1919: VRYHEIDS- DEPUTASIE KEER TERUG

KULTUURDAGBOEK 3 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag het die Vryheidsdeputasie onder leiding van genl. J.B.M. Hertzog uit Europa in Durban geland, bitter teleurgestel oor die afloop van hulle onderneming. Hertzog, bygestaan deur N.C. Havenga, D.F. Malan, F.W. Spies, E.G. Jansen en Gey van Pittius (sekretaris) het, aangemoedig deur pres. Wilson (VSA) se beklemtoning van die selfbeskikkingsreg van klein nasies as beginsel grondslag vir die vredesonderhandelinge na Wêreldoorlog I, ook na die vredeskonferensie in Parys (Frankryk), 1919, gegaan om namens Suid-Afrika se nasionaalgesindes te pleit vir die herstel van die voormalige Boererepublieke se onafhanklikheid.

Die deputasie het slegs die eerste minister, Lloyd George (Brittanje) te spreke gekry, wat aan hulle meegedeel het dat Suid-Afrika reeds ten volle oor sy eie sake beslis, en dat genl.. Louis Botha, Eerste Minister, wat ook saam met genl. Jan Smuts op die konferensie was, alleen namens die volk van Suid-Afrika kan praat. Hoewel hy niks bereik het nie, het hierdie ervaring Hertzog gesterk en aangemoedig om hom vir die formele erkenning van Suid-Afrika se onafhanklikheid te beywer.