1900: PRESIDENT KRUGER EN KONINGIN WILHELMINA

KULTUURGDAGBOEK 12 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Koningin Wilhelmina van die Nederlande het die goedgesindheid van haar land teenoor die Boererepublieke gedemonstreer toe sy op 13 September 1900 gemagtig het dat die pantserskip Gelderland ter beskikking van Pres. Kruger en sy geselskap vir hul reis na Europa gestel word.
Op 20 Oktober het die Staatspresident in Delagoabaai aan boord van die Gelderland na Marseille vertrek. By sy aankoms in Den Haag het die voorsitters van albei Kamers van die Staten-Generaal op 7 Desember hom ‘n verwelkomingsadres aangebied, en die volgende dag het die Koningin die President ontvang. In haar briefwisseling met koningin Victoria het Wilhelmina haar beywer vir die beëindiging van die militêre optrede van Brittanje teen die Boererepublieke.

In 1901 het Abraham Kuyper eerste minister van Nederland geword, en daar word beweer sy indirekte bemiddeling het aanleiding gegee tot onderhandelinge wat later tot die Vrede van Vereeniging gelei het. In ‘n diplomatieke nota aan Brittanje het die Nederlandse regering aangebied om as bemiddelaar op te tree, ten einde die oorlog te beëindig. Die nota is, saam met die Britse antwoord daarop, aan lord Kitchener gestuur, wat dit op sy beurt sonder enige kommentaar aan waarnemende staatspresident S.W. Burger oorgemaak het.
Laasgenoemde het, met die oog op moontlike vredesonderhandelinge, met die Britse militêre aanvoerders in verbinding getree. Dit was die begin van die onderhandelinge wat tot vrede gelei het. Kuyper, wat in Nederland aan die spits gestaan het van die Pro-Boere beweging, se geskrif De Crisis in Zuid-Afrika (1900) het baie daartoe bygedra om mense in Europa beter in te lig oor die hele agtergrond van die gebeurtenisse in Suid-Afrika. Ook in die Nederlandse koerante van daardie tyd het reëlmatig artikels verskyn, onder meer van Charles Boissevain.
In twee ope briewe wat in die Handelsblad gepubliseer en aan die hertog van Devonshire en “an American Lady” gerig is, het hy ‘n hartstogtelike pleidooi gelewer vir die reg van die Boere. Ook Nederlandse digters soos Verwey en Van Eeden het in verse uiting gegee aan hul meegevoel met die stamverwante volk in die verre Suiderland. L. Penning, direk verbind met Suid-Afrika deur familiebande, het ‘n reeks boeke oor die Engelse Oorlog laat verskyn, waaronder De oorlog in Zuid-Afrika (1899 tot 1900) en Verdedigers en Verdrukkers den Afrikaansche Vrijheid (1902). Laasgenoemde werk, ryklik geïllustreer, het lewensketse bevat van verskeie Boerefigure en Britse bevelvoerders wat ‘n prominente rol in die oorlog gespeel het. Dit was egter verhale wat direk op die stryd betrekking gehad het soos De Leeuw van Modderspruit (1899), De held van Spionkop (1902) en De Verkenner van Christian de Wet (1902), wat veral die verbeelding van die Nederlandse jeug gepak het.
In 1899 het twee foto dokumentêre geskrifte van J. Kolstee verskyn, naamlik Transvaal-album en De Oorlog in Zuid-Africa, terwyl W. van Everdingen drie lywige dele van De Oorlog in Zuid-Afrika (1902, 1905, 1915) gepubliseer het. Kort na die oorlog het ‘n uitgebreide gedokumenteerde Gedenkboek van den Oorlog in Zuid-Afrika (1904) deur W.F. Andriessen, hoofredakteur van die goedgesinde De Telegraaf verskyn, waarin hy op ‘n objektiewe wyse aangetoon het wat daar in Nederland vir die Boererepublieke gedoen is.