26 SEPTEMBER 1950: SASOL GEREGISTREER

KULTUURDAGBOEK 26 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Suid-Afrikaanse Steenkool, Olie- en Gaskorporasie Beperk, bekend as Sasol, is op 26 September 1950 as maatskappy geregistreer. Aangestel in die eerste direksie was FJ du Toit as voorsitter en PE Rousseau as besturende direkteur. Die geskikste plek vir die oprigting van die fabriek was die noordoostelike hoek van die Vrystaat, waar 'n groot steenkoolveld geleë is, en naby die Vaalrivier wat as waterbron dien. Die nabygeleë Witwatersrand as die land se belangrikste afsetgebied vir Sasol se produkte, was 'n verdere voordeel.

Konstruksie het geduur van 1951 tot 1955, en aan die einde van daardie jaar is die eerste "bloupomp" – of Sasolpetrol geproduseer.

Die Sasol-proses bestaan daaruit dat steenkool in teenwoordigheid van suurstof en stoom vergas word. Die ru-gas word gesuiwer en ondergaan daarna die Fischer-Tropsch-sinteseproses waaruit vloeibare petroleum- en petro-chemiese produkte verkry word. Sasol verskaf ook industriële gas aan die nabygeleë Witwatersrandgebied.

Waar eerstydse landbougebied was het die dorp Sasolburg ontstaan, en verskeie ander nywerhede wat hulle grondstowwe van Sasol aankoop en die ru-olieraffinadery Natref, waarin Sasol die beherende aandeel besit in vennootskap met die Franse Total-maatskappy en die Nasionale Oliemaatskappy van Iran (NIOC).

Op 5 Desember 1974 is die oprigting van 'n tweede Sasol aangekondig. Sedertdien het die dorp Secunda op die Oos-Transvaalse hoëveld verrys.

In 1974 is beraam dat Sasol in 1980 sowat 30% van die verwagte vraag na motorbrandstowwe sou voorsien.

Gedurende die middel negentigerjare het Sasol ander gas- en steenkool-organisasies genader om gesamentlike maatskappye te vorm; Sasol besit nou 'n groot aandeel in die Oryx GTL aanleg in Qatar, wat in 2007 tot stand gekom het.

In 2001 het Sasol ook deel geword van die chemiese organisasie Condea wat hoofsaaklik in Europa en Amerika fuksioneer.

In 1992, 1993 en 1994 was Sasol die groot borg van die Jordan Grand Prix en die Formule Een Wêreldkampioenskap.

Sasol was ook 'n keer die borg van die Springbokke se truie en is steeds die borg vir Sasol Tigers Aerobatic, die span wat die Aero L-29 Delfin vlieg.

In 1979 was Sasol ook 'n borg van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes en het hulle hierdie stigting vir baie jare bly borg.