MW PRETORIUS, STAATS- PRESIDENT ZAR 1860

KULTUURDAGBOEK 17 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Marthinus Wessel Pretorius is op Pretorius kloof, distrik Graaf-Reinet, as die oudste seun van A.W.J. (Andries) Pretorius op hierdie dag in 1819 gebore. As Voortrekker vergesel hy sy vader na Natal en neem hy ook aan die Slag by Bloedrivier deel. In 1848 vestig hy hom in die Magaliesberg, en in 1853 volg hy sy vader op as kommandant-generaal vir Potchefstroom en Rustenburg. Hoewel hy nie oor die leierseienskappe van sy vader beskik nie, speel hy ‘n belangrike rol in die vroeë geskiedenis van Transvaal.

Deur sy toedoen is ‘n grondwet in 1856 opgestel, maar na vele onenigheid is hy eers in 1860 as Staatspresident van die ZAR beëdig

. Intussen het hy op ondiplomatieke wyse die OVS by die ZAR probeer inlyf en byna burgeroorlog veroorsaak. In 1859 word hy ook tot Staatspresident van die OVS verkies, maar hy word verplig om sy Transvaalse amp neer te lê. Na vier jaar keer hy terug na die ZAR en word tot Staatspresident herkies.

In die Transvaal moes hy aan vele interne vraagstukke aandag gee, maar as gevolg van sy swak hantering van die Transvaalse aanspraak op die Diamantvelde en die verlies van die gebied, word hy in 1871 verplig om te bedank. Enkele jare het M.W. Pretorius uit die politieke gedrang verdwyn, maar met die Britse anneksasie van die ZAR in 1877 het hy as volksleier, onder ander met Paul Kruger en Piet Joubert, as lid van die Driemanskap, weer sterk na vore getree.

Na die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880) tot 1881) het hy sy aandag aan sy boerdery op Potchefstroom gewy. Die laaste jare van die ZAR se bestaan word hy, waarskynlik ter erkenning vir sy diens aan die Republiek, tot waarnemende geskiedskrywer benoem. Daarvoor ontvang hy £300 (R600) per jaar. Hy het daarin geslaag om heelwat waardevolle stukke te versamel, maar vanweë die Tweede Vryheidsoorlog het weinig daarvan bewaar gebly.

Op ‘n koue nag in Mei 1901 word hy deur twee Britse soldate uit sy slaap gewek en op die stoep van die woning ondervra. Hierdie twee uur lange ondervraging in die koue was vir die gestel van die 81-jarige oud-president te veel en nadat hy reeds die volgende dag siek geword het, sterf hy op 19 Mei 1901 op Potchefstroom.