hoesein. (Destyds was Turkye nog deel van die Ottomaanse ryk). Die drie hooimiedens is Koeweit, Saoedi-Arabië en Israel wat almal in 1991 by die oorlog in die Midde-Ooste betrokke was. Hoewel dit daarna gelyk het as of die oorlog nou verby is, sou Hoesein (volgens oom Nieklas) die vure binnekort weer aanblaas, en hierdie keer sal dit in ' n volskaalse oorlog ontwikkel 'die begin van die Derde Wereldoorlog' en dit sal 'so aaklig wees dat bloed van die perde se stange sal afloop.'
Op 4 April 1919 was Turkye weer in die prentjie. Toe trek daar waens van die Noorde naar die Ooste. Die geaardheid van die waens is Turkse waens, maar hulle is nieuw en het zeils oor... Die visioen het nogeens betrekking op Saddam Hoesein.
Vanaf 8 Junie 1925 tot 1 September van daardie jaar sien oom Nieklas agtereenvolgens dele van dieselfde, ontstellende gesig, maar raak dit net baie meer uitgebreid en sou Suid-Afrika nie langer die toename in terrorisme en geweld kan vryspring nie:
8 Junie: In Europa is drie gemesselde kuipe (lande wat ooreenkomste met mekaar gesluit het) met droge gras in, en een TURK steek hul aan brand ... (Turkye sal 'n oorlog begin). 15 Junie): Brand 'n groot hout. Voor lê 'n groot hoop hout opmekaar (23 Junie): en die vlam slaat bo uit, maar raak weer dood. (Die oorlog sal nie lank duur nie). (1 Julie): In die Unie staan die koring wit ryp (binnelandse optrede word lank uitgestel). Staan in die Kolonie 'n groot koringmiet wat ek in die tronk gesien het (Boere wat gaan saamstaan). (10 Julie): Die gras brand in Europa en die aarde word van daar na hier swart. (Ons sal die oorlog in Europa nie vryspring nie). (1 September): In die Unie is 'n oond met houtvuur en die vlam slaan by die bek uit ...
(Terwyl die oorlog 'n paar jaar gelede in Turkye gewoed het, het Suid-Afrika een van die bloedigste tye in sy geskiedenis beleef).
Kodesa
Daar is reeds genoem dat Siener van Rensburg heelparty van sy gesigte self verklaar het. Hy het egter ook oor die loop van jare moontlike uitlegte of verklarings aan sy gesin en 'n paar intieme vriende toevertrou. Hierdie waardevolle inligting is goedgunstiglik deur sy kleinkinders en die nasate van sy vriende tot beskikking gestel. Daar is ook talle insiggewende verklarings ontvang van persone wat reeds lankal besig is met 'n intensiewe studie van die Siener se gesigte en die simbole wat daarop betrekking het.
Tog is dit met huiwering dat ek sekere van hierdie verklarings publiseer omdat party lesers dit dalk as onwaarskynlik, te vergesog of onnodig sensasioneeI kan beskou. Dit was dan ook die geval met die "Kodesa-visioen". Maar ter wille van die goeie orde word dit tog hier volledig weergegee. (Die tyd wat elke waarheid openbaar, sal wel uitwys hoe eg of vals hierdie verklaring is):
Die visioen: 29 Aug. 1918 - Een boek slaat oop, die eerste Blaai is swart, op die 2e zit mense, die derde blaai word groot en lang en agterop staat geskrywe. 'n Zabel kom uit.
Die verklaring: Die visioen is 'n verwysing na Kodesa want dit gaan hier oor twee groepe mense (swartes en ander) wat besig is met onderhandelings. Maar hierdie onderhandelings sal baie lank en uitgerek wees (die derde blaai word groot en lank). Dit sal beslis ook nie in alle eerlikheid geskied nie: daar word agteraf gekonkel - moontlik deur meer as een van die betrokke partye, want: (agterop staat geskrywe). Die uiteinde van die onderhandelings sal egter allesbehalwe die verwagte vrede bring: ('n Zabel kom uit). Dis baie interessant dat hier juis na 'n sabel verwys word - seker die bekendste Russiese wapen uit die tyd toe Kommunisme sy beslag gekry het. En daarom moet mens aanvaar dat die konfrontasie waarop afgestuur word, Kommunisties geïnspireerd sou wees. Die aard en omvang van die konfrontasie word egter nie in hierdie visioen vermeld nie, maar wel in 'n ander gesig wat Siener gehad het): 28 Jan 1926 - Ek sien 'n dik, vet swart perd en daarna 'n vuilgeel perd. Die swart perd voorspel moeilikheid met die swart mense; die vuilgeel perd wys op moeilikheid met die Indiërs. Uit Indië kom 'n geweer so na aan my dat ek in die bek van die loop kyk - dit beteken dat ons in daardie donker tyd baie moeilikheid met die Indiërs sal hê.
Vervolg...