1884: STIGTING VAN DIE NIEUWE REPUBLIEK

KULTUURDAGBOEK 16 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die stigting van die Nieuwe Republiek was die regstreekse gevolg van Britse inmenging in Zoeloe-aangeleenthede ná die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879. Die verdeling van die land in dertien afsonderlike eenhede het die onderlinge stryd aangewakker en die posisie van die koningshuis in gevaar gestel.

Toe Dinizulu se troon deur ondergeskikte kapteins bedreig is, moes hy iewers om hulp gaan aanklop. Hulle het 'n uitnodiging aan Lukas Meyer en ander Transvaalse burgers gerig om die vrede te herstel, wie Zoeloeland in April 1883 binnegegaan het, daarna vir Dinizulu as Cetshwayo se opvolger aangewys het, en toe gehelp het om Zibhebhu te  verslaan en groot grondgebiede vir hulle dienste ontvang het.

Op 16 Augustus 1884 het hulle die sogenaamde Nieuwe Republiek uitgeroep oor die gebied wat later die distrikte Vryheid en Utrecht beslaan het. Lukas Meyer is aangestel as kommandant-generaal en waarnemende president.

Nadat genl Piet Joubert, wat tot president verkies is  daarvoor bedank het, is Meyer in hierdie amp verkies en op 5 Augustus 1885 beëdig.

Die Afrikaner se sterk republikeinse ideaal spreek nie slegs duidelik uit die oprigting van nog 'n republiek nie maar ook uit die staatsregtelike opset daarvan. Die grondwet wat op 31 Julie 1884 aanvaar is, het voorsiening gemaak vir 'n verkose Volksraad, 'n uitvoerende raad en 'n regstelsel bestaande uit 'n landdros, heemrade en jurielede.

Pogings om die Republiek erken te kry het aanvanklik misluk, maar die nuwe regering het voortgegaan en die grense van die nuwe staat is op 26 Oktober 1885 geproklameer. 'n Jaar later het Brittanje die onafhanklikheid van die gebied erken maar die Republiek moes sy verklaarde protektoraat oor Zoeloeland laat vaar. Die res van Zoeloeland is in Mei 1887 deur Brittanje geannekseer weens toenemende finansiële probleme het die regering van die Nieuwe Republiek met Transvaal begin onderhandel, en op 14 September 1887 is 'n verdrag van vereniging tussen die twee republieke onderteken. Op 20 Julie 1888 is die Nieuwe Republiek by Transvaal ingelyf as die distrik Vryheid.