DIE WAPENSKOUE

 ONS BOEREVOLK DESTYDS

(Lees reeks by Ons Boerevolk destyds)

Die seuns van elf of twaalf jaar het al met die geweer kon omgaan.

Hulle het nie eers geleer skiet as hulle sestien of agtien jaar oud was nie.  Die meeste seuns het al op die leeftyd van elf of twaalf jaar hulle eerste wildsvleis huistoe gedra.  Soms het hulle die kruit en lood in die hande gekry sonder dat die pa geweet het hoe hulle daaraan kom, maar hulle het dit gekry en geleer skiet onderwyl hulle baie jonk was.

Die pa’s wat wou hê dat hulle seuns eersteklas skuts word, het vir hulle ‘n klein geweertjie gekoop  Hierdie klein geweertjie was nog swaarder as ons Lee-Metfords of Mausers, want hierdie geweertjie het met koeëls geskiet wat twaalf op ‘n pond geweeg het.

Die oues het in hulle jongdae vir tydverdryf geskiet. Hulle het baie gejag en in oefening gebly in oorloë met die swart stamme. Hulle het geleef volgens die gesegde:  As jy vrede wil hê, maak jou dan klaar vir oorlog.

Om die mense te leer om vinnig korrel te vat en gou te skiet, het die regering op bepaalde tye wapenskoue gereël. Die veldkornet het sy mense bo 16 jaar twee of drie keer per jaar laat bymekaar kom. Hulle is gekommandeer om met perd, saal en toom en met geweer en ammunisie op ‘n bepaalde dag en uur teenwoordig te wees op die laerplek, soos hulle die bymekaarkomplek genoem het.

Gemeenskaplike optrede maak ‘n mooi vertoning

As die gewapende burgers bymekaar was, aangetrek asof hulle teen die vyand optrek, was dit ‘n mooi gesig. Hulle vriendelike gesigte het gesê die wapenskouing is so lekker soos ‘n feesdag, want al die ou maats en vriende van die eensame plase was weer ‘n rukkie bymekaar om oor mekaar se welstand te verneem.

Die veldkornet gee sy bevele. Die plek waar geskiet word is afgemerk. Hy ondersoek elke man se geweer. Almal s’n was nog voorlaaiers. Dan moet die burgers te perd ‘n ry vorm. Vyf of tien burgers moet tegelyk wegja in die rigting van die teiken wat aangedui is, bestaande uit ‘n groot pop, ‘n boom of iets anders, soms net ‘n miershoop.

Die skiet op die teiken

Hulle moes jaag tot hulle sowat driehonderd tree van die teiken af was. Elkeen wat die skietplek bereik, moet afklim en vinnig laai, maar ook die perd versorg. Die skut moes maar die toom in sy arm hou. Die perd het soms so geruk en in die rondte gedraai dat hy amper geen kans kon kry om die geweer aan die kop te gooi nie en nog minder die kans kon kry om aan te lê en korrel te vat, sodat die skoot na die teiken baie kere skoon mis was. Manne wat goeie “skietperde” gehad het, het beter gevaar. Die perd het botstil bly staan tot sy baas gelaai en klaar geskiet het.

As die eerste vyf klaar geskiet het, moet  hulle na hulle plek terugjaag en dan gaan daar weer ‘n ander vyf of tien. Dit gaan aan tot die hele ry ‘n beurt gehad het. Dan begin die proses weer van vooraf, totdat elkeen in die ry drie beurte gehad het. Die een wat die beste geskiet het, word deur die veldkornet geprys en hy moedig die ander aan om tog te onthou hoe belangrik dit is om tye van oorlog vinnig en akkuraat te skiet.

Verskillende gewere en die pryse

Die gewere was eers almal voorlaaiers. In 1881 het hulle die eerste patroon-gewere by die Engelse afgeneem. Die wapenoefening het maar op die ou manier voortgegaan. Elke man moes sorg vir sy eie geweer en ammunisie. Ná die Jameson-inval het die regering begin om gewere en patrone te verskaf. Die eerstes was Martini-Henri’s, wat met groot swaar koeëls geskiet het. Die Martini-Henri-gewere is na ‘n paar jaar later deur die regering vervang met ‘n geweer wat die boere genoem het die Girtie.

Nadat die regering die patroon-gewere uitgereik het,. het elke man gereeld ‘n aantal patrone ontvang vir oefening. Hulle moes na skywe skiet op afstande van 200, 400 en 500 tree. Pryse vir die beste skuts is toegeken. Eerste prys: twee sakkies kruit. Tweede prys: een sakkie en ‘n half en die derde prys was een sakkie.

Die wapenskoue is baie kere aantreklik en aanskoulik gemaak deur die ruiters militere maneuvers te laat uitvoer.

Na die wapenskou verby is, was daar altyd nog ‘n bietjie gesels, grappe maak, groete uitdeel en dan het elkeen opgeruimd huis toe gery. So het die mense van verskillende wyke met mekaar in aanraking gekom en ook geleer om in oorlogtyd ‘n eenheid te vorm en so teen die vyand op te tree.

Later in moderne tye is die wapenskoue vervang deur skyfskiet op regeringskywe.  Die aksies wat met die perderuiters uitgevoer is, was nie meer moontlik nie, want die meeste mense het nie meer met perde gekom nie, maar met karre.  Moderne dinge is nie altyd verbeterings op die oue nie...