1838: ZOELOES VAL VEGLAER AAN

KULTUURDAGBOEK 13 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Ná die slag by Italeni en die mislukte strafekspedisie onder leiding van Cane, Biggar en ander teen Dingaan in April 1838, het die Natalse Voortrekkers in twee laers saamgetrek – een aan die Tugelarivier en die ander aan die Boesmansrivier, naby Estcourt in Natal, wat later as Veglaer bekend sou word.

Op 13 Augustus 1838 het sowat tien Zoeloe-regimente Veglaer aangeval en drie dae lank vasbeslote probeer om die laer te oorweldig. Die rotsvaste verdediging van die klein klompie Voortrekkers, gelei deur Jacobus Potgieter en Hans de Lange, het egter gehou.

Die verdediging van die laer is aansienlik versterk deur die kanon Ou Grietjie en hulp wat van Maritz se laer opgedaag het.

Hoewel daar aan Voortrekkerkant geringe lewensverlies was – slegs een Voortrekker het gesneuwel terwyl 'n groot aantal Zoeloes dood is – is feitlik al die vee van die Voortrekkers deur hulle aanvallers weggevoer.

Ná die slag het die Voortrekkers Veglaer verlaat en het die meeste hulle by die laer van Gerrit Maritz aangesluit.