1854: EERSTE PARLEMENT- SITTING IN KAAPSTAD

KULTUURDAGBOEK 30 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag is die eerste verkose Parlement van die land in Kaapstad deur lt.-goew Charles Henry Darling geopen. Tot dusver was Kaapland 'n kroonkolonie onder Britse gesag en met weinig eie mag. Tussen 1834 en 1853 het 'n Wetgewende Raad sukkelend voortgegaan. Sedert 1846 is egter daadwerklik gepoog om groter selfbestuur te bekom. Allerlei irrelevante voorvalle en eise het die saak bevorder of benadeel maar in Maart 1853 het Engeland finaal die beoogde konstitusie bekragtig.

Van 1 Julie 1853 af tot 1910 is die Wet met beperkte verandering toegepas. Die Wetgewende Vergadering, oftewel Laerhuis, het uit 46 verkose lede wat vir vyf jaar verkies is, bestaan. Alle manlike, mondige Britse onderdane – ongeag ras, kleur of geloof – wat aan sekere geringe ekonomiese bepalings voldoen het, was stemgeregtig.

Die spanning tussen die Oostelike en die Westelike Provinsie het tot ongeveer 1885 die politieke toneel in die Laerhuis oorheers. Die Wetgewende Raad, oftewel Hoërhuis, het uit 15 lede bestaan wat vir tien jaar verkies is. Die hoofregter sou hier as voorsitter optree.

Tot 1872, toe verantwoordelike bestuur aanvaar is, het hierdie staatkundige reëling gegeld en veral aan die Engelstalige Kapenaars groot politieke ervaring besorg.

Hollands was tot 1882 as taalmedium in dié rade verbode.