1960: REFERENDUM OOR REPUBLIEK- WORDING

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 5 OKTOBER

"Kort daarna op 9 April 1960, is 'n sluipmoordaanval op dr Verwoerd gedoen maar hy het wonderbaarlik herstel en die stryd om 'n republiek voortgesit."

Die Naionale Party het in 1936 vir die eerste keer in sy program van beginsels voorsiening gemaak vir die beliggaming van die republikeinse ideaal en daardeur 'n republikeinse party geword. Hierdie party het in 1948 aan bewind gekom.

Die status van die Unie het onder die agtereenvolgende leiding van dr DF Malan, adv JG Strijdom en dr HF Verwoerd tussen 1948 en 1960 stelselmatig in die rigting van 'n republiek verander. Teen 1960 was al die belangrikste simbole van 'n komende republiek reeds ingevoer, en is die grondslag gelê vir één trou aan Suid-Afrika, één burgerskap, één vlag en één volkslied.

Op 20 Januarie 1960 het dr Verwoerd in die Volksraad aangekondig dat daar 'n referendum oor die verkryging van die Republiek van Suid-Afrika gehou sal word.

Aan Regeringskant is die aankondiging met geesdrif ontvang, terwyl daar verwarring in opposisiegeledere geheers het. Kort daarna op 9 April 1960, is 'n sluipmoordaanval op dr Verwoerd gedoen maar hy het wonderbaarlik herstel en die stryd om 'n republiek voortgesit.

Op 3 Augustus 1960 het hy in Pretoria aangekondig dat die volkstemming op 5 Oktober 1960 gaan plaasvind. Nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika is daar op so 'n breë terrein 'n verkiesingsveldtog gevoer soos die een wat die volkstemming oor 'n republiek voorafgegaan het nie.

Uiteindelik het die groot dag, 5 Oktober 1960 aangebreek. Toe die eerste verkiesingsuitslae begin instroom was dit duidelik dat die Republiek 'n werklikheid sou word – selfs al was die monargiste in een stadium met 150 000 stemme voor. Die uitslag van Welkom in die Oranje-Vrystaat het egter die agterstand uitgewis. Die opwindende en geskiedkundige referendum het ten einde geloop met 'n oorwinning vir die republikeine. Die uitslag was:

Republikeine 850 458
Monargiste 775 878

Dit het beteken die meerderheid stemme was ten gunste van die Republiek – 74 580. Altesaam 1 633 872 van die totaal van 1 800 748 geregistreerde kiesers het gestem en daar was 7 436 bedorwe stembriefies.

Hoewel die bedoeling was om 'n republiek binne die Statebond te verwesenlik, is dit anders beskik en het dr Verwoerd sy aansoek om lidmaatskap op die konferensie van Statebondspremiers in Maart 1961 in Londen teruggetrek. Die Republiek van Suid-Afrika het op 31 Mei 1961 tot stand gekom. Vir menige Afrikaner was dit die bereiking van 'n lank gekoesterde ideaal, 'n dag van groot vervulling en vreugde, feesvieringe en vooruitsigte.