1893: ADV JG STRYDOM

KULTUURDAGBOEK 14 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die datum 14 Julie is in die geskiedenis van Suid-Afrika van diep insnydende betekenis. Op 14 Julie 1888 is pres Jan Brand van die Vrystaatse republiek oorlede. Op 14 Julie 1904 is pres Paul Kruger van die Transvaalse republiek oorlede as balling in Switersland toe dit gelyk het of daar vir die Afrikanervolk geen toekoms meer is nie. In daardie stadium was daar in die Klein-Karoo egter reeds 'n jong seun wat voortbestem was om een van die vernaamste politieke leiers van die Afrikaanse volk te word.

Hy was Johannes Gerhardus Strijdom, gebore in hierdie dag op Klipfontein in die distrik Willowmore. Hy het reeds op die laerskool geopenbaar dat hy met groot talente geseën is, en daarom het sy ouers hom na die hoërskool op Franschoek gestuur waar hy gematrikuleer het. Van daar is hy na die Victoria-kollege in Stellenbosch waar hy die BA-graad behaal het.

Op 20-jarige leeftyd toon hy al groot belangstelling vir die politiek. Dit blyk onder meer uit 'n brief wat hy in 1913 aan die koerant 'Ons Land' geskryf het waarin hy hom aan die kant van genl Hertzog teen genl Botha geskaar het. Kort hierna het hy na Pretoria verhuis om 'n betrekking in die staatsdiens te aanvaar.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, is hy opgekommandeer om aan die ekspedisie teen Duits-Suidwes-Afrika deel te neem. Hy het egter geweier om die wapen te dra en is daarop by die Rooi Kruis ingedeel.

Ná sy terugkeer in Pretoria het hy aan die TUK die graad LLB behaal. In 1918 het hy hom as prokureur op Nylstroom gaan vestig waar hy 'n bloeiende praktyk opgehou het.

Adv Strijdom het kort daarna met 'n mej Van Hulsteyn in die huwelik getree. Hierdie huwelik is egter binne 'n paar jaar ontbind. Eers in 1930 het Strijdom 'n tweede huwelik aangegaan, hierdie keer met mej Susanna de Klerk. Uit hierdie huwelik is 'n dogter en 'n seun gebore.

Adv Strijdom het reeds op Nylstroom aan die politiek begin deelneem. In 1923 het hy in 'n brief aan Ons Vaderland die leiers van die Nasionale Party gewaarsku dat hulle die republikeinse ideaal in geen omstandigheid mag versaak nie. In 1929 het hy die verteenwoordiger van die kiesafdeling Waterberg in die Volksraad geword. Hy het spoedig getoon dat hy 'n politikus van formaat is. Toe die groot toets met koalisie en samesmelting in 1933 tot 1934 gekom het, het Strijdom geen oomblik geaarsel om die Nasionale Party te help handhaaf nie.

Hy is in 1935 as die leier van die Transvaalse Nasionale Party gekies. Dit was toe dat hy werklik getoon het wat in hom steek want hy moes die stryd teen die Verenigde Party vrywel alleen aanknoop.

Adv Strijdom het egter nooit moed verloor nie. Met die hulp van die koerant 'Die Transvaler' waarvan dr HF Verwoerd die hoofredakteur was, is stadig maar seker die hele Transvaal vir die Nasionale Party verower. In 1948 is die groot sege behaal. Strijdom het Minister van Lande in die Kabinet van dr Malan geword en lê as sodanig groot bekwaamheid aan die dag. Toe dr Malan as Eerste Minister uitgetree het, word Strijdom op 30 November 1954 die vyfde Eerste Minister van Suid-Afrika.

Sy bewind was maar kort van duur aangesien sy gesondheid swak was. Op 24 Augustus 1958 is hy oorlede.

Vanweë die vurigheid waarmee hy die politiek benader het is hy allerweë die Leeu van die Noorde genoem. Ondanks voorspellings van sy politieke teenstanders beweeg hy egter met verdrag en oorleg – hoewel steeds met vasbeslote doelgerigtheid. As rondborstige republikein wat feitlik sy hele politieke loopbaan deur hom vir die verwesenliking van die strewe beywer het aanvaar hy as premier 'n gemagtigde benadering – dat die republiek nie op die volk afgedwing sal word nie.

Tog is dit 'n onweerlegbare feit dat hy die grondslag vir die uiteindelike republiekwording gelê het. Gedurende sy bewind het die nasionalisering van sekere uiterlike simbole na die komende republiek gewys:
* In 1957 is eerste die Unievlag tot enigste landsvlag verhef.
* Later daardie jaar het adv Strijdom aangekondig dat Die Stem van Suid-Afrika voortaan as die enigste volkslied van Suid-Afrika aanvaar word.
* Die oorname van Simonstad deur die Suid-Afrikaanse Vloot volg spoedig daarna want vir hom was dit ondenkbaar dat 'n deel van Suid-Afrikaanse grondgebied nie aan die land behoort nie.