23 SEPTEMBER 1869: GENL CF BEYERS, REGSMAN TOT QUERRILLA-VEGTER

KULTUURDAGBOEK 23 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Christiaan Frederik Beyers is op hierdie dag op Banhoek, Stellenbosch, gebore en het ook skool- en tersiêre onderrig op Stellenbosch ondergaan voordat hy met sy eie prokureurspraktyk op Boksburg begin het.

As kryger in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 trek hy met sy onverskrokkenheid en kragtige persoonlikheid gou die aandag van kmdt-genl Louis Botha en word hy op 3 September 1900 as assistent-generaal in die distrikte Waterberg en Soutpansberg aangestel.  Hy onderskei hom in die querrilla-taktiek.

 Genl CF Beyers was 'n opregte Christen na wie die volk opgesien het, veral in 1914. Hulle het gewag om te sien wat hy gaan doen en hom dan gevolg, 'n groot leier in eie reg.

Op 15 April 1902 word hy met die oog op vredesamesprekinge na Vereeniging ontbied, Beyers word tot voorsitter van die vergadering van Boere-afgevaardiges verkies.

Ná die oorlog keer hy terug na sy regspraktyk, dié keer in Pretoria. Hy word lid van die hoofkomitee van die Het-Volk-party. maar neem standpunt in teen genl Botha en Smuts se versoeningsbeleid. Genl Botha neem hom nie in sy Transvaalse kabinet op nie maar hy word tot Speaker van die Wetgewende Vergadering verkies.

Met die Juniewording is hy weer Volksraadslid, en bly hy dit tot 1 Julie 1912 toe hy die eerste kommandant-generaal van die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag word.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is genl Beyers gekant teen die regeringsbesluit om op versoek van die Britse regering Duits-Suidwes-Afrika binne te val, en dit lei tot sy bedanking as kommandant-generaal op 15 September 1914. Hy het self op 9 Oktober daadwerklik begin rebelleer, hoewel hy vroeër in noue voeling met die rebelle was – hy het genl Koos de la Rey vergesel op die rit waarop genl De la Rey in Langlaagte, Johannesburg, deur die polisie doodgeskiet is in 'n sogenaamde ongeluk terwyl almal geweet het dat dit so beplan was.

Beyers se rebellemag het verskeie terugslae ervaar, en in 'n omsingelingsaksie deur die regeringsmagte by die Vaalrivier in die distrik Makwassie was gevangeneming onafwendbaar. Hy en een van sy manne, Jan Pieterse, probeer op 8 Desember 1914 deur die rivier vlug. Jan Pieterse, 'n Vrystater van Bothaville, verdrink waarna die generaal na die Vrystaatse kant terugswem.  Nadat ds Boshoff namens die rebelle die teken van oorgawe aangedui het, het die skietery opgehou. Tog, toe genl Beyers uit die water wou klim, het daar verraderlik nog 'n skoot geval en hy het plotseling weggesink om nie weer lewend te verskyn nie - sy lyk is eers twee dae later onder die waters van die Vaalrivier gevind. Nog 'n leuen net soos met die dood van genl De la Rey het hier gevolg toe daar na 'n kwansuise deeglike lykskouing deur dr Grünberger verklaar is dat die generaal nie getref was nie – dit terwyl daar nie 'n enkele patroon uit sy bandelier ontbreek het nie omdat hy dit nie kon regkry om op sy volksgenote te skiet nie – maar hulle het hom wel vermoor.