1919: SA ONDERTEKEN VERDRAG VAN VERSAILLES

KULTUURDAGBOEK 28 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Vredesverdrag van Versailles is op hierdie dag deur die oorwonne Duitsland onderteken, en daarmee het die Eerste Wêreldoorlog amptelik tot 'n einde gekom.

Die Geallieerde Oorlogsopperraad bestaande uit die Verenigde State, Brittanje, Frankryk en Italië, het Japan as vyfde grootmoondheidslid bygevoeg, en hierdie vyf het die verdrag geformuleer wat ontsettende offers van Duitsland geverg het, onder meer die verlies van 25 000 vierkante myl grondgebied met 6 miljoen inwoners.

In verhouding tot militêre krag en oorlogsbydrae is sittings- en stemreg by Versailles in vier groepe verdeel. Die Groot Vyf het vyf stemme gekry, België, Serbië en Brasilië drie stemme, Suid-Afrika met elf ander lande twee stemme, en die res van die 32 oorlogsbetrokke lande net een.

Generaals Botha en Smuts het Suid-Afrika verteenwoordig, en genl Smuts het 'n groot rol gespeel, ten eerste in die grondlegging van die Volkebond en ten tweede in die vestiging van mandate oor verowerde vyandsgebiede, insluitende Suidwes-Afrika as 'n C-mandaatgebied aan die Unie van Suid-Afrika.