Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Die sewe plae van Engeland – wat nog in vervulling moet gaan
Een van Siener van Rensburg se mees ontstellende gesigte is ongetwyfeld die een i.v.m. "Die sewe plae wat God vir Engeland beskik het". In die bronne beskikbaar is daar meer as 20 direkte verwysings na hierdie vreemde en skrikwekkende gebeurtenis wat, volgens die Boereprofeet, vroeër of later nog Engeland se lot gaan wees.
Daar was by oom Nieklas nooit enige twyfel dat Engeland se finale ondergang die gevolg sal wees van die misdade wat hy destyds in die Boereoorlog teen Afrikanervroue en -kinders gepleeg is nie. "Kyk," het hy een keer aan 'n vriend gesê: "elke maal as daar 'n groot wêreldgebeurtenis kom, dan word kinders en vroue vermoor en dan volg die straf gewis. Het Farao dan nie ook die vroedvroue opdrag gegee om al die manlike kinders by geboorte dood te maak nie? En die straf was dat Farao met al sy ruiters in die Roode See begrawe is ..."
In hierdie verband het hy dan verwys na I Samuel 15:2-3: "So sê die Here van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in sy weg gestaan het by sy optog uit Egipte. Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigeling, bees en kleinvee, kameel en esel..."
Daar is min twyfel dat Siener hierdie sonderlinge visioen oor "Engeland se sewe plae" by verskeie geleenthede breedvoerig met 'n paar intieme vriende bespreek het: .
"Ek sien 'n vrou wat met linte opgetooi is ('n sinnebeeld van die Engelse volk). Dan sien ek hoe die linte een vir een begin afdraai totdat die vrou naderhand heeltemal kaal is - en uiteindelik sien ek haar sterf. Dit beteken dat Engeland met verloop van tyd al sy buitelandse besittings en kolonies gaan verloor..." (Hierdie deel van die visioen is reeds bewaarheid).
Die eerste plaag:
Vorentoe gaan dinge vir Engeland nog baie lelik skeef loop, sê oom Nieklas: "Ek sien sewe swart wolke in die lug met druppels wat net so begin uitsak. Toe kom 'n man met 'n grys pak klere ('n geestelike leier) by my en vra my of ek die sewe wolke aan die lug opgemerk het . Ek sê toe ja, ek sien aan elke oord 'n oos, wes, en suid twee swart wolke, maar aan die noorde kant net een swart wolk. Toe sê die wese met die grys pak klere: " Kyk, dit is die sewe rampe wat God oor Engeland gaan uitgiet en wat Engeland sal vernietig ....'" Volgens oom Nieklas het hy op daardie oomblik skielik weer onthou van die Engelse vrou wat met linte opgetooi was.
Die tweede plaag:
Hy vertel dan verder dat toe hy in 1914 gevangene in die Fort was, hy een nag gesien het hoedat hy en die Rebellie-offisiere saam met hom in 'n put staan (dit beteken groot moeilikheid). Maar by hulle in die put was daar 'n lang leer en hy (Siener) staan met sy voet op die eerste sport van die leer. Terselfdertyd het hy ook gesien hoe die gras in Engeland brand ('n burgeroolog woed daar). Die vlam slaan baie hoog uit; dit raak weg en die wêreld lyk soos 'n land wat gelyk geêg is. Toe is daar 'n put. In die put is 'n bont vark (Engeland wat in groot ellende verkeer) en hy staan teen die walle en snoep. Die vark lyk soos een wat nie kan uit nie. Oor die put lê net 'n paar garingboomhoute. (Engeland sal pogings aanwend om sy haglike omstandighede vir die res van die wêreld weg te steek). Hy sê die vark is vreeslik honger. Dit wys ook op n groot hongersnood wat Engeland in die toekoms gaan tref.
Toe hy dit sien, het hy dadelik geweet dat hulle groepie daar in die Fort en ook die Boerevolk nog uit die moeilikhede van die Rebellie en die nasleep daarvan - die eise van duisende ponde wat teen Rebelle ingestel is - gered sal word. Maar by daardie bont vark was daar geen reddingsmiddel (leer) te sien nie, en dit het gewys dat Engeland se ondergang aaklig gaan wees. Ook op ekonomiese gebied: .
"Ek het gesien hoe die varke oor 'n damwal harloop. Die dam word leeg en dan sit daar 'n groot voël onder op die straatklippe. 'n Klein voëltjie kom toe aangevlieg, maar word byna dadelik deur die grote ingesluk." Hy het die gesig self as volg verklaar: "Die dam water is Amerika wat geld aan Engeland gaan leen, en dit sal uiteindelik tot gevolg hê dat Engeland finansiëel gebreek word."
Die derde plaag:
Hongersnood en geldskaarste sal in daardie tyd oor Engeland kom. Dan sal groot troppe swart beeste (mense uit Afrika en Indië) die land van die oostekant af binnehardloop. Die een bees sal nog vassteek en terugkyk. Oom Nieklas sê dit dui aan van watter kant af die gevaar kom: al die gekleurde rasse uit Sy Majesteit se voormalige kolonies sal na Engeland toe stroom en groot rasseprobleme tot gevolg hê – want in Afrika en die Ooste sal daar verskriklike ellendes heers en desperate hordes siek en verhongerde Indiërs en swartes gaan in Engeland en ander dele van Europa 'n heenkome soek.
Die vierde plaag:
Hy sien dit as 'n pot wat op die vuur staan. In Engeland en Frankryk is gewone potte op die vuur. Dit dui op burgeroorloë. Maar in Rusland sien hy 'n seeppot op 'n gloeiende vuur - dit beteken dat 'n ontsaglike burgeroorlog daar sal woed. Dan staan Duitsland en Amerika bymekaar en hul beveg Rusland.
Oor hierdie slagting sê Siener: "In 1914 was dit so donker dat ek nie my perd se maanhare mooi kon sien nie. Maar dié keer sal dit so donker wees dat mens nie eens jou hand voor jou oë kan sien. Dog vir ons wat weet wat gaan gebeur en hoe die redding kom, sal dit nie so donker wees as vir die wat nie weet nie ... "
Die vyfde plaag:
Siener vertel dat hy in die Eerste Wêreldoorlog gesien het hoe die Britse vloot die Duitsers by Jutland aanval. Daar het hy Kitchener sien sterf, en toe was die Britse vloot soos skaalbakkies op die water. "Dit meen hulle het kragte gemeet en is te lig bevonde ..." Maar in die verre toekoms sien hy die Britse vloot soos leë kassies koersloos op die see ronddobber. Hulle is nutteloos en doelloos, "want watter nasie kan veg as hy burgeroorlog en hongersnood beleef?
Die sesde plaag:
Hy sê aan Boy Mussmann: "Ek sien 'n man op 'n swart perd die water inry. Ek sien hom net soos ek jou nou daar sien; ek sien hoe die water spat en hoe dit oor hom slaan. Perd en ruiter verdwyn onder die water. Dit sal met Engeland se weermag gaan presies soos met Farao se ruiters wat die Israeliete in die Rooi See agtervolg het."
Die sewende plaag:
Die laaste plaag wat Engeland gaan tref, sien hy as volg: "Daar staan 'n bont vark. Ek plaas my een hand om die voorpote en die ander hand om die agterpote en met een slag pluk ek sy pote onder hom uit dat die vark omval. En, dit is dan ons (die Boerenasie se aandeel aan die ondergang van Engeland ..."
Gedurende die eerste dekade van hierdie eeu was dit in 'n sekere deeI van Transvaal algemeen bekend dat 'n baie vooraanstaande predikant net na afIoop van die Driejarige Oorlog (1902) 'n vloek oor Engeland uitgespreek het. Sy woorde was glo: "Wat julle aan ons vrouens en kinders gedoen het, gaan julle vrouens en kinders ook nog tref!").
Vervolg...