KULTUURDAGBOEK 19 JULIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Hendrik Adolph Mulder stam uit 'n predikantefamilie in Seeland waar hy op hierdie dag in Zaamslag gebore is. Mulder studeer in Amsterdam, emigreer in 1934 om gesondheidsredes na Suid-Afrika en behaal in 1938 die graad MA in Letterkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Hy doen in Suid-Afrika aanvanklik joernalistieke werk, werk ook tydelik by die staatsvertaler en word in 1941 lektor in Nederlandse kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Vanaf 1946 tot met sy dood op 3 Mei 1949 is hy lektor in Nederlands aan die Rhodes-Universiteitskollege.
In Suid-Afrika is hy bekend as die eerste werklike literêre kritikus, maar as die Nederlandse digter W Hessels geniet hy min erkenning.
Daar het 'n aantal digbundels van hom verskyn, en hy het ook 'n aantal gedigte in Afrikaans vertaal. As digter en kritikus lewe hy in twee wêrelde, die Nederlandse en die Afrikaanse.
Christelike waardes vorm altyd die grondslag van sy poësie.
In Suid-Afrika beywer hy hom vir die bekendstelling van Nederlandse digters en prosateurs. Later skryf hy al hoe meer in Afrikaans en lewer hy 'n bydrae tot die uitbou van die Afrikaanse letterkunde in die jare 30 en 40.
Hy was ook mede-oprigter van die tydskrif Standpunte.