1900: PAUL KRUGER LANDUIT DEUR LOURENCO MARQUES

KULTUURDAGBOEK 11 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op 29 Mei 1900 het Paul Kruger in die ampswoning sy vrou, Gezina, vir die laaste keer gegroet. Dieselfde aand is hy per perdewa na Eerste Fabrieke, waar die trein na Oos-Transvaal gehaal is. Die geselskap wou moontlike onsmaaklikhede op die Pretoriase stasie vermy – daarom die reëling.

Na ‘n kort verblyf op Machadodorp is Kruger na Waterval-Onder, want die koue klimaat het sy neerslagtigheid, verswakte oë en gesondheid verder aangetas. Teen vroeg-Junie het hy weer moed begin skep en sy burgers tot die stryd aangemoedig.

In Augustus het hy en pres. Steyn by Waterval-Onder die verswakkende situasie bespreek. Digby Dalmanutha het Louis Botha ‘n laaste stelling geveg teen die Britte gevoer. Voortaan sou ‘n guerrilla-stryd word. Op 28 Augustus het Kruger en Steyn na Nelspruit verhuis, maar op 3 September het Kruger lord Roberts se proklamasie dat die ZAR Britse gebied is, volledig verwerp. Nogtans is besluit dat Kruger, wat oud was en swaar beweeg het, ter wille van die Boere-eer nie in die vyand se hande moet val nie. Daarby moes hy die Boeresaak in Europa gaan stel. Hy het dus nie gevlug nie, maar ‘n opdrag gaan uitvoer en ‘n oogoperasie ondergaan. By Hectorspruit het hy en Steyn mekaar gegroet. Op 11 September 1900 het Kruger by Komatipoort die grens na Lourenco Marques (Maputo) oorgesteek. Hy sou nooit weer op vaderlandse bodem loop nie.