Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy soos 'n kind in die HERE glo, van jou klere tot die brood op jou tafel, dra dit jou deur moeilike tye en sal jy alles op jou pad met wysheid kan hanteer.
1904:ACVV (VROUE- VERENIGING)
KULTUURDAGBOEK 1 SEPTEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Afrikanervrou as pioniermens en Voortrekkerleidster is oorbekend. Sy het wondere verrig. Die invloed van die Afrikanervrou ná die ellende van die Tweede Vryheidsoorlog en haar rol met die opheffing van 'n verwarde, vernederde volk wat verstedelik en verarm het, steek egter selfs hoër uit. Georganiseerde vrouebewegings het in ons land immers nie om stemreg en gesag gepleit nie maar het ontstaan om die gemeenheid en beleid van uitwissing ten opsigte van die Afrikanervrou en Afrikanerkind in die konsentrasiekampe deur Brittanje, teen te gaan. Hulp is verleen en protesvergaderings gehou – in Kaapstad, Paarl en op Cradock.
Vroueverenigings het oral ontstaan en kosbare werk verrig, maar verenigde optrede was nodig want die ellende was ontsaglik, en hulp was noodsaaklik soos met die armblanke vraagstuk in 2011.
Elizabeth Roos is die stigter van die Zuid-Afrikaansche Christelijke Vrouevereniging (ACVV) waarvan die eerste tak in Kaapstad op 1 September 1904 gestig is. Uit hierdie daad en tak het die ander provinsiale vroue-organisasies gevolg – die SA Vrouefederasie in 1904 in Transvaal en die Orangia-Vrouevereniging in die Vrystaat. Later het die Natalse Christelike Vrouevereniging gevolg.
In 1920 is die Federale Vroueraad gestig ten einde hierdie liggame te bind en te versterk. Die grondslag was Christelik-nasionaal, terug na die Kerk, ywer vir volk en taal, opvoeding en opheffing, die bestryding van armoede, agterlikheid en geestelike onvermoë, die verspreiding van die goeie boek en die teengaan van die verdere insinking van soveel armblankes. Jaarvergaderings is gehou en takke is gestig. Die Afrikanergesin is geleer om homself te help en nie op aalmoese te bly teer nadat die eerte hulp verleen is nie.
In 1928 is mev ME Rothmann as sekretaresse van die ACVV aangestel en sy het oral persoonlike hulp verleen. Die vrouebewegings het geld vir liefdadigheid ingesamel, onkunde teëgegaan, gesondheidsvoorligting verskaf, ons mense besiel, voorstelle aan die owerhede gedoen om spesiale kursusse en behuisingskemas te begin, huisvlyt te bevorder en kultuurverbondenheid onderstreep.
Die samewerking met die drie Susterkerke, aldrie toe nog suiwer en vas in die waarheid van God's Woord, was pragtig. Maatskaplike werksters is opgelei en landwyd aangestel om probleme betyds te ondervang en uit te skakel. Gesinsorg, groepwerk en inrigtingsorg, maatskaplike euwels en volksgesondheid het aandag geniet, maar volksopvoeding is voorop gestel. Daarom is 'n opvoedingsfonds in 1905 gestig sodat mense kon gaan studeer; 'n kunsfonds is gestig om die estetiese gevoel te bevorder; te vroeë skoolverlating is ywerig beveg, universiteit en huishoudskool is op elke denkbare wyse gesteun; goeie losieshuise vir dames is help inrig om verval of uitbuiting teen te gaan. Kortom, vroue soos M Schonken, H Retief en A Theron het wondere verrig. Maar dit was veral die indiviuele lid wat deur besoek en meelewing, voorbidding en geldhulp, volharding en opvolgwerk, mede-Afrikaners weer vas laat staan het.