1900: DANIE THERON SNEUWEL

KULTUURDAGBOEK 5 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Danie Johannes Stephanus Theron is op hierdie dag in Tulbagh gebore, waar hy tot sy tiende jaar skoolgegaan het. Toe het hy reeds besliste leierseinenskappe en lofwaardige karaktertrekke aan die dag gelê. ‘n Onderwyssertifikaat en die matriekeksamen het hin in 1889 in Kaapstad verwerf, waarna hy in die distrik Vredefort in die Vrystaat gaan onderwys gee het. In 1891 het hy op ‘n okkupasie plaas in die Soutpansberg begin boer, maar die onderneming in 1893 vaarwel gesê en op Pietersburg by ‘n prokureur gaan werk.

Hy het in die tyd (1894) aan die Malaboch-oorlog deelgeneem, op grond waarvan volwaardige burgerskap van die Zuid-Afrikaansche Republiek aan hom toegeken is

In 1895 besoek hy Pretoria, waar hy as vertroueling van genl. Piet Joubert ‘n brief aan dr. L.S. Jameson, die invalsleier, gaan oorhandig het. Na die inval het Danie Theron met sy karakteristieke ywer, pligsgetrouheid, idealisme, deursettingsvermoë en erns die prokureurseksamen aangepak en dit in 1896 met lof afgelê. In 1899 het hy hom as prokureur op Krugersdorp gevestig. Sy vaderlandsliefde het hom baie gekend en bemind gemaak, veral toe hy W.F. Moneypenny, die redakteur van The Star, op 22 April 1899 in Johannesburg met die vuis bygedam het, omdat die man in sy koerant die Afrikaanssprekendes beswadder het.

Danie kon uitstekend Engels praat en skrywe. Met goedkeuring van die kommandant-generaal en die Krygsraad het Danie ‘n “Wielrijders-Rapportgangers-korps der Zuid-Afrikaansche Republiek” van uitgesoekte manne gestig om inligting omtrent landsake in te win en aan die kommandant-generaal beskikbaar te stel.

Ongeveer 20 September 1899 het Danie korpslede met offisiere na ses plekke aan die grense van Transvaal gestuur. Hy het self tot by Bulawayo deurgedring. Met die aanvang van die Engelse Oorlog op 11 Oktober 1899, is Danie Theron se korps verdeel en by verskeie kommando’s ingedeel. Hy en 17 man het saam met die hooflêer na Natal gegaan, waar hulle met heldemoed gewerk het. Hy het verlof gekry om dergelike korpse in die Vrystaat en die Kaapprovinsie te gaan stig. Omstreeks 23 Februarie 1900 was hy by Paardeberg, waar hy ‘n boodskap van genl.. C.R. de Wet aan die omsingelde laer van genl.

Piet Cronje op byna bomenslike wyse deur die vyandelike linies en wagte, soms kruip-kruip, gedra het. Cronje wou nie luister nie en het hom en 4 000 burgers op 27 Februarie 1900 aan lord Roberts oorgegee. Danie en sy manne het nou werklik ‘n vegterskorps geword wat veral die agterhoede van genl. C.R. de Wet se kommando soos ‘n waghond gedek het. Aan die begin van September 1900 was kmdt. Danie Theron se Korps op Elandsfontein, naby Fochville, waar hy en genl. Liebenberg ooreengekom het om vroeg op 5 September ‘n Engelse kolonne wat van Johannesburg af op pad na Potchefstroom was, te stuit. Genl. Liebenberg het op daardie dag en uur nie opgedaag nie, en Danie het besluit om man alleen op ‘n koppie verkenningswerk te gaan doen.

Op die kruin was hy skielik naby sewe soldate en in ‘n ommesientjie het hy drie van hulle doodgeskiet en vier gewond. Toe het kanonne stof en klippe op daardie rand in die lug laat opskiet. Meteens was Danie se geweer stil. ‘n Bomskerf of ‘n stuk rots het hom dodelik teen die gesig en kop getref. Sy kamerade het sy lyk die volgende dag onder ‘n hopie grond in ‘n kombers toegedraai gevind. Met trane het sy manne hom op Elandsfontein begrawe. In ooreenstemming met die held se wens, is hy op 10 Maart 1903 op Eikenhof (naby Johannesburg) langs sy verloofde naby die hoofweg begrawe.

In die hart van sy volk het Danie Theron egter nooit gesterf nie. In 1907 is ‘n waardige gedenkteken by sy graf opgerig. Skole op Eikenhof, Carletonville en die Krygskool op Kimberley dra sy naam. ‘n Indrukwekkende monument, met die koper-vryheidsvlam hoog in die lug, is op Theronskop, waar hy gesneuwel het naby die hoofweg tussen Johannesburg en Potchefstroom op 5 September 1950 onthul, en due hulde aan sy korps is saamgevat in ‘n gedig deur Jack Hindon, vertaal deur F.W. Reitz, waarvan die slotfrase lui:
Zijn naam en gedachten, die houden wij in eer,
Want een dapperder sien wij zoo nimmermeer.