1844: PRES FW REITZ

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 5 OKTOBER

Dit was hierdie talentvolle Swellendammer, op hierdie dag gebore, beskore om sy volk in 'n groter verskeidenheid van hoë ampte in die openbare lewe te dien as enige ander Suid-Afrikaner: regsgeleerde in die Kaapkolonie in 1868 – 1874; eerste hoofregter in 1874 – 1888; en vyfde Staatspresident in 1889 – 1895 van die OVS Republiek; regter en staatsekretaris van die ZAR in 1998 – 1902, en President van die eerste Senaat in 1910 – 1920 na die Uniewording.

Ook as kultuurleier het hy onskatbare dienste gelewer. Reeds in 1870 begin hy met "Kaapsch-Hollandsch" eksperimenteer en lewer hy sy eerste bydraes in 'n taal wat tydens sy eie lewe tot volkstaal sou ontwikkel. In 1888 verskyn sy Twee en Sestig uitgesogte Afrikaanse gedigte wat sterk weerklank by die volk gevind het as gevolg van die gemoedelike volkshumor wat daarin weergegee word.

Hy was 'n dinamiese ondersteuner van die Afrikanerbond – toe nog 'n suiwer volksorganisasie – wat heftig gekritiseer is deur Engelsgesindes weens die vrees van die potensiële krag daarvan in Afrikanergeledere. Oortuig van die suiwerheid van sy politieke en kulturele beginsels, het hy alle opposisie getrotseer en 'n voorwaartse republikeinse beleid gevolg. Hy was in murg en been 'n demokraat, het die groot Suid-Afirkaanse vraagstukke met idealisme aangepak en was onvermoeid in sy pogings om nouer samewerking tussen die Suid-Afrikaanse state te verkry.

Met die ontberings van die Tweede Vryheidsoorlog was Reitz se moed, geloof en blymoedigheid 'n inspirasie vir sy volk, en sy oorlogsversies is wyd en syd gelees. In die Senaat het hy rondborstig erken dat hy in murg en bloed 'n republikein is. Hierdie openhartige standpunt, wat lynreg teenoor die beleidsrigting van die Smuts-regering gestaan het, het daartoe gelei dat hy nie weer in 1920 tot President van die Senaat verkies is nie.

Tot aan die einde van sy lewe is hy met die hoogste agting en liefde deur sy volk bejeën. Hy is op 27 Maart 1934 in Kaapstad oorlede.