1795: KAAP DEUR ENGELAND INGENEEM

KULTUURDAGBOEK 14 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Na hulle maklike oorwinning by Muizenberg op 7 Augustus 1795, hoofsaaklik vanweë die lafhartige optrede van lt.-kol C.M.W. de Lille en ‘n aantal van sy gereelde soldate, het genl. J.H. Craig op 14 September 1795 die Kaap weer aangeval en dit sonder slag of stoot verower. Op 15 September is ‘n wapenstilstand met die oog op onderhandelings toegestaan, en op 16 September 1795 is ‘n ooreenkoms gesluit, wat onder meer die terugsending van die Nederlandse soldate, die behoud van die Vryburgers se regte, ensovoorts, bepaal het. Roemloos was die wyse waarop die Kaapse volksplanting in die hande van Brittanje oorgegaan het.

Brittanje het die strategiese en kulturele imperialistiese waarde van die Kaap as permanente Britse gebied ingesien. Daarom is die hele samelewing deeglik van Britse militêre mag, Britse seevaart en handel en Britse kultuur bewus gemaak. Dink maar aan die teaterlewe en lady Anne Barnard se deftige sosiale byeenkomste, die skending van die kapitulasievoorwaardes, die erns waarmee blanke burgerlike opstandigheid met geweld onderdruk is, die vestiging van perdewedrenklubs en van ‘n Britstalige eerste Kaapse koerant. Daarby is knaend gedagtes uitgespreek of proeflopies op talle terreine gedoen wat op Britse beheer van die Kaap in die toekoms gedui het.

Die Britse Sending ywer het dadelik ‘n politieke inslag verraai, en die Hollandse Kerk het bepaald sy leiersplek in die samelewing aangetas gesien. Basies was die Britse bewind ook meer oor die “lot” van die inboorlinge begaan as oor die ontwikkeling van die totale samelewing, en hiermee is ‘n inmengingsgeleentheid deur die Britte geskep wat tot vandag toe nie geëindig het nie. Kortom, toe die geringste onrus in 1805 weer in Europa die kop uitgesteek het, het Brittanje in Januarie 1806 die Kaap militêr verower, andersins onmiddellik opgetree en verandering ingevoer wat sy permanente beheervoorneme bewys het.

Met die Kongres van Wenen is die Kaap in 1815 amptelik aan Brittanje toegesê, en in 1820 het 4 000 Britse setlaars as Londense beleid van totale verowering van die Kaap hier geland.