DIE ONVERSKILLIGE STAD

’n Satire

Lees reeks by Trek laer, my volk!

Ds AE van den Berg

Daar was eenmaal 'n voorspoedige stad met baie hoë mure en min inwoners.  Hulle hartstog vir die lewe het uit hul eiesoortigheid geblyk.   Nie ver daarvandaan was daar egter 'n dorp met baie inwoners wat in vrees, vullis en ellende geleef en die slegte gewoonte gehad het om iets vir niks te verwag.  Hulle wou oes sonder om te saai.

Die dorpenaars het egter die vermoë gehad om medelye af te dwing.  Gevolglik het die stedelinge hulle jammer gekry en probeer help om hul lewensgehalte te verbeter.    Dit was alles tevergeefs.   Die dorpenaars het dit wat tot hul voordeel gestrek het, verwerp en booshede omhels.

Omdat die stedelinge hulle nie van ellende kon sien omkom nie, het hulle baie van hulle in diens geneem.  Hulle is egter nie toegelaat om in die stad te woon nie, omdat hulle min en meestal geen agting vir die stad se waardes getoon het.    Daarbenewens was die stedelinge ook deeglik bewus van die risiko wat in hul mindere getalle gelê het en die toegang tot die stad streng beheer.

Laasgenoemdes se verstandelike vermoëns en hoë lewenstandaarde het vir hulle welvaart en gerief gebring, iets waarop die dorpenaars baie jaloers was.   Hulle wou ook so leef, maar was nie bereid om die nodige opofferings te maak nie.   Gevolglik het hulle die stedelinge begin beroof ten einde iets vir niks te kry.

Toe sake later handuit ruk, het baie van die stedelinge hul owerheid versoek om dorpenaars algehele toegang tot die stad te weier.   Die owerheid het egter vir verdraagsaamheid gepleit en die oortreders vasgevat.   Goeie wetgewing het die dorpenaars verhoed om lewens te beëindig wat moes voortgaan.

Na verloop van tyd het ’n aantal vreemdelinge hul opwagting in die stad gemaak om die wêreld te bespied.   Hulle wou die stad se rykdom bekom deur dorpenaars te gebruik om die stedelinge met hul getalle te verswelg en daarna van die dorpenaars ontslae te raak.    Die stedelinge was egter vyandelikheid te wagte en opgeleide wagte op die stadsmuur geplaas om alarm te maak as onraad bemerk is.

Toe die vreemdelinge besef dat die stad nie met geweld ingeneem kon word nie, het hulle van strategie verander om dit van binne in te neem.   Hulle het met sekere stadsopsieners met ’n kenmerkende oorverhitte gedagtegang in die geheim begin beraadslaag en hulle na buitestedelike berade genooi.

Die kunsmatige ophef wat van hulle gemaak is, het hulle in die dryfsand van selfvoldaanheid laat wegsink.    Daarna het die gifgasse van verraad hulle so bedwelm, dat hulle nie geskroom het om hul agterstewe vir hul eie mense te wys telkens wanneer hulle voor die konkelaars gebuig het nie.

Niemand het geweet waar hulle met die verraderlike opsigters gestaan het nie.  Hulle het ’n noot in die psalm verkry, maar die lied te hoog ingesit.   Die wanklanke wat dit veroorsaak het, het egter vir talle dwase simfonies geklink en ’n era van kruipende ellende ingelei wat tot ‘n owerheid van skurke sou lei.

Kort hierna is die Raad van Opsieners oorreed om die stad se beleid in hersiening te neem en desnoods te verander.   Dit is die Groot Ommekeer genoem en as ’n stukkie hemel op aarde voorgestel.   Dit was ’n leuen!    Die Groot Ommekeer was ’n bose aanslag op die handhawing van stedelinge se eenselwigheid wat op ’n eweredige verspreiding van oneweredige verdienstes neergekom het.   Die stad moes in die smeltpot van ’n mense-mengelmoes verdwyn!

Alhoewel die dorpenaars niks kon verloor nie, het hulle aanmatigende eise vir hul samewerking gestel en soos parasiete geëis om deel te hê aan dit waarvoor hulle nie gewerk het nie – iets vir niks.   Die stadspoorte moes oopgegooi word en die stedelinge sou hul gesindheid verander deur hul eenselwigheid op die altaar van eenwording te plaas.  Niks of niemand is ontsien om aan dié eise te voldoen nie.   Geen prys was te hoog of opoffering te groot om die noodlottige proefneming af te dwing nie.

Daarna is talle invloedryke leierwagte na buitestedelike berade genooi en gebreinspoel om die Groot Ommekeer as die voorportaal tot ’n Lotusland te bemark.   Gedagtig daaraan dat die stedelinge kopsku vir die uitverkoping van hul beskawingswaardes sou wees, het hulle die wagte op die mure ingespan om hul te oorreed; duiwe met hul roofvoël-instinkte!

Feitlik al die wagte het die knie voor Baäl gebuig en met hul Janus-gesigte soos engele gepraat, maar soos duiwels gewerk.    Deur in een rigting te kyk en in ʼn ander een te roei, het hulle hul eie mense ’n lelike kool gestowe.   Hul verlammende verraad en uitputtende oneerlikheid het almal onkant betrap.  Baie het geweet wat reg was, maar, ontrou aan hul eie hart, teruggedeins.  Hul instink om selfbehoud was gekastreer.

 

Die verraderlike wagte het meesterlik daarin geslaag om die stedelinge oor hul voorspoed skuldig te laat voel.   Hulle het hul ook laat glo dat hulle die sleutel van die paradys in die hand gehad het, maar eers in 'n beswyming van berou moes gaan alvorens dit oopgesluit kon word.

Met hierdie morele ontwapening is stedelinge se wil om te oorleef, uitgedoof en het ’n era van skaamtelose knoeiery aangebreek waar skape oorreed is om met wolwe oor vrede te praat.  Die galgtou is vir ’n reddingstou aangesien waarna die stad met iets anders as die nag donker geword het.

Die konkelaars het agter die masker van gewaande onreg geskuil en daarop aangedring dat stedelinge die dorpenaars vir gewaande onregte van die verlede om verskoning vra.   Hulle het soos wafferse skeidsregters die fluitjie geblaas en links en regs strafskoppe uitgedeel.

Sommige van die wagte het werklik geglo dat die dorpenaars eerlike bedoelinge gehad het en daarop aangedring dat hulle in die stadsbestuur opgeneem word.   Die dorpenaars was hoogstens glimwurms, maar nie lanterns nie en het geen geheim van hul wraaksugtige planne gemaak nie.  Hulle was soos ’n krokodil wat nie ’n deel van die karkas wou hê nie, maar die hele een!

Die wagte het baie stedelinge mislei, maar nie almal bedrieg nie.  Sommige het deur die bome tot in die bos gesien en beswaar gemaak.   Hulle is egter met gevoellose oë soos dié van ’n dooie vark aangekyk.    Die konkelaars het geen teenstanders geduld nie!

Nadat die Raad van Opsieners die program van verandering bekend gemaak het, het talle beswaarde wagte teen die onbekookte proefneming beswaar gemaak en stedelinge gewaarsku om nie hul eie doodvonnis te onderteken nie.  Hulle het gehoop dat die Hoofraad van Wagte die konkelaars tot besinning sou bring en die onheil betyds afweer.

Hierdie raad het tot hul grootste ontsteltenis alle wagte aangesê om die Groot Ommekeer onvoorwaardelik te steun en die duiwel opgelaai om verder te bestuur.  Al die wagte wat nie as laksmanne vir hul eie mense wou optree nie, is summier afgedank.    Die res van die wagte was in die wolke oor hul oneerlike sukses en met ’n dolk onder die jas glimlag.

Nadat die Raad van Opsieners ontbind het, is 'n nuwe raad saamgestel wat soos kabbelende waters ʼn gebrek aan diepte verraai het.   Dié kunsmatige vennootskap was die voorhamer waarmee die dorpenaars die stad se geldkas stukkend geslaan en iets vir niks gekry het.

 

Die nuwe raad was groot soos ’n standbeeld, maar net so leweloos.  Hulle het al die eienskappe gehad wat stedelinge afgestoot het en niks om te bewonder nie.     Baie van hulle lewens was so verrot, dat dit aan misdadigheid gegrens het.   Enkeles is selfs vir dade vereer waarvoor stedelinge tereggestel sou word!      Daarbenewens was hulle gewaande kennis soos ’n druppel in die emmer in vergelyking met hul oseaan van onkunde.

Dorpenaars het geen liefde vir die waarheid gehad nie en kundige stedelinge gehaat.  Met hul onversadigbare aptyt vir chaos en korrupsie het hulle slegs in grade van boosheid van mekaar verskil.    Desondanks het talle dwase die boosdoeners as helde vereer.

Die nuwe raad het al die tekens van ’n georganiseerde roof-organisasie getoon. Hulle het hul in die see van hebsug verlustig en die reg aangematig om die stad te plunder.  Daar is by die geldkas begin.  Nuwe wetgewing het dit vir hulle maklik gemaak om vir bobbejaan oppasser van die vyeboom te maak!

Eerste op die sakelys was ‘n vryheidsfees waartydens die stadspoorte plegtig oopgegooi en duisende dorpenaars die stad ingestroom het.  Hulle het dae lank geëet, gedrink en gedans - iets vir niks.    Daarna het misdaad soos ’n middeleeuse plaag deur die stad versprei en booshede soos ‘n stofwolk laat opstyg.

Toe wolwe losgelaat is, is skape doodgebyt en het stedelinge die slagoffers van mense met barbaarse neigings geword.   Baie van hulle is in die modderpoel van onregskepping versmoor en nie as vennote in ’n nuwe bedeling beskou nie, net as verslane vyande wat verder verneder moes word.    Die argitekte van die Groot Ommekeer het ʼn engel geleen, maar met ʼn duiwel terugbetaal!

Om die aandag van hul onbekookte optredes af te trek, is oortreders beskerm en stedelinge vir allerlei onbenullighede aan die pen laat ry.   Die spinnerak het klein insekte gevang, maar grotes deurgelaat wat die onderskeid tussen bedreiging en beveiliging laat vervaag het.   Dit was gevaarliker om ’n profeet as ’n misdadiger te wees.

Onbevoegde dorpenaars is in verantwoordelike poste aangestel wat alles ontwrig en die ware toedrag van sake telkens met dwase argumente probeer omkeer het.   Gevolglik het die argitekte van die Groot Ommekeer soos perde agter eerbetonings aangehardloop net om te sien hoe esels dit voor hul wegraap. Hulle lugkastele het in puinhope en hul dagdrome in nagmerries verander!

Toe die poppe begin dans, het baie van hulle hakskene gewys.   Ander het nog ’n tydjie uitgehou en hul daarna met versigtige voetwerk van die oorblyfsels van ’n ordelike bestel verskoon om elders in die buiteland vir die gevare van hul eie handewerk te gaan wegkruip.

Diegene wat nie kon vlug nie, het die jammerlike toedrag van sake aan die groeipyne van 'n nuwe bedeling toegeskryf en ontnugterdes probeer troos dat die plunderaars spoedig voorbeeldige burgers sou word.    Dit het nie gebeur nie.   Die wanorde was geen groeipyne nie, maar die verfoeilike optrede van ’n gepeupel op wie ‘n ordelike bestel omgekeer is.   Hulle wou net die heuning hê.  Wat daarna met die korf gebeur het, kon hulle nie skeel nie.

Die raad het koppe getel, maar nie geweeg nie.  Gevolglik was daar te veel koppe en te min verstand.    Hulle het mag afgedwing, maar geen gesag ingeboesem nie.   Dit moes verdien word.    Flaters is met giftige uitlatings verdoesel en selfs met weersinswekkende dreigemente opgevolg.   Dit het hulle gereeld in doodloopstrate laat beland.  In plaas van te rem, het hulle die versneller getrap!

Om die aandag van hul onbevoegdheid af te lei, het hulle die argitek van stedelike voorspoed by elke moontlike geleentheid beswadder.   Sy uitmuntende leierskap, wyse beplanning en liefdevolle toewyding is smadelik as slegte geskiedenis veroordeel, terwyl die hel wat aan stedelinge se voete losgebars het, as hemel-op-aarde besing is.   Sy lig moes uitgedoof word ten einde hul eie sombere lig te laat skyn.

Daarna is hy soos ’n olifant in ’n put gestamp en is elke padda uitgenooi om hom ’n skop te gee.   Dorpenaars het soos slegte honde vir ’n dooie leeu geblaf en valse aantygings en beledigings soos paddastoele op ‘n mishoop laat opgeskiet.

Die nuwe raad het baie sinonieme vir die waarheid gehad, maar geen alternatief nie.  Hulle kon die groot argitek se eerbaarheid nie nadoen nie.   Daarvoor was hulle te minderwaardig en hul dwaasheid te ensiklopedies groot.

Goedheid, die goue ketting wat mense onderling met mekaar verbind, het klaaglik ontbreek.   Al waarin hul meesterlik geslaag het, was om die stad se siel met onreg toe te rank.   Hoe verder dit saamgesleep is, hoe swaarder het die ketting geword.

Die wrywing tussen stedelinge en dorpenaars het nie verdwyn soos voorsien is nie, maar aansienlik vergroot.   Almal kon nie onder dieselfde sambreel saamboer nie en gevolglik het dit te bedompig in die parskuip van saambestaan geword.   Die diepgewortelde verskille tussen stedelinge en dorpenaars kon nie ongedaan gemaak word.  ’n Handjievol skape kon nie ’n magdom van wolwe onderhou nie.

Op die puinhope van die ou bedeling het geen beter toekoms verrys nie; eerder groter ellende.   Leë sakke kon nie regop staan nie.   Gevolglik was daar geen wenners nie, slegs verloorders.   Die Groot Ommekeer was ’n groot ontwrigting en die wolkbreuk wat dit veroorsaak het, het die stad onherstelbaar verspoel.

Stedelinge het slawe van ’n gedwonge bestel geword en is gedwing om hul welvaart met mense te deel wie se behoeftes groter was as hul vermoë om dit te bevredig.    Eersgenoemdes is doelbewus verswak ten einde dorpenaars te versterk.  Hierdie noodlottige verbeeldingsvlug het alles in ’n bose afgrond-spiraal na benede gesuig!

Korrupsie het die stad soos ’n getygolf getref en spoedig epidemiese afmetinge laat aanneem.   Alles het op los skroewe te staan gekom waarna ’n duisternis op die eens sonnige stad neergedaal het.  Dit was nie as gevolg van ’n gebrek aan lig nie, maar aan dwase wat die lig nie wou raaksien nie.

Die oproep om verandering sonder ʼn nugtere omskrywing het chaos gesaai en geweld gemaai.   Dwase het in trurat voortgebeur.    Desondanks wou die wagte nie erken dat die Groot Ommeswaai ’n noodlottige proefneming was nie.   Daarvoor was hulle te lafhartig om te veg en te vet om te vlug.   Almal het bly glo dat uit die vrot hout iets goeds gekerf kon word.

Klein mense wat groot skaduwees in die stad gegooi het, het die son oor ’n beskawing laat ondergaan.   Die golf van kulturele verwoesting wat die stad daarna getref het, het alles in die spoelsloot van agteruitgang laat beland.   Die sweer van verrotting kon nie gekeer word nie.   Arm woonbuurte het agterbuurte en huise het krotwonings geword.   Die stad het soos die dorp begin lyk.

Stedelinge het in die seekatgreep van ’n skrikbewind beland wat met guerillategnieke oorlog teen ’n beskaafde gemeenskap gevoer is.   Selfs die wagte wat die mynveld help opstel het, kon die gevolge daarvan nie vryspring nie.   Omdat hulle saam met honde geslaap het, het hulle met vlooie wakker geword.

Harde waarhede het hulle verraderlike velle bly prikkel en leuens op die oppervlak laat dryf.    Hulle het hul kort geheue egter met ʼn skoon gewete verwar en skewe antwoorde op reguit vrae gegee.   Stedelinge het hulle maar by die koue as van ontnugtering probeer warm hou en die tragiese toedrag van sake met hul lot verwar.

Diegene wat tussen die wolwe gewoon het, het gou geleer om soos hulle te huil en agting vir hul laksmanne gehad.    Sommige wou selfs die put opvul nadat die kalf alreeds verdrink het.   Die meeste het maar die krokodil bly voer en gehoop om die laaste opgevreet te word!

Van die stadsmuur het min oorgebly.   Die omgewing was met rommel besaai en die hekke gesteel.   Slegs 'n handjievol wagte wat hul lyf adelaar gehou het, was nog aan diens en soos heuningbye met heuning in die bek maar ’n angel aan die stert.

Dit was nie nodig om die omgewing te bespied nie.  Die vyand was aan bewind.   Al taak wat hulle gehad het, was om mense by te staan wat steeds wraak op hulself wou neem.   Die haan van hul eie gewete kon hulle nie wakker kraai nie!